Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Rowers slaan baba erg
Rowers slaan baba erg [boodskap #119623] Vr, 23 April 2010 17:28
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Rowers slaan baba erg

Polisiebeamptes gister by die huis waar ’n baba en haar oppasser in
Johannesburg erg deur rowers aangerand is.Foto: Lauren Mulligan

2010-04-22 21:55
André Damons en Magdel Fourie

’n Jaar oue baba veg om haar lewe nadat rowers haar en haar oppasser
so erg in haar ouerhuis in Robindale, Randburg, aangerand het dat sy
opgehou asemhaal het.

Die aanvallers het die oppasser, in haar 30’s, na bewering in die
voorhuis van die huis in Rooseveltstraat oorval.

Hulle het haar erg aangerand voordat hulle die baba, Marizaan Kruger,
ook getakel het.

Beeld het verneem die meisietjie het veelvuldige skedelbreuke
opgedoen.

Volgens me. Vanessa Jackson, ER24-woordvoerder, het die vrou verskeie
oop wonde aan die kop gehad en die baba talle wonde oor die lyf.

“Die vrou en die baba het verskriklik baie gebloei. Die vrou het bloed
aan die kop, arms en hande gehad, maar die baba was meer kritiek,” het
sy gesê.

Hulle was alleen tuis toe die mans toegeslaan het.

Me. Madelein Kruger, die baba se ma, het die grusame ontdekking gemaak
toe sy omstreeks 13:00 van die werk af tuisgekom het.

Toe sy die deur oopmaak, het sy net bloed gesien en die huiswerker
vasgebind gekry. Sy was bewusteloos.

Dit is nie bekend waar in die huis die baba was nie.

Volgens lt.kol. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, is dit onbekend
hoeveel aanvallers daar was en hoe hulle toegang tot die huis verkry
het.

Hy kon ook nie sê waarmee hulle aangerand is nie.

Me. Olga Rossouw, wat oorkant die Kruger-gesin woon, het aan Beeld
vertel Kruger het kort ná 13:00 by háár huis ingehardloop met die
bebloede, pap babatjie in haar arms.

“Ollie, Ollie, wat moet ek doén,” het sy huilend aan Rossouw
geskreeu.

Die kind het nie asemgehaal nie en sy het ’n groot wond bokant die
regteroog gehad.

Rossouw het die noodknoppie gedruk wat aan Piranha Security, ’n
plaaslike veiligheidsmaatskappy, verbind is.

Enkele minute later het hul nooddienswerkers op die toneel aangekom en
onmiddellik die baba geresussiteer, het sy vertel.

Mnr. Allan Stott, besturende direkteur van Piranha Security, het gesê
nadat die baba weer begin asemhaal het, het hulle haar in ’n
noodvoertuig gelaai en na die hospitaal gehaas.

“Op pad soontoe het sy twee keer opgehou asemhaal en moes hulle haar
telkens weer resussiteer,” het Rossouw vertel.

“Wie sal so iets doen aan ’n klein, weerlose ou babatjie?”

ER24 het die oppasser daarna na ’n ander hospitaal geneem vir
behandeling. Haar identiteit kon teen druktyd nie vasgestel word nie.

Opperman het die aanvallers as “lafaards” uitgekryt.

“Net lafaards val vroue en eenjarige babas aan. Dis hoekom ons alles
gaan omkrap wat omgekrap moet word om dié lafaards te kry,” het
Opperman gesê.

Beeld het verneem me. Kruger is so erg geskok dat sy nie met die
polisie kon praat nie. Sy is later ook hospitaal toe.

Sover bekend, word slegs ’n skootrekenaar en modem uit die huis
vermis.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/zavu9p )
Vorige onderwerp: Plaasmense veg in voorste linie van oorlog
Volgende onderwerp: Staat vra dat 2 wat doodskiet lewenslank kry
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 11:26:45 MGT 2024