Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die toekoms van Afrikaans
Die toekoms van Afrikaans [boodskap #112700] Sa, 03 Februarie 2007 07:05 na volgende boodskap
Dave Jones  is tans af-lyn  Dave Jones
Boodskappe: 11
Geregistreer: Januarie 2007
Karma: 0
Junior Lid
Die toekoms van Afrikaans
Dan Roodt

Referaat gelewer by die gelyknamige bespreking, gereël deur die S.A.
Akademie vir Wetenskap en Kuns, aan die R.A.U. op Woensdag 13 September
2000.

Ek gaan nou baie onbeskof wees en glad nie oor die onderwerp praat nie.
Behalwe om te sê dat as ons almal gedink het Afrikaans gaan 'n blink
toekoms tegemoet, dan was daar nie 'n Stigting vir Afrikaans, 'n Tabema,
'n Taalsekretariaat, 'n Groep van 63, 'n Vrydaggroep en les bes, 'n
Praag nie (Indien ek iemand uitgelaat het, moet u dit asseblief nie op
uself betrek nie, maar op my soms argelose omgang met name). Indien ons
rustig geslaap het oor die toekoms van Afrikaans sou ons seker nie
vanaand hier vergader het met so 'n onderwerp onder bespreking nie.
Trouens, die grote Naspers het 'n kommunikasiekonsultant by name mnr.
Bertie du Plessis aangestel wat, na sy oorwoë mening, bevind het dat ons
toekoms onvermydelik Engels gaan wees, en dat ons enigste hoop is om
Afrikaans te behou as 'n mindere etniese kenteken, 'n soort lapelwapen
wat jy kan aanspeld om te sê, "ek was daar", dit is my oorsprong, en ek
praat hoogstens deesdae 'n kombuistaal of komtuistaal of sitkamerdialek
of wat mens dit ookal wil noem.

Ons is almal in meerdere of minderde mate bewus van wat aangaan in die
skole, in besighede, aan universiteite, op die TV, die stroom emigrante,
ens., ens. En natuurlik moet daardie bewustheid verhoog word en moet
dit haarfyn bestudeer en ontleed word sodat ons op hoogte kan bly van
die proses waarin Afrikaans hom bevind. Maar ek sou sê, tensy
omstandighede binnekort drasties verander, is daar net een moontlike
konsensus, en dit is: Afrikaans gaan sy gat sien. En 'n mens kan
byvoeg, in daardie taal wat ons almal gepraat het in die tyd toe daar
nog enkelmedium-Afrikaanse skole was: sonder 'n spieël.

Afrikaans gaan sy gat sien, en al word ons nou hoe die bliksem in saam
met Boetman, dit is 'n feit soos 'n koei. U kan sien dat ek hier nou
sommer 'n klomp boerse metafore gebruik, en dit is nie my gewone styl
nie, maar by gebrek aan iets beters, wil ek nou maar op hierdie trant
voortgaan. En kom ons vergeet nou vir 'n oomblik van Afrikaans, en
gesels liewer 'n bietjie oor 'n paar ander dinge, soos die sielkunde,
die filosofie, die geskiedenis. Sommer so "padlangs", om nou nog 'n
eenvoudige uitdrukking te gebruik.

Die idee van 'n pad, of paaie, om op reis te wees, het my nog altyd
gefassineer. Daar is iets omtrent die mense wat Afrikaans praat wat ook
met reis en vertrek en kruispaaie te make het. Hulle het uit alle
windrigtings gekom: sommige uit Europa, uit Holland, Frankryk,
Duitsland, Skotland, Engeland, ander weer uit die Ooste, uit Maleisië,
Mauritius, Indonesië, tot onlangs was daar baie Indiër-Suid-Afrikaners
met Afrikaans as huistaal, en dan, natuurlik, het baie
Afrikaanssprekendes ook uit die inheemse bevolking gekom, die Khoe en
die San, ens. Hulle het mekaar hier aan die onderpunt van hierdie
vasteland gevind, en 'n nuwe taal en 'n nuwe kultuur geskep. Hulle het
met mekaar getrou, daar was bloedvermenging, en so het ons almal inheems
geword. In dit wat W.A. de Klerk in sy boek oor die
Afrikanergeskiedenis[1], die "heroïese tydperk" van die negentiende eeu,
noem, het hulle ook dikwels die pad gevat en getrek. Eric Walker, in sy
boek oor die Groot Trek (en ek gaan nou al my beginsels oorboord gooi en
dit in Engels aanhaal, maar ek belowe dit is die laaste keer dat ek u
ore gaan seermaak), beskryf dit as volg:

