" Droë Waterval " deur FERDI GREYLING [boodskap #42145] |
Do, 17 Mei 2001 14:40 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
DROË WATERVAL
In die Klein Karoo vertel ek my kinders
van die werklikheid wat Oudtshoorn was.
Hier waar die tyd stadig uit die skerp lug
'n lewe om my gedrup het.
Hier was nagte soos koue yster
met die veraf klank van aankomende treine
spierwit velde ryp vroegoggend
om die huis
en my ma
wat soos 'n vreugdevolle wetenskaplike
uitvind
in die nag
het die water 'n gletsertjie van ys
by die tuinslang uitgedrup
mense wat veraf in koerante sterf
die geweerskote plat letters op papier
name wat sag weerklink
tussen die beiering van die vier heilige seisoene deur
... Poqo .... Mandela ....
en aande in die agterkop gaan lê
op die beeld van bruin Hermaans die verwer
'n goeie man
wat bakhand voor die agterdeur
die seëning van werk by ander met wit velle moes vra
skoonheid wat onverskillig in 'n meisie brand
terwyl die rook van houtvure
vroegaand oor die blou dorp neersak
en net oor die berge die see
'n reuse blou woud vol gevare en geheime
waatlemoene wat rooi in die somer oopbreek
soos soet halfedelgesteentes
klonte bougainvilleas wat in die warmte
teen die dorp se bome gloei.
Ons ry oor die Swartberge
na waar die Groot Karoo wyd en oop lê.
Ek en my kinders.
Hulle luister verveeld uit hulle helder lewens
na die eggo's
van my verlede.
Op die berg - uitgeplof deur vulkane
en geplooi deur gletsers -
staan ons soos ander toeriste
en kyk na:
Droëwaterval.
'n Mindere geologiese gebeurtenis;
swart oervlekke in strepe teen die rots.
Soos die skaduwee van water.
As jy lank genoeg na die klip staar,
kan jy jou verbeel
jy hoor water,
'n dun verbrokkelde stroom
wat soos vloeibare koelte
in spattende eggo's val.
My kinders dink die naam Droëwaterval is snaaks.
Ek weet dis laf.
Donker vlekke op rots is nie water nie.
Ons klim in die kar en ry.
My kinders giggel om verveling te besweer.
Agter hulle oë, diep in die toekoms,
bruis hulle dade reeds onkeerbaar oor dae.
(Kyk!
Hulle ry alleen oor die oop Karoo
en los my by die gevlekte rotse
van my berg!
Op die dun pad
na Beaufort-Wes
en verder noord,
verby Zimbabwe
tot oorkant Olduvai
waar die horing van Afrika
afsplit in 'n nuwe land
ry hulle steeds!
Dit pla hulle nie
dat vroeë mens en dier
uit die tye van die groen Karoo
vergete in die gestolde klippe lê
waarmee die dun pad gepak is!)
Hulle ry voort.
Hulle ry steeds voort.
|
|
|
Re: " Droë Waterval " deur FERDI GREYLING [boodskap #42158 is 'n antwoord op boodskap #42145] |
Do, 17 Mei 2001 18:09 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Max wrote:
> Ek lees nooit die gediggies nie, maar kan iemand my sê of dit nou
> dieselfte Ferdi is???
Doen jouself 'n guns en LEES hierdie gedig. Daar is, in die
Swartberge,so 'n plek soos Droë Waterval.
Gloudina
>
>
> ___________________________________________
>
> skryf in boodskap news:3B03E366.3714C1EC@home.com...
>
> DROË WATERVAL
>
> In die Klein Karoo vertel ek my kinders
> van die werklikheid wat Oudtshoorn was.
> Hier waar die tyd stadig uit die skerp lug
> 'n lewe om my gedrup het.
> Hier was nagte soos koue yster
> met die veraf klank van aankomende treine
> spierwit velde ryp vroegoggend
> om die huis
> en my ma
> wat soos 'n vreugdevolle wetenskaplike
> uitvind
> in die nag
> het die water 'n gletsertjie van ys
> by die tuinslang uitgedrup
> mense wat veraf in koerante sterf
> die geweerskote plat letters op papier
> name wat sag weerklink
> tussen die beiering van die vier heilige seisoene deur
> .. Poqo.. Mandela.
