toekoms van Afrikaans in SA. [boodskap #40709] |
Fri, 30 March 2001 04:34 |
Rico
Boodskappe: 823 Geregistreer: July 2001
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Ek het dit gelees in Die Burger.
Gr. Rico
26/03/2001 20:34 - (SA)
Wil van sprekers bepaal hoe lewenskragtig hul taal is
Fritz Ponelis
'n Vooraanstaande Amerikaanse taalkundige het in 1990 op 'n vakkongres
opgemerk dat dit teen 2000 oor en uit gaan wees met Afrikaans. Die nuwe
millennium het intussen gekom, en Afrikaans het staande gebly.
Dit is vir taalkundiges riskant om hulle oor die toekoms van tale uit te
laat. Die beste wat hulle kan doen, is om verskynsels te bestudeer wat met
die lewenskragtigheid van tale te doen het. Dan gaan dit nie regstreeks oor
die onseker en duister toekoms nie.
Die lewenskragtigheid van 'n taal het in die eerste plek te doen met die
aantal gebruikers daarvan. Dit kan sowel moedertaal- as
niemoedertaalgebruikers wees.
Onder die sowat 6 000 tale wat vandag in die wêreld voorkom, is daar maar
ongeveer 600 wat meer as honderdduisend moedertaalgebruikers het en om en by
200 wat 'n miljoen of meer moedertaalgebruikers het. Die oorgrote
meerderheid van die tale in die wêreld word deur klein taalgemeenskappies
gebruik. Afrikaans met sy ses miljoen moedertaalgebruikers staan hoog aan
die "veilige" kant van dié lys.
Niemoedertaalgebruikers kan 'n aansienlike getalsbydrae lewer. Die magtige
Engelse moedertaalgemeenskap van 350 miljoen word aangevul deur twee keer
soveel niemoedertaalgebruikers. Dit is veral aan groot getalle
niemoedertaalgebruikers dat die Afrikataal Swahili het sy prominensie te
danke het.
Amptelike erkenning kan ook baie vir 'n taal beteken, maar dis 'n uiters
skaars hulpbron. Vir die wêreld se 6 000 tale is daar minder as 200
soewereine state waarin amptelikheid aan tale toegewys kan word. In sekere
state is daar so geweldig baie tale dat amptelikheid, hoe dunnetjies dit ook
al gesmeer word, nie by al die tale kan uitkom nie. In Papoea-Nieu-Guinee is
daar byvoorbeeld 850 verskillende tale, in Nigerië 410 en in Zaïre 210.
Suid-Afrika met sy elf amptelike tale is dus glad nie so sleg daaraan toe
nie.
Die potjievol amptelikheid word verminder deurdat die grootste deel daarvan
aan net 'n paar tale toekom, waaronder Engels, Frans, Arabies en Portugees.
Engels is byvoorbeeld amptelike taal in 45 van die erkende state en Frans in
30.
Afrikaans het nou vergeleke met Engels heelwat minder amptelike status as in
die vorige bedeling. Nietemin, die blote feit dat Afrikaans amptelike taal
is, maak daarvan een van net 'n handjievol in die wêreld.
Die amptelikheid van 'n taal is eintlik 'n onderdeel van die
kultuurtaalstatus van so 'n taal. Dit het te doen met die graad van
standaardisering van die betrokke taal, die gebruik daarvan in die media,
die literatuur, die reg, die onderwys, die godsdiens, die wetenskap en die
tegnologie; kortom oor die hele openbare spektrum. Weer eens rys daar vrae,
maar niemand sal ontken dat Afrikaans 'n goed ontwikkelde kultuurtaal is wat
aan sy gebruikers baie moontlikhede bied nie.
'n Uiters belangrike faktor wat die lewenskragtigheid van Afrikaans betref,
is die aanraking met Engels. Afrikaans kompeteer nie sommer met enige
hierjyse taal nie, maar met die grootste, sterkste en invloedrykste taal wat
daar nog was. Weens die uitgebreide en ingrypende Engelse akkulturasie wat
Afrikaanssprekendes die afgelope twee eeue ondergaan het, ervaar hulle
Engels ook as vriendelike, omarmende taal. Afrikaans bevind hom, soos een
taalkundige dit pittig uitdruk, in die omhelsing van Engels.
Die massale Engelse invloed kan 'n uitwerking op die lewenskragtigheid van
Afrikaans hê. Die vermenging van Afrikaans kan beteken dat Afrikaans sy
selfstandigheid verloor. Afrikaanssprekendes kan begin vra: Watter sin het
dit om hierdie Engelsbeïnvloede Afrikaans nog naas Engels te behou?
Op die keper beskou is die heel belangrikste faktor in die lewenskragtigheid
van 'n taal die wil van sy sprekers. As die sprekers dit wil, as hulle dit,
ondanks alles, as die moeite werd beskou om die taal te behou, het die taal
'n kans. Hierdie wil is iets totaal anders as 'n houding van: Ag, ek sit
opgesaal met hierdie vergalgste mindere taal wat ek teen wil en dank en hoe
dan ook gebruik.
Die wil van sprekers is toekomsgerig in die sin dat hulle die taal wat hulle
waardig ag aan hul kinders, aan 'n toekomstige generasie, wil oordra. Dit
impliseer die bevordering van daardie taal se openbare gebruik en van die
instellings waarbinne daardie taal gebruik word.
|
|
|