"The Great Trek is the central event in South African history. The folk
who went out of the Cape Colony a hundred years ago went because their
ideas and mode of life were threatened by changing circumstances. They
gained a fifty yearsê respite in the interior. Thereafter their mode of
life was steadily broken down by new and incompatible forces, but their
ideas, confirmed and invigorated during those fifty years of grace, have
permeated the Union of South Africa and extended their influence as far
north as Kenya.

The Trekkers were a people with little political experience but with a
flair for politics. They undertook to found a State and society in the
wilderness, and they did it. Some of their ideas were prophetic.
Generals Smuts and Hertzog, both Afrikaners, have been among the most
prominent exponents of the post-war Dominion status, but in all
essentials their ideas on that score were anticipated in 1840 by the
Boers of republican Natal."[2]

En dan, 'n bladsy of twee verder, sê Walker,

"The Great Trek was a journey. It was a journey inspired by a very
definite spirit and intention, and it had lasting and widespread
results. That is why it is worth writing about."[3]

Hierna gaan Walker in op die betekenis van enkele Afrikaanse woorde, die
verskil tussen 'n "kuier" en 'n "tog" byvoorbeeld, asook die betekenis
van die woord "trek" wat eksodus beteken, maar ook verkenning, 'n
swerftog na die onbekende. Vandaar die titel van 'n gewilde Amerikaanse
wetenskapfiksiereeks, Star Trek. Die Nederlanders is verstom daaroor
dat geen woord van Nederlandse afkoms ooit, soos hulle dit stel, "de
internationaal gehaald hebben", en tog is daar vele Afrikaanse woorde
wat mense wêreldwyd gebruik en iets nuuts aan hulle woordeskat toevoeg,
woorde soos "trek", "spoor", "strandloper" (onlangs koop ek op 'n
uitverkoping 'n Britse roman met die titel, The strandloper),
"kommando", en natuurlik, helaas, "apartheid", naas "trek" miskien die
internasionaal bekendste Afrikaanse woord.

Steeds op die gebied van wetenskapfiksiefilms (ek is seker mnr. Bertie
du Plessis dink nou al reeds hoe onvermydelik agtergehaal deur
globalisering ook my eie denke is, as ek my metafore soek in die
imperiale kultuur van die wêreld se grootste en mees suksesvolle
Empaaier, die Amerikaanse, maar gee kans, gee kans, hier volg nou-nou 'n
boerse wending): in vele verhale in dié genre, soos byvoorbeeld die
Star Wars-reeks van George Lucas, veg 'n klein groepie oorblywende
rebelle wat iewers op 'n verlore en onbekende planeet wegkruip, verbete
teen die groot Empaaier, die Donker en Bose Empaaier.

