Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Arbeidswetgewing in Suid-Afrika
Arbeidswetgewing in Suid-Afrika [boodskap #125333] Vr, 19 April 2019 07:09
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Arbeidswetgewing in Suid-Afrika reël die verhouding tussen arbeiders en werkgewers in die land. Van die onderstaande voorbeelde mag verouderd wees, deurdat dit deur nuwe wetgewing vervang is.

Die wet op Fabrieke, Masjinerie en Bouwerk van 1941 stel die gewone werkure in fabrieke op 46 per week, teenoor 48 uur voor 1941 en 50 uur voor 1931, en maak voorsiening vir oortydbetaling, verlof, bevallingstoelaes, minimum-leeftyd by indiensneming, beskerming van werkers teen ongevalle, toesig oor die gebruik van masjinerie, registrasie en beheer van fabrieke. Die Wet op Winkels en Kantore reël die beskerming en versorging van winkelbediendes en kantoorwerkers en stel die werkure op hoogstens 46 per week. Die bepalinge van die Wet is analoog met dié van die 1941-wet op fabrieke.

Die "Mijnen en Bedrijven Wet" van 1911, wat onder meer die indiensneming van vroue en kinders in die mynbedryf reël, gee aan die staatsmyningenieur ook die mag om beheer oor geskoolde arbeiders in die bedryf uit te oefen deur middel van die uitreiking van sertifikate van bevoegdheid. Die Wet op Elektrotegniese Draadwerkers en Aannemers van 1939 gee aan ’n registrasieraad vir elektrotegniese draadwerkers beheer oor die registrasie van die werkers.

Die Werkloosheidsversekeringswet van 1946 (gewysig 1949, ’51, ’53, ens.) beskerm sekere klasse van werkers teen algehele verlies van inkomste wanneer hulle werkloos raak. Persone wat 'n sekere bedrag per jaar verdien (R2500 in 1957) dra by tot ’n werkloosheidsfonds, waartoe ook die werkgewers en die staat hulle bydraes lewer, en ontvang uit die Fonds toelaes wanneer hulle werkloos raak, nadat hulle aan voorgeskrewe vereistes voldoen het.

Die Silikosewet van 1946, soos gewysig in 1950 en 1952, stel die uitkering vas vir mynwerkers wat aan silikose ly. Drie stadia van die siekte word onderskei. Die Ongevallewet van 1941, wat etlike kere daarna gewysig is, maak voorsiening vir die skadeloosstelling van werkers wat ongeskik geraak het deur ongelukke in hul werk of deur bedryfsiektes. Werkgewers moet hul werknemers onder hierdie staatskema verseker en daarvoor ’n premie betaal soos deur die Kommissaris van Ongevalle vasgestel.

Die Wet op Registrasie vir Werk van 1945 verplig werksoekers om hulle by die werkverskaffingskantore te laat inskryf en eis van werkgewers, behalwe private huiseienaars en boere, dat hulle die kantoor in kennis stel omtrent werkers wie se diens beëindig is. Dit voorsien ook in die stigting van jeugrade om die belange van jeugdige werksoekers te behartig.

Die Wet op Vakleerlinge van 1944 reguleer die opleiding, indiensneming, lone en registrasie van vakleerlinge. Vakleerlingskapkomitees, wat uit verteenwoordigers van werkgewers en werknemers bestaan, is vir verskillende bedrywe ingestel. Hulle doen aanbevelings by die minister van arbeid en die registrateur van vakleerlingskap t.o.v. voorwaardes van vakleerlingskap. Daar is ook ’n Nasionale Raad wat die beleid aangaande vakleerlinge koördineer.

Die Wet op Opleiding van Ambagsmanne van 1951 maak voorsiening vir die opleiding as ambagsmanne van ander persone as minderjariges, en vir die erkenning van geskoolde persone as ambagsmanne.

Die Wet op Versoening in die Nywerheid van 1956, wat ’n wet van 1937 vervang het, bepaal die prosedure wanneer daar ’n arbeidsgeskil ontstaan, voordat daar tot staking oorgegaan mag word, en reël die stigting van vakunies.

Die Loonwet van 1937 beheer die vasstelling van lone en diensvoorwaardes deur die Loonraad in ondernemings en nywerhede wat nie van die middele kragtens die Wet op Versoening in die Nywerheid gebruik kan maak nie.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Arbeidsgenot
Volgende onderwerp: Arbela
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 15:46:38 MGT 2024