Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Afrikaans, Oorsprong en ontwikkeling van
Afrikaans, Oorsprong en ontwikkeling van [boodskap #120907] Sa, 10 November 2018 15:49
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
AFRIKAANS is die jongste lid van die Germaanse taalgroep en net soos Nederlands, Engels en Fries is dit Wes-Germaans. Dit het sy oorsprong in die Nederlandse dialekte van die 17de eeu en het gedurende die bewind van 'n eeu en 'n half van die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap ontwikkel tot 'n afsonderlike taal.

Hierdie ewolusie binne so 'n betreklike kort tyd het groot belangstelling onder filoloë gewek, en die teorieë oor die oorsprong van Afrikaans grootliks. As gevolg van die afwesigheid van geskrewe dokumente is hierdie teorieë hoofsaaklik gegrond op onregstreekse getuienis, soos historiese feite en verwysings in reisbeskrywings na die taal wat gepraat is in plattelandse distrikte.

'n Belangrike feit wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat Nederland met die stigting aan die Kaap geen eenvormige geskrewe of gesproke taal gehad het nie, en dat die Nederlandse koloniste verskillende dialekte gepraat het. Die Franse Hugenote wat in 1688 by die Kaap aangekom het, is in 1691 gevolg deur baie Duitse setlaars.

Die Nederlanders het ook in aanraking gekom met die tale van die Hottentotte, die slawe uit Angola, Guineë, Madagaskar en Maleia, en die gebroke Portugees van die Oosterse slawe. Afgesien van die woordeskat is daar egter feitlik geen spoor van 'n regstreekse invloed deur 'n ander taal op Afrikaans nie, en bly Nederlands die oorheersende taal wat binne afsienbare tyd deur al die setlaars aanvaar is.

Sommige mense meen dat die ewolusie spontaan was, en dat dit versnel is deur die vermenging van dialekte, die afgeleënheid van die vaderland en die feitlike algehele afwesigheid van 'n behoudende invloed soos skole en letterkunde.

In hoofsaak kan die weglating van infleksies in Afrikaans net soos in Engels verduidelik word deur die vryelike werking van analogie en 'n paar klankwette of tendense wat in 'n mate reeds in die 17de eeuse Nederlands en Nederduitse dialekte aktief was. Die gebroke Hollands van die ander setlaars, wat die Nederlanders in getalle oortref het gedurende die grootste deel van die Kompanjie se bewind, het moontlik ook die taal van die Nederlandse koloniste verteenwoordig.

Daar word algemeen saamgestem dat Engels nie verantwoordelik is vir die oorsprong van Afrikaans nie aangesien die taal wat aan die Kaap gepraat is klaarblyklik sy gewysigde vorm aangeneem het voor die koms van die Engelse in 1795. Ten spyte van die 150 jaar van noue kontak sedertdien en die hoër status van Engels in baie jare in die administrasie, opvoeding en kultuur, het Engels weinig invloed op die grammatiese struktuur van Afrikaans gehad.

Hoewel die gewysigde vorm van Nederlands wat aan die einde van die 18de eeu veral deur die boere aan die Kaap gepraat is, nog nie Afrikaans in sy huidige vorm was nie, het dit reeds die vernaamste eienskappe van Afrikaans gedra, en in reisbeskrywings na 1800 vind ons dat daarna verwys word as Kaapse Hollands, Afrikaans-Hollands of 'Boeren-Hoilands'.

Ten spyte daarvan dat Afrikaans 'n dogtertaal van Nederlands is, is dit 'n suiwerder Germaanse taal. Min van die Franse woorde in Nederlands was bekend aan die eerste koloniste, en betreklik min woorde is geleen van ander tale waarmee dit in aanraking gekom het. Dit is opmerklik dat baie Afrikaanse woorde van Nederlandse oorsprong 'n verskillende betekenis ontwikkel het.

Die fonetiese verskille tussen Afrikaans en Nederlands is beperk tot 'n paar vokaalveranderings: sommige verander van stemhebbende tot stemlose medeklinkers, en die verkorting van woorde deur die verlies van 'n lettergreep of finale medeklinker.