Wat maak hulle so verbete, waarom gee hulle nie sommer oor nie? In 'n
ander wetenskapfiksiefilm, The Matrix, het ons dieselfde situasie waar
'n handjievol vrye geeste hulself teen die magtige rekenaarnetwerk
verset. Mense is heeltemal verslaaf deur die Matriks, en word as
biologiese batterye geteel, en kunsmatig aan die lewe gehou in baddens
waar die elektrisiteit wat hul liggame produseer, afgetap word deur
middel van ingeplante kabels aan hul rugstring en ander plekke. Maar
natuurlik gaan 'n mens wat as slaaf of dan as battery vir sy
elektroniese meester, sy hele lewe lank in 'n swart bad deurbring tussen
miljoene ander menslike slawe, op 'n stadium ophou funksioneer vanweë 'n
gebrek aan stimulasie. Daarom verskaf die Matriks aan die mensslaaf 'n
virtuele ervaring, 'n kunsmatige lewe wat hy in sy kop beleef en wat
vooraf geprogrammeer is sodat dit vir hom voel asof hy iewers aan die
einde van die twintigste eeu leef, en 'n normale bestaan voer. Op een
stadium in die film verraai een van die rebelle sy makkers omdat die
stryd, die onaangenaamheid van die werklikheid, die gebrek aan lekker
kos, vermaak, die lewensgevaar, die stres, vir hom een te veel word, en
hy verkoop dan sy mede-rebelle aan die Matriks in ruil daarvoor dat hy
weer teruggeplaas word in sy proefbuisbestaan, in die bad, en weer sy
ongerepte virtuele bestaan kan hervat. En natuurlik, sy belangrikste
voorwaarde: met dien verstande dat hulle sy geheue herprogrammeer sodat
hy niks van die werklikheid en sy geskiedenis as rebel kan onthou nie,
en dus die illusie van die virtuele werklikheid as die enigste ware
ervaring kan beleef.

'n Mens kan vir ure aangaan om hierdie interessante gegewe te bespreek,
dog die punt wat ek hiermee wil maak, is bloot die volgende: soms is
daar mense wat die virtuele werklikheid, die globale ervaring wat
elektronies aan ons gebring word vanuit die hart van die Amerikaanse
Ryk, verkies bo die outentieke, bo die eie (onthou u nog daardie
uitdrukking, uit ons voorgeskiedenis, die eie), wat soms minder
aantreklik skyn te wees, maar indien mense altyd die maklike uitweg
gekies het, dan is ek seker het weinig mense in die verlede oorleef, en
het weinig tale en kulture oorleef. In Shakespeare se tyd het die keuse
om in Engels te skep, en nie in Frans of Latyn nie, waarskynlik ewe
onaantreklik, ewe onsinnig, voorgekom as om dit vandag in Afrikaans te
doen.

Wat inspireer die malles, die rebelle, die vegters, die trekkers, die
bittereinders? Op 'n keer het iemand aan my verduidelik dat daar vier
menslike persoonlikheidstipes is, en dat elke persoon eintlik 'n mengsel
van al vier is. Ons kan ook mense klassifiseer in elkeen van die vier
kategorieë omdat hy of sy dan oorheers word deur een van die
persoonlikheidstipes. Synde iemand wat die sielkunde maar met 'n sekere
mate van skepsis benader - ek verkies die sterk literêre en filosofiese
inslag van die psigoanalise - het ek al die geleerde terme vergeet, maar
snaaks genoeg het die Engelssprekende persoon wat dit aan my uitgelê
het, 'n paar platvoerse Afrikaanse woorde toegevoeg as 'n soort
aide-mémoire en, natuurlik, het dié by my vasgesteek. Ons het gepraat
van Afrikaans wat sy gat gaan sien sonder 'n spieël, maar as ons nou wel
'n spieël byderhand het, en ons draai dit so 'n bietjie na boontoe, dan
meen ek ons gaan in die debat rondom ons politieke situasie, die
taalsituasie, by die werk, by die skool, en waar ookal, iets van die
volgende teëkom. Noem dit dan maar vier verskillende gatte.

Die eerste kategorie is die soort persoon wat baie te sê het, die kollig
op homself wil hê, maar as hy klaar die aandag op hom het, dan het hy
nie die uithouvermoë om die ding deur te voer nie. Blykbaar leen
hierdie persoonlikheidstipe hom uitmuntend tot die beroep van
"verkoopsman" of, natuurlik, in 'n deftiger benaming, "konsultant". Hy
kan hoogstens iemand ompraat om die handtekening op die kontrak te
plaas, die kommissie te verdien en daarmee sy paaiement op sy spoggerige
motor te betaal. U en ek ken sulke mense: hulle praat groot, hulle
spog, hulle maak grappe, ens., en binne ons sielkundige
klassifikasiestelsel staan hulle tipe bekend as die windgat (WG). Elke
onderneming, elke beweging, het sy dosis windgatte nodig, maar dit is
nie genoeg nie. Dan is daar die persoon wat weer pynlik gedissiplineerd
is, netjiese hare, skoon maar vervelige klere, en wat die reëls volg,
nooit uit sy spoor trap nie, en ook vir ander die leviete voorlees. Hy
gaan die grondwet nagaan, klagtes by PANSAT indien, maar vir hom is dit
'n kwessie van reëls en wette en regulasies. Blykbaar word sulke mense
graag rekenmeesters, en binne ons tipologie word hulle die
pyn-in-die-gat genoem (PiG).