> en aande in die agterkop gaan lê
> op die beeld van bruin Hermaans die verwer
> 'n goeie man
> wat bakhand voor die agterdeur
> die seëning van werk by ander met wit velle moes vra
> skoonheid wat onverskillig in 'n meisie brand
> terwyl die rook van houtvure
> vroegaand oor die blou dorp neersak
> en net oor die berge die see
> 'n reuse blou woud vol gevare en geheime
> waatlemoene wat rooi in die somer oopbreek
> soos soet halfedelgesteentes
> klonte bougainvilleas wat in die warmte
> teen die dorp se bome gloei.
>
> Ons ry oor die Swartberge
> na waar die Groot Karoo wyd en oop lê.
> Ek en my kinders.
> Hulle luister verveeld uit hulle helder lewens
> na die eggo's
> van my verlede.
>
> Op die berg - uitgeplof deur vulkane
> en geplooi deur gletsers -
> staan ons soos ander toeriste
> en kyk na:
>
> Droëwaterval.
>
> 'n Mindere geologiese gebeurtenis;
> swart oervlekke in strepe teen die rots.
> Soos die skaduwee van water.
> As jy lank genoeg na die klip staar,
> kan jy jou verbeel
> jy hoor water,
> 'n dun verbrokkelde stroom
> wat soos vloeibare koelte
> in spattende eggo's val.
>
> My kinders dink die naam Droëwaterval is snaaks.
> Ek weet dis laf.
> Donker vlekke op rots is nie water nie.
>
> Ons klim in die kar en ry.
> My kinders giggel om verveling te besweer.
> Agter hulle oë, diep in die toekoms,
> bruis hulle dade reeds onkeerbaar oor dae.
>
> (Kyk!
> Hulle ry alleen oor die oop Karoo
> en los my by die gevlekte rotse
> van my berg!
>
> Op die dun pad
> na Beaufort-Wes
> en verder noord,
> verby Zimbabwe
> tot oorkant Olduvai
> waar die horing van Afrika
> afsplit in 'n nuwe land
> ry hulle steeds!
>
> Dit pla hulle nie
> dat vroeë mens en dier
> uit die tye van die groen Karoo
> vergete in die gestolde klippe lê
> waarmee die dun pad gepak is!)
>
> Hulle ry voort.
> Hulle ry steeds voort.
|
|
|
Re: " Droë Waterval " deur FERDI GREYLING [boodskap #42216 is 'n antwoord op boodskap #42145] |
Vr, 18 Mei 2001 17:05 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Max wrote:
> Langs watter pad?
>
>> Gloudina:
>> ... Daar is, in die Swartberge,so 'n plek soos Droë Waterval.
Èk weet nie verseker nie, maar ek dink dis in die Swartbergpas.Ek het 'n
foto gesien van die naambord "Droë Waterval." Soos
die gedig sê, dis nie 'n regte waterval met water nie, maar net
vlekke op rotse wat soos water lyk.
Ek dink dis 'n baie goeie gedig hierdie. Merk op hoe die digter
in die begin vertel van sy kinderjare wat soos stalagmiete gevorm
is deur alle soorte ondervindinge. Die woord Kango-grotte word
nooit genoem nie, maar die "drup" deur die eeue word 'n simbool.
Hy gebruik ook die simbool van die water wat bruis oor 'n
waterval, om die lewe en die toekoms in sy kinders se oë te
beskryf.
Uiteindelik, gebruik hy nou nie juis die naam Droë Waterval
as simbool van homself as ouerwordend nie?
Gloudina
|
|
|
Re: " Droë Waterval " deur FERDI GREYLING [boodskap #42271 is 'n antwoord op boodskap #42145] |
Sa, 19 Mei 2001 12:25 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Max wrote:
>> Gloudina:
>> ... Ek dink dis 'n baie goeie gedig hierdie.
>
> Ek ook!
>
>> ... Uiteindelik, gebruik hy nou nie juis die naam Droë Waterval
> as simbool van homself as ouerwordend nie?
>
> ...of sy verknogtheid aan die verlede... (Is dit die goeie woord?)
Ja! Jy is reg. Hy wil juis uitwys hoe "vooruit-strewend" die jongergeslag
ook is. Dat hulle voort kan ry, nie net deur Suid-Afrika nie,
maar deur Afrika en verby! Kry jy die verwysing na Olduvai? Dismos die
plek waar Leakey die fossiele van die eerste mens gevindhet. Olduvai is
in die Skeurvallei van Oos-Afrika. Nou, dit word
gesê dat die Horing van Afrika, wat anderkant die Skeurvallei lê,
in die baie verre toekoms van Afrika sal afbreek en wegdryf. Die
digter, in hierdie gedig, laat dan "die kinders" reis vanaf die fossiele
van miljoene jare gelede daar in die Klein-Karoo tot by die Afrika
van miljoene jare in die toekoms, en gebruik dit as simbool.
