Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » staan
staan [boodskap #125486] Ma, 29 April 2019 15:30
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 19021
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
'n Japannese soldaat wat op aandag staan.
'n Japannese soldaat wat op aandag staan.
staan
Afbreking: staan
Uitspraak: /stɑːn/




Werkwoord: staan
Verlede tyd: het gestaan
Teenwoordige deelwoord: staande

Betekenis:
• Regop op die voete; met die lyf en bene reguit terwyl mens op die voete rus.
• Om in 'n vertikale posisie van rus te wees.
• Geskryf of gedruk wees.
• In 'n bepaalde posisie of plek wees.
• Voet by stuk hou; aan iets glo en daarvan oortuig wees.

Gebruik:
Staan op as ek met jou praat.
• Die paal staan agter teen die muur.
• Dit staan so in die Bybel.
• Dis die huis wat op die bult staan.
• Ek staan by my besluit.

Spreekwoord:
• Al staan jy op jou kop. [Al doen jy ook wat.]
• Dit kom hom duur te staan. [Daarvoor sal hy moet boet.]
• Dit staan jou vry. [Jy kan doen wat jy wil.]
• Dit staan my nie aan nie. [Ek hou nie daarvan nie.]
• Dit staan op sy voorkop geskryf. ['n Mens kan dit duidelik aan hom sien.]
• Dit staan soos 'n paal bo water. [Dit is beslis so; dit is heel duidelik.]
• Ek staan met die rug teen die muur. [Daar is geen uitkomkans.]
• Ek staan op vaste grond. [Seker van jou saak wees.]
• Ek wil nie graag in haar skoene staan nie. [Nie graag in haar posisie wees nie.]
• Hy is so gemaak en laat staan. [Hy kan hom nie anders voordoen as wat hy is nie.]
• Hy kan nie in sy skaduwee staan nie. [Nie sy gelyke wees nie.]
• Hy moet maar pa staan daarvoor. [Die egtheid en betroubaarheid van iets waarborg.]
• Hy staan sy man. [Dapper wees en wys wie jy is.]
• Jy moet jou man staan. [Vir niks bang wees nie; opgewasse wees teen.]
• Jy staan in jou eie son. [Jy belemmer jou eie kanse.]
• Met die mond vol tande staan. [Niks kan sê nie.]
• Met 'n bek vol tande staan. [Nie weet wat om te sê nie.]
• Skoonheid vergaan, maar deug bly staan. [Deug is meer blywend van aard as mooiheid.]
• Skouer aan skouer staan. [Saamstaan.]
• Sy hande staan vir niks verkeerd nie. [Hy kan alles doen.]
• Van gaan en staan kom niks gedaan. [Om iets uit te rig, moet daar gehandel word.]

Antoniem:
• sit
• lê

Vertaling:
Engels: to stand
Nederlands: staan

Nota:
• "Staan" word dikwels saam met ander werkwoorde gebruik: staan en praat, staan en lag, staan en gaap, staan en eet.

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.
Vorige onderwerp: reeds
Volgende onderwerp: lank
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Mei 19 16:13:50 MGT 2024