Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Bedrog-nes in staat
Bedrog-nes in staat [boodskap #119784] Sa, 11 September 2010 19:56
Daun Johnson  is tans af-lyn  Daun Johnson
Boodskappe: 1155
Geregistreer: Januarie 2009
Karma: 0
Senior Lid
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Bedrog-nes-in-staat-20 100910

Bedrog-nes in staat
2010-09-10 21:17

Jacques Pauw

Meer as 900 mense in diens van die polisie is aan bedrog skuldig
bevind nadat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) hulle betrap het dat
hulle welsyntoelaes van die staat gesteel het.

Dié mense sluit polisiebeamptes sowel as burgerlikes in diens van die
polisie in.

Die SOE gaan glo nóg honderde laat aankla weens soortgelyke bedrog.

Nie 'n enkele van die mense wat al skuldig bevind is, is geskors of
afgedank nie.

'n Polisiewoordvoerder sê sowat 'n derde is tugverhoor en óf
skriftelik gewaarsku óf hul afdankings is met ses maande opgeskort.

Hulle is onder die sowat 15 000 staatsamptenare wat tot dusver aan
bedrog skuldig bevind is in die SOE se ondersoek na staatsamptenare
wat onwettig welsyntoelaes ontvang.

Die amptenare het pleitooreenkomste met die nasionale vervolgingsgesag
(NVG) aangegaan en skuld beken op aanklagte van bedrog.

Hulle het opgeskorte vonnisse gekry en moet die geld wat hulle gesteel
het met rente aan die staat terugbetaal.

Die SOE - 'n onafhanklike agentskap wat korrupsie en wanbestuur in die
staatsdiens ondersoek - het reeds 96 000 staatsamptenare
geïdentifiseer wat welsyntoelaes van die staat gesteel het.

Nog 80 000 amptenare kan van bedrog aangekla word.

Adv. Willie Hofmeyr, hoof van die SOE, het bevestig dat sy eenheid 945
tugsake aan die polisie oorhandig het.

Bykans 10 000 ander sake is aan nasionale en provinsiale
staatsdepartemente landwyd oorhandig.

Volgens kol. Vishnu Naidoo, 'n woordvoerder van die polisie, is die
SAPD net bewus van sowat 350 mense in sy diens wat bedrog gepleeg het.

Hul tugverhore is afgehandel, hulle is gewaarsku en hulle werk steeds
vir die polisie.

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudie
(ISS), het gesê dit is "ontstellend" as polisiebeamptes wat bedrog
gepleeg het, toegelaat word om in die diens te bly.

"Dit was nog altyd die norm dat polisiebeamptes wat aan bedrog skuldig
bevind is of gesteel het nie geskik is om in die polisie te dien nie.

Dit lyk asof daar intussen 'n verdraagsaamheid vir korrupsie ingesluip
het.

"Hoe kan jy sê jy's ernstig om korrupsie uit te roei, maar jy laat
korrupte amptenare toe om hul werk te behou?" wou Burger weet.

Die veroordeelde staatsamptenare het onder meer
kinderonderhoudstoelaes, pleegsorgtoelaes en ouderdomspensioene gekry
waarop hulle nie geregtig was nie.

Hofmeyr het gesê die ondersoek na onwettige welsyntoelaes is nog net
op nasionale en provinsiale regeringsvlak gedoen.

Die ondersoek moet nog uitgebrei word na munisipale amptenare en dán
kan die syfer van 96 000 aansienlik groei.

Beeld het 23 provinsiale en nasionale departemente gevra of hulle
tugverhore vir amptenare gehou het wat skuldig bevind is.

Behalwe die polisie het geen ander nasionale departement navrae
beantwoord nie.

'n Woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement - waar 274
amptenare skuldig bevind is - het gesê hy "sukkel" om die inligting te
kry en ondersoekverslae is vertroulik.

Hofmeyr het gesê die SOE is besig met "baie sensitiewe" ondersoeke na
amptenare wat betrokke is by bedrog met ongeskiktheidstoelaes.

Baie meer geld is betrokke as by gewone bedrog met welsyntoelaes.

Misdaadsindikate en korrupte dokters is betrokke.

Die SOE ondersoek ook behuisingsbedrog waarby R2 miljard betrokke.

Meer as R40 miljoen is al teruggewin en die polisie het 1 910
amptenare in hegtenis geneem.

Hofmeyr het erken toe die SOE getaak is om korrupsie in die
staatsdiens te ondersoek, hy nie dié hoë syfers verwag het nie.

"Korrupsie is werklik baie, baie ernstig en as ons nie nou daarmee
handel nie, gaan dit nog erger word. Tronkstraf is 'n goeie
afskrikmiddel."

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Bedrog-nes-in-staat-20 100910
Vorige onderwerp: 50% van alle misdaad in Gauteng gepleeg
Volgende onderwerp: Polisieman op die vingers getik ná korrupsie
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 20 06:41:53 MGT 2024