'n Derde persoonlikheidstipe is dié van die muisvaal, klerikale persoon
wat gesag sonder teëspraak aanvaar, en soos Jan Cilliers se osse
geduldig, gedienstig, gedwee aanstap in die lewe. Hierdie soort mens
kyk wat die ander rondom hom maak en doen dieselfde. Uiteraard gaan hy
of sy geen stryder word nie, alhoewel iewers aan die einde van die
stryd, as dit lyk asof hy aan die verloorkant gaan wees, hy dalk 'n
ommeswaai mag ondergaan en mag inval by die wense en bevele van sy
potensieel nuwe meester. Hierdie tipe noem ons die papgat of banggat.
As hy of sy boonop lui is, dan kan ons na hulle verwys as slapgatte. En
as 'n mens nou so rondom jou kyk na die golf van Engels wat oor ons
spoel, en niemand sê 'n woord nie, dan is dit duidelik dat ons in
Afrikaans 'n hele horde papgatte, banggatte en slapgatte het.

Waar gaan ons hulp vandaan kom, wie gaan die leiding neem en die ding
aanpak en deurvoer? Wel, gelukkig is daar nog 'n vierde persoonlikheid,
iemand soos 'n Boeregeneraal van ouds, 'n De Wet, Smuts, Hertzog, De la
Rey, Botha, wat gaan veg al is die magtigste Ryk op aarde nou ook teen
hom. En al verloor hy nou ook aan die einde, dan kan niemand van hom sê
dat hy (of sy; want deesdae meen ek daar is vrouegeneraals ook) nie
probeer het nie. En as hy wen? Ja, dink net daaraan, dan is die Kaap,
by wyse van spreke, weer Hollands.

U het almal reeds geraai wie ons laaste gat is, die dapper ou wat die
pad voor hom uitgestippel sien, en ongeag die gevolge, hom gaan loop tot
aan die einde toe en hopelik 'n klein groepie mede-rebelle,
mede-stryders, met hom gaan saamneem. Sy naam is Hardegat (HG), en die
Afrikaanse geskiedenis is vol sulke mense. Dit is hoekom daar vandag
Afrikaanse woorde is wat daar iewers in die globale kultuur ronddryf.
En as Eric Walker reg is, dan is dit boonop die rede waarom Suid-Afrika
vandag bestaan, omdat 'n paar geïnspireerde hardegatte dit in hul doppe
gekry het om iewers in die binneland 'n republiek te gaan vestig. As
ons daaraan dink, is dit in die huidige opset 'n totale anakronisme,
maar hierdie plek staan steeds bekend as die "Republiek van
Suid-Afrika". 31 Mei is geen vakansiedag meer nie, maar hulle noem
hierdie uitrafelende stuk aarde steeds 'n "republiek". Op 'n latere
stadium mag dit alles getransformeer word tot Oeboentoeland of Tswane of
wat ookal, maar tans is daar nog steeds die spore (en hier moet u ook
die volle rykheid van die woord "spoor" in Afrikaans begryp) van 'n paar
hardebaard hardegatte rondom ons sigbaar.

Ek weet ek dwaal baie ver af, maar ek het reeds aan die begin gewaarsku
dat ek, soos dit die aspirant-hardegat betaam, nie by die onderwerp gaan
bly nie. Want sien, Afrikaans gaan om meer as net taal, of jy gaan
"baked beans" sê of "sousboontjies". (Groete vir Andy Warhol.) Onlangs
het ek afgekom op 'n aanhaling van die Amerikaanse taalkundige Edward
Sapir wat ons daarop attent maak dat "die werklikheid tot 'n groot mate
opgebou [word] deur die taalgewoontes van die groep."

