Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Dit!!!!
Dit!!!! [boodskap #40712] |
Vr, 30 Maart 2001 04:52 |
Rico
Boodskappe: 823 Geregistreer: Julie 2001
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Ons het hier gespreek oor blou, maar hier is 'n betoog oor DIT.
Ook uit die Burger/
Gr. Rico
26/02/2001 19:14 - (SA)
'Dit' skuil agter vele vermommings
Fritz Ponelis
Die voornaamwoord dit wat in die volgende sinne gebruik word, is algemeen
gebruiklik en baie bekend: dit hinder hulle blykbaar nie; dit is 'n fout;
stel dit liewer anders. Maar dit kruip agter 'n verskeidenheid vermommings
weg.
In sekere verbindings word hier en daar in plaas van dit gebruik: daaraan/
hieraan gewoond wees; daarvan/hiervan hou; daarop/hierop reken;
daarteen/hierteen besluit; daarvoor/hiervoor stem. Dié daar en hier is in
betekenis en gebruik gelyk aan dit. Hulle is dus voornaamwoorde, hoewel
hulle soos die ruimtelike bywoorde daar en hier lyk. Die ruimtelike bywoorde
(of bywoorde van plek) word gebruik in sinne soos: Hulle staan hier; Sit dit
asseblief daar neer.
In die spreektaal is daar 'n sterk neiging aan die opkom om dit in plaas van
hier en daar in die pas genoemde verbindings te gebruik; dus bv.: van dit
hou (in plaas van daarvan hou), op dit reken, vir dit stem. Dit is asof die
spreektaal die vermomming van dit afhaal.
Dié daar en hier met die waarde van dit is iets wat die Germaanse tale in
die geheel van hul susters in die Indo-Europese taalfamilie, soos Frans of
Russies, onderskei. Afrikaans het dus iets behou van dié tipies Germaanse
verskynsel wat al duisende jare oud is.
Daar met die waarde van dit word ook aangetref in die woord "daarenteen",
wat letterlik "teen dit" beteken. Verder tref ons 'n soortgelyke daar aan
in: daar word gesê/aangevoer/vertel/ vermoed dat . . . In dié geval bestaan
daar ook 'n neiging om die daar deur dit te vervang: dit word gesê dat . .
., ens.
'n Tweede verskyningsvorm van dit is dien: met dien verstande, te dien
einde, dienaangaande, dienooreenkomstig, sedertdien, dientengevolge,
bowendien, buitendien. Dit kom ook hier na vore in parafrases soos:
aangaande dit, sedert dit. Soos des is dien 'n argaïese deftige vorm wat op
pad is om uit te sterf. In gewone taal is dit van die hele reeks met dien
net "sedertdien, bowendien, buitendien" wat nog gebruiklik is.
'n Vorm verwant aan dien word aangetref in die idioom: Wiens brood men eet,
diens woord men spreek. Dié spreekwoord is een stuk argaïese Nederlands wat,
interessant genoeg, as 'n lewende idioom in Afrikaans gebruik word. Die
diens van "diens woord" is "dié se"; dus: dié se woord. Met die Nederlands
is daar 'n enkele kinkeltjie, nl. die vorm "spreek". In korrekte Nederlands
is dit natuurlik "spreekt", maar in die Afrikaanse spreektaal het ons van
die "t" aan die einde ontslae geraak.
Nog 'n gedaante waarin dit hom voordoen, is des, in 'n klompie formele en
selfs deftige vorme: desnieteenstaande, desnietemin, desondanks,
desbetreffend, desverkiesend, desgewens, desbevoeg, desgelyks, desgevraag,
deskundig.
Parafrases van dié vorme bring aan die lig dat des deur dit vervang kan
word: desnieteenstaande = nieteenstaande dit, desondanks = ondanks dit,
desbetreffend = wat dit betref, deskundig = kundig wat dit betref. Des is
hier 'n ou naamvalsvorm van die element waaruit Afrikaans se dit ontstaan
het.
Taalhistories is daar duidelike verskil tussen des in die gevalle bo en die
des wat in die volgende uitdrukkings gebruik word: steen des aanstoots,
sonder aansiens der persoons, kind des doods, kwelling des geestes, in my
dag des lewens, desnoods. Die des van bv. "steen des aanstoots" is 'n vorm
van die lidwoord "die" wat nes die des van bv. "desnietemin" stokoud is en
tot 'n handjievol vaste uitdrukkings besperk is.
Die des- van die volgende woorde is weer heeltemal iets anders: deshonoreer,
desillusie, desinfekteer, desintegreer, desorganiseer, desoriënteer. Dié
des- is 'n voorvoegsel wat nog in ouer Afrikaanse woordeboeke voorkom, maar
vandag glad nie meer gebruik word nie.
Teenswoordig gebruik ons dis- in plaas van des- in dié gevalle: dishonoreer,
disillusie, disorganiseer, ens.
Al die ou min of meer lewende ekwivalente van dit laat blyk dat 'n taal ou
vorme nie sommerso op die ashoop laat lê nie, maar altyd nissies het waarin
sulke ou veterane 'n kansie kry om iets te doen, al is die takie ook hoe
beperk. So klink die verste verlede in die taal deur wat ons elke dag
gebruik.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Do Nov 28 01:49:28 MGT 2024
|