Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Swanger Vrou" deur Ingrid Jonker
"Swanger Vrou" deur Ingrid Jonker [boodskap #153644] Ma., 23 November 2026 17:08
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 560
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Swanger Vrou - Ingrid Jonker

Ek lê onder die kors van die nag singend,
opgekrul in die riool, singend,
en my nageslag lê in die water.

Ek speel ek is kind:
appelliefies, appelliefies en heide,
koekmakrankas, anys,
en die paddavis gly
in die slym in die stroom,
in my liggaam
my skuimwit gestalte;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.

Nòg singend vliesrooi ons bloedlied,
ek en my gister,
my gister hang onder my hart,
my kalkoentjie, my wiegende wêreld,
en my hart wat sing soos ‘n besie,
my besie-hart sing soos ‘n besie;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.

Ek speel ek is bly:
kyk wáár spat die vuurvlieg!
die maanskyf, ‘n nat snoet wat beef –
maar met die môre, die hinkende vroedvrou
koulik en grys op die skuiwende heuwels,
stoot ek jou uit deur die kors in die daglig,
o treurende uil, groot uil van die daglig,
los van my skoot maar besmeer
met my trane besmeer
en besmet met verdriet.

Riool o riool,
ek lê bewend singend,
hoe anders as bewend
met my nageslag onder jou water … ?
Vorige onderwerp: "Puberteit" deur Ingrid Jonker
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma. Nov. 23 18:06:27 UTC 2026