Die werklikheid word opgebou deur die taalgewoontes van die groep. Dink
'n bietjie daaraan. Hoe sou die Suid-Afrikaanse werklikheid gelyk het
sonder Afrikaans? Hoe gaan dit lyk indien my aanvanklike hipotese
korrek is, naamlik dat Afrikaans sy gat gaan sien? Moet geen fout maak
nie, taalverandering is een van die mees radikale veranderings wat mense
kan ondergaan omdat jou hele werklikheid daardeur gewysig word. Waar
Europese tale vergaan het, was dit net as gevolg van bloedige oorloë,
uitwissing, volksmoord, onderwerping, verknegting. En in plekke soos
Ierland en die Baskiese dele van Frankryk en Spanje is daar vandag nog
steeds voortslepende geweld. Myns insiens gaan die verdwyning van
Afrikaans uit Suid-Afrika die kohesie van hierdie maatskappy so radikaal
beïnvloed dat dit uitmekaar gaan spat. Weens 'n gebrek aan tyd kan ek
nie nou ingaan op die empiriese getuienis wat reeds hieroor geboekstaaf
is nie.

Dit bring my by iets anders, by N.P. van Wyk Louw se bekende definisie
van Afrikaans. Hy het sê opgesom: "Afrikaans is die taal wat vir
Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit
vorm 'n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika - die
soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar
groots aan hulle verenig kan ontspruit - dít is miskien wat vir
Afrikaans voorlê om te ontdek."[4]

Dit is sekerlik geen polities korrekte definisie nie, want deesdae maak
mense beswaar teen die idee dat Afrika "nog so ónhelder" of, in 'n
minder diplomatiese formulering, "donker" is. Maar soos dit 'n goeie
hardegat betaam, gaan ek my nie daaraan steur nie, want ek dink ons is
lankal verby die punt waar ons moes wonder of ons taal polities korrek
klink of nie. Die punt is egter dat Afrikaans 'n brug slaan tussen twee
baie verskillende en onversoenbare wêrelde. Hierdie bouwerk waaruit die
reële bestaan, binne Sapir se definisie, hierdie Afrikaanse werklikheid,
maak dit op 'n manier moontlik om tegelyk Europa en Afrika te verstaan
binne 'n nie-hegemoniese, nie-dominante struktuur.

Ek weet dit begin nou meer filosofies klink, en nou sal daar diegene
wees wat vra, "Ja, maar wat het dit nou met die prys van eiers of van
Amazon.com se aandeel op die NASDAQ-beurs te make?" En my antwoord is
eenvoudig: alles.

Voordat ek verder verduidelik, moet ek dit beklemtoon dat Europa (die
Weste, die aandland) en Afrika (die donker kontinent, met sy
verskrikkings - ja, daar is verskrikkings in Afrika, onthou maar vir
Kurtz se uitroep in Heart of Darkness, asook Rwanda, Ethiopië, ons eie
difekane en Kwazulu-Natal tot onlangs) totaal onversoenbaar is. Dit
gaan om radikale andersheid, "paradigma-onmeetbaarheid" in die taal van
'n Thomas Kühn of Paul Feyerabend.

N.P. van Wyk Louw verskaf in sy epiese gedig, Raka, 'n konsptuele model
vir dit waarvan hy praat as hy sê Afrikaans is 'n "brug" tussen twee
wêrelde, onversoenbare wêrelde soos ons pas gesien het. Die vorm van
Raka is geheel en al "van Afrika", die verhaal van 'n stam wat nie eens
in Suid-Afrika afspeel nie, maar iewers in 'n ekwatoriale oerwoud, en al
die verwysings is na 'n pre-tegnologiese wêreld, waar die slyp van
assegaaie en vuurmaak die hoogste vorme van tegnologiese ontwikkeling
is, 'n soort ongerepte Afrika dus. Desnieteenstaande, is die inhoud van
die gedig, sy begrippe en boodskap, geheel en al Westers. Dit gaan om
die problematiek van die enkeling, die eensame leiersfiguur wie se visie
nie deur sy mense begryp word nie, en uiteindelik kom die hele stam tot
'n val as hulle ingeneem word deur Raka en terugkeer na die dierlike
oertoestand wat hy simboliseer.

