Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Stilbaai
Stilbaai [boodskap #125312] So, 14 April 2019 08:16
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Uitsig oor Stilbaai.
Uitsig oor Stilbaai.
Stilbaai, die baai van die slapende skoonheid, is 'n dorp langs die suidkus tussen Riversdal en Albertinia. Die Goukourivier (vroeër Kafferkuilsrivier) verdeel die dorp in Stilbaai-oos en Stilbaai-wes, met die hawe op die westelike oewer. Die rivier kan vir ongeveer 15 km bevaar word.

By die inligtingskantoor kan palings (die palinggat) en 'n museum oor die Blombosgrot besigtig word. Opgrawings by die grot toon dat mense al vir ten minste 7 duisend jaar in die gebied woon. Dit is die oudste menslike nedersetting wat tot hede gevind is. Gin-distilleerderye (o.a. by Inverroche) kan ook in die omgewing besoek word.

Stilbaai het 'n aantal natuurreservate: Aan die oostekant is Pauline Bohnen-natuurreservaat, 'n groot reservaat met talle staproetes. Die Skulpiesbaai-natuurreservaat is naby die hawe en strek tot by die Noordkapperpunt-visvywers (historiese viskrale). Die Geelkrants-natuurreservaat is by Lappiesbaai geleë. Die "Preekstoel", 'n kenmerkende rots wat uit die sand steek, kan hier gesien word.

Die Swarttobie broei van November tot Maart op die strande. 'n Bewaringsprogram is van stapel gestuur om die voëls te beskerm. Die publiek word gevra om nie hierdie voëls te steur nie en weg te beweeg as die voëls onrustig voorkom.

Histories gesproke is die eerste erwe hier in 1894 uitgemeet. In 1930 is die twee dorpsdele met 'n pont verbind en in 1955 is dit met die huidige brug vervang (die datum is op beide kante van die brug aangebring).

Op 2 September 1901 het die mees suidelike geveg van die Anglo-Boereoorlog hier plaasgevind. 'n Plaket op die R305 tussen die N2 en Stilbaai, 20km buite die dorp lui: "'n Boerekommando onder bevel van kommandant Jan Theron bots hier met die District Mounted Troops en Riversdale Town Guards onder bevel van luitenant Smalberger en 'n afdeling Britse troepe onder bevel van majoor Kavanagh. Die Boere was op die randjies noordwes, wes, suidwes en suidoos van hier. Die Britse troepe was in die onmiddellike omgewing. Twee Boere, naamlik veldkornet J.A. van Biljon van Kroonstad en R.C.H. Tiell van Johannesburg, is gewond. Hulle herstel en word verban. Die Britse magte ly aansienlike ongevalle, maar getalle is onbekend."

Skakel: https://www.stilbaai-info.co.za/
Vorige onderwerp: Kuiper
Volgende onderwerp: Souffleur
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 15:13:04 MGT 2024