Jy sê jy lees nie gewoonlik "die gediggies" wat ek op die
nuusgroep plaas nie. Is dit omdat jy hulle nie gewoonlik goed
genoeg vind nie, of om jy nou net nie van "gedigte" hou nie. Ek
dink jy het dit in jou om goeie gedigte te geniet en te waardeer.
Lees weer "Waatlemoen" van Opperman wat ek kort gelede
gepos het, en vertel vir my wat jy daarvan dink.
Gloudina
>
|
|
|
Re: " Droë Waterval " deur FERDI GREYLING [boodskap #42350 is 'n antwoord op boodskap #42145] |
So, 20 Mei 2001 14:28 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Max wrote:
> Waatlemoen is 'n goeie voorbeeld daarvan
> Ek het hom nou al vier keer gelees, maar weet nog nie wat ek
> daarvan dink nie... Dis nie vir my 'n lekker gedig om te lees nie, as jy
> verstaan wat ek bedoel. Dit wroeg en dit draai binne in my as ek dit
> lees...
>
> Ek weet ook nog nie seker wat om as beeldspraak te lees nie, want net
> toe ek dink dis 'n vrou toe's dit weer 'n vrug.
>
> Maar ek gaan jou nog sê wat ek daarvan dink, sodra ek besluit het...
> Wees maar net geduldig...
Wel, Max, jou reaksie op die gedig is heeltemal geldig. Ek dink diedigter
wil hê dit moet wroeg en draai binne in jou.
"Kroniek van Kristien" is 'n siklus van sonnette. Hulle handel
basies oor 'n (heelwaarskynlik wit) vrou wat tussen swartmense
werk (heelwaarskynlik soos 'n sendeling of soiets).
In "Waatlemoen" neem Opperman dan die simboliese referensie-punte
van die waatlemoen-as-vrug, die-waatlemoen-wat-oopgesny en dus
opgeoffer word, die-waatlemoen-wat-voedsel word (vir swart, bruin
en wit) om 'n sonnet te skryf wat mens as "godsdienstig" kan sien.
Ek het ook "Papaja-bos" vir jou gepos. Hier doen hy dieselfde
ding. Die aksent is net meer op die "afkap."
Opperman het in Natal grootgeword, in Pietermaritzburg
universiteit toe gegaan en later vir 'n ruk daar onderwys gegee in
'n hoërskool. Sy gedigte is deurtrek met beskrywings wat beinvloed
is deur sý deel van SA, die subtropiese dele. Ek het baie van my
werksloopbaan ook in Natal deurgebring, en is dus spesiaal lief vir
hierdie faset van sy gedigte.
Gloudina
>
|
|
|
Re: " Droë Waterval " deur FERDI GREYLING [boodskap #42354 is 'n antwoord op boodskap #42145] |
So, 20 Mei 2001 14:39 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Max wrote:
> Hallo Gloudina
> (Het julle somer darem ook begin in Kanada?)
Ek dink nie wat ons nou hier het, kan somer genoem
word nie. Liewers "hooglente." Ek maak 'n verskil
tussen vroeg-lente, wanneer die krokusse begin uitkom
en die grape hyacinths en die violets (wat wild in die
Maritimes groei) op die grasperke uitkom, sodat mens
jammer is om die eerste keer die gras te sny.
Die teken dat die "hooglente" daar is, is as die lilacs
uitkom, en die tulpe hulle toppunt bereik, en die crab
apples vol pienk en wit bloeisels is. Crab apples is
wilde bome wat die hele jaar maar net rondstaan in tuine
en lanings, en wag vir die twee weke of so in die lente
om uit te breek in lanings en plate van bloeisels.
Ons Tulip Festival was die afgelope week aan die
gang. Volop rock concerts en ander uitstallings en
konserte. Ek moet bieg dat ek nog nie vir 'n volledige
inspeksie van die tulpe by die Experimental Farm was
nie. Maar mens sien genoeg van hulle as jy net daar
verby ry. Die tulpe aanplant is oorspronklik geinspireer
deur die geskenk van duisende tulpebolle van die
Nederlandse koninklike huis, om dankie te sê vir die
feit dat Kanada die koningin en haar kinders gehuisves
het gedurende die Tweede Wereld-oorlog.
Gloudina
|
|
|