'n Mens sou 'n hele filosofiese analise oor die gedig kon skryf, wat
allerlei vergelykings met Freud se Lustprinziep en Realitätsprinziep sou
kon insluit, Raka en Koki synde vergelykbaar met dié twee beginsels.
Verder is die hele problematiek van die gedig uit en uit ontleen aan
Nietzsche en die verwysings na ras en bloed daarin moet na aanleiding
van Nietzsche se leer aangaande die übermensch begryp word. Wat egter
ter sake is, is dat die gedig die begin is om 'n paradoksale "brug"
tussen Afrika en die Weste te skep. Myns insiens het Bantoe-onderwys -
en ek besef dat ek hier weer iets sê waaroor mense my gaan kruisig, maar
wat maak dit saak? - dieselfde probeer, naamlik om vir mense binne hul
eie Afrikataal wat vol nie-logiese, nie-rasionele beelde en metafore is,
Westerse beginsels aangaande logiese denke, wiskunde, wetenskap, ens.,
te leer. Bantoe-onderwys is natuurlik verwerp, en tans is ons besig om
mense met behulp van Engels te globaliseer.

Maar nou, en dit is hoe my denke oor hierdie kwessie tans begin vorm
kry, skep Engels as uitsluitlike voertuig van die modernisme, van
wetenskap en tegnologie, 'n soort konseptuele en epistemiese apartheid
wat veel erger is as om aparte toilette of tuinbankies te gebruik. Nie
net word die onoorbrugbare gaping tussen die Westerse wêreld (in die sin
van 'n werklikheid) en die Afrikawêreld bevestig nie, dit word selfs in
beton gegiet.

Wat gebeur nou, in 'n Engelse Suid-Afrika? Nie net vergaan Afrikaans as
moontlike brugtaal nie, maar die Weste, in die vorm van Engels, neem
oor. Ons almal gaan te lekker globaliseer, en DSTV kyk en Internet en
Microsoft en Intel en wat ookal. (Iemand skryf 'n ruk gelede aan my 'n
eposboodskap waarin hy beweer dat Afrikaans verdien om uit te sterf want
ons het ge-apartheid en ge-broederbond terwyl die res van die wêreld
ge-intel en ge-microsoft het; hier volg nou my antwoord ook aan hom.)

Dus die Weste behaal oplaas die hegemonie waarvan Lord Milner gedroom
het, behalwe dat dit nie meer die Britse Ryk is nie, maar nou die
Amerikaanse. Wonderlik. Drink jou Coke en eet jou McDonald's. Maar
nou vind ons die volgende probleem: Afrika is sterwend, maar nog nie
heeltemal dood nie. Iewers leef daar nog iets van die Afrikataal en
-kultuur. En globalisering, die inligtingsrewolusie, roep 'n
kontrarewolusie op. Hierdie teen-omwenteling heet: terugkeer na die
oorsprong. Nou is dit nie meer Koki wat moeisaam probeer uitstyg na 'n
hoër wêreld nie, maar Raka wat terugkeer in al sy primitiewe, dierlike
geweld.

Maak geen fout nie, met stimulering van verengelsing en globalisering,
is daar reeds 'n terugkeer na die oorsprong aan die gang in Suid-Afrika.
Die Afrikane het nog nie begin om Engels te verwerp nie, maar hulle
verwerp reeds die Westerse medisyne, wetenskap, logiese denke, rasionale
politiek, verdraagsaamheid en alles wat daarmee saamhang. Kyk maar vir
mnr. Robert Mugabe, of ons eie mnr. Mbeki se menings oor VIGS en MIV.