Die kenmerkende eienskappe van Afrikaans is die vereenvoudiging van sy grammatiese struktuur. Sommige ondergeskikte adjektiewe word verbuig, terwyl naamwoorde verbuig word om die meervoud en verkleinwoord te vorm. Die werkwoord word nie verbuig om die verskil in aantal of persoon uit te druk nie, en bly onveranderd behalwe vir die voorvoegsel ge- wat die verlede deelwoord vorm. Die merkwaardigste kenmerk van die taal is dat die gereelde afwisseling van die vokaal van die werkwoord stam in die onvoltooide verlede tyd en die verlede deelwoord van sterk werkwoorde, wat kenmerkend van die Germaanse tale is, afgeskaf is in Afrikaans. Dit het in der waarheid die onvoltooid verlede tyd verwerp en druk die verlede uit deur middel van die
voltooid teenwoordige tyd of die teenwoordige tyd in samewerking met 'n bywoord of ander woord wat tyd, aspek of modaliteit uitdruk.

Afrikaans ken ook geen naamval of geslag nie, hoewel daar verskillende vorme vir die onderwerp en voorwerp is in die enkelvoud van die persoonlike voornaamwoorde. Verbuigings is gevolglik grootliks vervang deur 'n analitiese wyse van uitdrukking in Afrikaans, wat dan ook as 'n analitiese taal beskou word.

Hoewel Afrikaans in die 19de eeu reeds algemeen gepraat is, het Hollands nog die geskrewe en gesproke taal gebly. Afrikaans is eers as 'n geskrewe taal gebruik om 'n komiese of satiriese effek te verkry, byvoorbeeld deur Boniface en deur Bain en Rex in Kaatje Kekkelbek (1834). Na 1844 het briewe in Afrikaans begin verskyn in Het Kaapsche Grensblad, en in 1860 het L.H. Meurant 'n vlugskrif in Afrikaans gepubliseer in die Cradock News oor die kwessie van die afskeiding van die Oostelike Provinsie. Daarna het 'n stroom briewe en samesprake in verskeie nuusblaaie gevolg.

Geen poging is egter tot 1872 aangewend om enige regte te eis vir Afrikaans as 'n geskrewe taal nie, maar toe volg daar pleidooie om Afrikaans in die nuusblaaie. In 1875 word 'n vereniging bekend as Die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig om die gebruik van Afrikaans te bevorder en om sy erkenning te propageer. In 1876 word die eerste Afrikaanse nuusblad, bekend as Die Afrikaanse Patriot gepubliseer, wat tot 1904 verskyn het.

Van 1896 tot 1906 word nog 'n blad, Ons Klyntji, uitgegee. In 1876 verskyn 'n elementêre Afrikaanse grammatikaboek, in 1877 'n kort geskiedenisboek, in 1878 'n Afrikaanse spelboek en in 1902 die eerste Afrikaanse woordeboek, die Patriot Woordeboek. Proefvertalings van verskeie boeke van die Bybel het kort na 1889 verskyn.

Hoewel Afrikaans as 'n geskrewe taal al hoe gewilder geword het, was baie invloedryke Afrikaners sterk daarteen gekant en het hulle bepleit dat Hollands as die geskrewe en kultuurtaal behou moet word.

Die Tweede Vryheidsoorlog gee nuwe stukrag aan die taalbeweging en van 1905 af begin letterkundige werk in Afrikaans verskyn. Sedertdien het werk van aansienlike letterkundige gehalte verskyn, sommige van blywende verdienste.

In 1918 is die status van Afrikaans verhoog tot 'n amptelike taal van die Unie en in 1925 het dit Hollands vervang as een van die tale in die Parlement.

Op die gebied van die onderwys is Afrikaans in 1914 erken as 'n medium van onderrig in skole in drie van die provinsies van die Unie, en later is dit ook ingestel aan die universiteite.

In 1915 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die eerste Woordelys en Spelreëls gepubliseer om spelling te kontroleer. Dit is sedertdien verskeie keer hersien.

Teen 1919 is Afrikaans deur al die Nederduits Gereformeerde kerke erken as amptelike kerktaal, en in 1933 is 'n volledige vertaling van die Bybel in Afrikaans gepubliseer.

'n Standaard woordeboek van die Afrikaanse taal word tans met regeringsteun opgestel en vyf boekdele wat die letters, A tot K beslaan, is destyds gepubliseer.

Afrikaans ontwikkel ook vinnig in 'n tegniese taal en daar is 'n aantal lyste van tegniese terme gepubliseer deur die Akademie, staatsdepartemente en ander liggame. Tegniese werke in Afrikaans word nou ook uitgegee.

Opgestel deur J. Smuts, M.A., PH.D. (Kaapstad); Universiteit Rhodes, Grahamstad
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Afrikaanse Verbond Begrafnisonderneming Beperk
Volgende onderwerp: Afrika-Metalekorporasie Beperk
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Nov 23 09:44:38 MGT 2024