Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Afrikanerbond
Afrikanerbond [boodskap #120912] Sa, 10 November 2018 18:32
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Afrikanerbond was 'n politieke party, gestig in 1879 deur ds. S.J. du Toit redakteur van Di Patriot van die Paarl en grondlegger van die beweging vir die erkenning van die Afrikaanse taal. Dit het gou saamgesmelt met die 'Boere Beschermings Vereeniging', wat die vorige jaar gestig (1878) is om in die eerste plek die nuwe Aksynswet te beveg waarteen die wynboere beswaar gemaak het. Aangevuur deur die anti-Engelse gevoel wat teweeggebring is deur die anneksasie van Transvaal en die daaropvolgende Majuba-veldtog het die Afrikanerbond binne afsienbare tyd ontwikkel tot 'n kragtige organisasie wat in 1885 een van sy doelstellings bereik het, toe die gebruik van Hollands in die Kaapse parlement gewettig is. J.H. Hofmeyr 'Onse Jan', wat gou die oorheersende mag agter die Bond geword het, het, hoewel hy nie 'n ampsdraer wou wees nie, 'n beleid van vriendskap en samewerking met Cecil John Rhodes en die Britse Statebond gevolg. Hy het selfs 'n Koloniale Konferensie as afgevaardigde bygewoon. In 1895 het die Jameson-inval alle bande tussen die Bond en Rhodes verbreek hoewel dit in 'n groot mate die steun van John X. Merriman en ander Engelssprekende leiers behou het.

Die Bond kom in 1898 aan bewind met W.P. Schreiner as Eerste Minister, en bly aan bewind tot 1900. Sy leiers ondervind baie moeilikheid as gevolg van die verdeelde lojaliteit wat veroorsaak is deur die Tweede Vryheidsoorlog. Die party is in die opposisiebanke tot 1908 toe sy leiers, J.W. Sauer, N.F. de Waal en ander by die kabinet van Merriman aansluit. Dit het uiteindelik met Uniewording saamgesmelt met die Suid-Afrikaanse Party onder generaal Louis Botha.

Bronne:
1. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
2. Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Afrikanerbees
Volgende onderwerp: Agapant
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 09:59:01 MGT 2024