Afrika gaan sy uur van wraak op die Weste hê, en dit gaan soet wees.
Afrikanisme, Afrika-renaissance, Afrika-rewolusie, alles terme wat ons
daagliks hoor, gaan om 'n verwerping van die Westerse denkmodel en 'n
radikale terugkeer na Afrikadenke. Maar, in die afwesigheid van 'n
brugtaal soos Afrikaans, 'n halfweghuis waar mense kan vertoef in hul
trek na 'n ander vorm van kennis en wêreldbeskouing, gaan dit 'n
terugkeer wees na die primitiewe, na die dierlike, na die Raka-beginsel.
Koki is reeds dood, en ons gaan verlang na hom.

Teenoor globalisering vind ons dus die opkoms van 'n neo-primitiewe
beweging wat wêreldwyd aan't oplaai is. Dooie tale gaan ontdek word, ou
rites wat mense skaars kan onthou, gaan as't ware uit die dode opgewek
word, op die internet begin sirkuleer en nuwe bekeerlinge vind onder die
identiteitlose menigte, die miljarde reg rondom die aarde.

Waarskynlik klink dit alles vir u baie kripties, en as dit wel so klink,
vra ek om verskoning. Laat my dus terugkom na die boerse bekende, en
ons hardegatte. Die hardegatte van die Afrikanergeskiedenis het hulle
teen twee magte verset, teen die Ryk of Empaaier, en teen mense soos
Dingaan en Silkaats wat 'n primitiewe denkwêreld verteenwoordig het.

Piet Retief het gedink hy sluit 'n kontrak met Dingaan, maar Dingaan het
gedink hy is 'n towenaar en toe maak hy hom dood. Dit is wat ek bedoel
met "radikale andersheid" of "paradigma-onmeetbaarheid". Indien hulle
'n brugtaal gehad het soos Van Wyk Louw se sprokie oor Raka sou hulle
dalk iewers met mekaar kon gepraat het, en sou die Slag van Bloedrivier
nie nodig gewees het nie. Feit is egter dat dit wel plaasgevind het, en
goddank die Voortrekkers het gewen, sodat die Groot Trek die sukses was
wat Eric Walker reeds aan ons verduidelik het.

Ek weet ek skeer nou baie vinnig oor dinge, maar ek wil dit onder almal
se aandag bring dat Afrikaans, die taal, maar ook die monumentale
kultuur en geskiedenis wat ons hier geskep het, meer is as 'n keuse oor
"baked beans" en "sousboontjies". Dit gaan om oorlewing; in Afrikaans
is die kodetaal vir ons oorlewing op hierdie kontinent vervat. Ek wil
hierdie sin weer herhaal: in Afrikaans is die kodetaal vir ons
oorlewing op hierdie kontinent vervat.

Dit klink hiperbolies, en ek besef dit. Aan die ander kant raak ek by
die dag meer oortuig daarvan. Maar ek wil vanaand nog verder gaan en
hierdie argument tot op sy uiterste voer. Nie net ons nie, maar die
hele wêreld is tans gevange in 'n stryd teen twee groot magte: die mag
van die Empaaier wat stadigaan alles inpalm tot aan elke uithoek van die
aarde, enersyds, en die opkomende mag van 'n neo-primitiewe
kontrarewolusie met sy "terugkeer na die oorsprong", na fundamentalisme,
argaïsme en vergange, uitgediende ideë, rituele, bygelowe en gelowe in
voorvadergeeste, towerkrag, ens., andersyds.

Ons, en ons hardekwasvoorouers, het die ervaring van hierdie tweeledige
stryd teen twee baie uiteenlopende vyande, die een oënskynlik draer van
beskawing en vooruitgang, maar ook van vernietiging, die ander draer van
'n primitiewe wêreld wat verdien om onder te gaan maar hardnekkig bly
voortbestaan. Indien ek reg is, het ons niks om van die res van die
wêreld te leer nie, en gaan hulle binnekort by ons moet kom leer hoe om
hierdie probleem die hoof te bied. 'n Kennis van Afrikaans gaan in
hierdie nuwe stryd om oorlewing (en ek praat uiteindelik nie van
nasionalistiese voortbestaan "as volk" nie, maar van fisieke oorlewing)
nie net 'n luukse wees nie, maar 'n noodsaaklikheid. Trouens, ek sou so
ver gaan om dit as 'n lewensmiddel te beskryf.

