Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Hulle praat Afrikaans
Hulle praat Afrikaans [boodskap #116453] Sa, 01 Maart 2008 13:28
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Vensters gebreek om inwoners uit te dryf
Mar 01 2008 01:20:37:997AM - (SA)

Virginia Keppler

"Ons gaan al die k*****s se vensters breek," het 'n groep mense
eergister om middernag geskreeu toe hulle sewe huise in die noordweste
van Pretoria se vensters stukkend gegooi het.

Mnr. Sipho Ntandane (45) van die woonbuurt Lady Selbourne, wie se
vensters ook in die slag gebly het, het gister gesê hul aanvallers het
in 'n paar motors daar opgedaag en inwoners uitgejou terwyl hulle die
vensters stukkend geslaan het.

Ntandane beweer 'n klein groepie jong mense van Suiderberg en Mountain
View, wat aan Lady Selbourne grens, wat nie hul (swart inwoners se)
teenwoordigheid in die woonbuurt goedkeur nie, is vir die aanval
verantwoordelik.

Lady Selbourne was sowat 44 jaar gelede 'n buurt waar swart mense,
bruin mense en Asiate saam gewoon het.

Nadat die Groepsgebiedewet ingestel is, is die mense na onder meer
Mamelodi en Eersterust verskuif.

Lady Selbourne was destyds die enigste woongebied in Pretoria waar
sogenaamde nie-blankes volle eiendomsreg gehad het. Dié gebied is in
1984 as 'n woongebied vir wit mense geproklameer maar ná 1994 het die
oorspronklike grondeienaars en hul nasate grondeise in Lady Selbourne
aanhangig gemaak.

In 2005 het die Tshwane-metroraad bouplanne oorhandig aan dié mense
wat in hul eise geslaag het. Van die 105 grondeise wat in dié gebied
ingestel is, is 102 afgehandel en die eiendomme is aan die nuwe
eienaars oorgedra.

Ntandane het gesê mense uit die aangrensende woonbuurte het voorheen
ook hul vullis in Lady Selbourne kom weggooi. "Kinders kom jaag ook
Sondae met hul kwadmotorfietse in ons strate.

"Die vullisstorting is byna heeltemal gestop, maar die kinders met hul
kwadfietse is nog hier. Elke Sondag moet ons eers die polisie bel
voordat hulle wegjaag."

Mnr. Tim Robertson van die Hercules-sektorpolisieforum, het die
voorval veroordeel en gesê hulle is baie teleurgesteld in die jong
mense se optrede.

"Ons werk hard saam met die inwoners van Suiderberg, Lady Selbourne en
Mountain View om die gemeenskappe veilig te hou en ons sal nie dié
soort optrede duld nie.

"Ons gaan nou met die polisie saamwerk om meer sigbaar te wees in Lady
Selbourne. Almal moet leer om saam met mekaar te leef. Dié mense gaan
nêrens nie," het Robertson gesê.

Kapt. Fana Khumalo, polisiewoordvoerder, het verskeie sake van
opsetlike saakbeskadiging bevestig.
Vorige onderwerp: Reaksie uit New Zealand
Volgende onderwerp: Hy praat Afrikaans
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 01 07:08:27 MGT 2024