Daarom, as Afrikaans sy gat sien, is die skrif aan die muur, miskien nie
net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele wêreld. My voorstel is: kom
ons wees hardegat, kom ons veg vir Afrikaans soos daar nog nooit vir 'n
taal op aarde geveg is nie. Ons hele beskawing mag daarvan afhang.

http://www.praag.org/opstelle13.htm
Re: Die toekoms van Afrikaans [boodskap #112701 is 'n antwoord op boodskap #112700] Sa, 03 Februarie 2007 12:08 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Daun Johnson  is tans af-lyn  Daun Johnson
Boodskappe: 1155
Geregistreer: Januarie 2009
Karma: 0
Senior Lid
On Sat, 03 Feb 2007 09:05:08 +0200, Pietie Norville
wrote:

> Die toekoms van Afrikaans
> Dan Roodt

> http://www.praag.org/opstelle13.htm

raait, Ccopy en Paster het weer vir ons iets ge-copy & paste.
Nogal heel leesbaar, as jy dit by Praag gaan lees, en ek stel voor dat
julle die skakel gebruik en die oorspronklike lees, want die pasted
version issie so lekka nie.
Re: Die toekoms van Afrikaans [boodskap #112704 is 'n antwoord op boodskap #112700] Sa, 03 Februarie 2007 16:17 Na vorige boodskapna volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Die toekoms van Afrikaans
> Dan Roodt

Elke keer wanneer ek enigiets van Dan
Roodt lees, word ek so beindruk deur
sy soepele Afrikaans en sy denke, dat
ek amper swig en sy opinies vir soetkoek
opeet.
Dit verbaas my ook hoeveel mense
"The Matrix" as voorbeeld gebruik vir
hulle teorieë. Veral Tibetaanse Buddhiste
in Noord-Amerika bring gedurig die Matrix
in hulle besprekings in. Ek hou nie teveel
van die Matrix nie, want daar is eenvoudig
net teveel geweld daarin. Kon dieselfde
konsepte en storie nie met 'n bietjie
minder geweld uitgebeeld word nie?
In alle geval, dankie Pietie vir jou
poste. Of is dit nou die Wonderman
wat maak of hy Pietie is?

Penkop van die Derde Republiek
Re: Die toekoms van Afrikaans [boodskap #112713 is 'n antwoord op boodskap #112704] So, 04 Februarie 2007 21:26 Na vorige boodskap
Nou....@gmail.com  is tans af-lyn  Nou....@gmail.com
Boodskappe: 116
Geregistreer: Junie 2005
Karma: 0
Senior Lid
On Feb 3, 6:17 pm, "Hessie" wrote:
> Die toekoms van Afrikaans
>
>> Dan Roodt
>
> Elke keer wanneer ek enigiets van Dan
> Roodt lees, word ek so beindruk deur
> sy soepele Afrikaans en sy denke, dat
> ek amper swig en sy opinies vir soetkoek
> opeet.

Inderdaad. Waarmee stem jy nie saam nie?
> In alle geval, dankie Pietie vir jou
> poste. Of is dit nou die Wonderman
> wat maak of hy Pietie is?
>

Wie sal nou ooit regtig weet? Indien die pesposser
dalk 'n program is, sal hy seker maar effens stik
aan bg artikel. Indien hy 'n eintlik regse is wat
poste maak om reaksie te ontlok deur ons te bevloek en beledig,
sal hy ook maar 'n rukkie besig wees om al die baie
groot nuwe woorde op te soek.

(Teorie: Indien hy 'n mens is, dink ek sy doel sou dan nou wees om uit
die
reaksies op ras-beledigings te sien hoe sy goedvoel sielkunde-
programmetjie
plaaslik sal verkoop.)

Hoe ook al, die boERE word darem nou uitgelos.
--
Vorige onderwerp: Die Joggie Jansen storie
Volgende onderwerp: Beeld stem weer oor die lands vlag -- kom ons gaan stem!!!!!!
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 16:17:02 MGT 2024