Koorsang [boodskap #33569] |
Sun, 20 August 2000 00:00 |
Sandra Nortje
Boodskappe: 23 Geregistreer: August 2000
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Koorsang
Dit is die duurste verdomde kaartjies wat ek nog ooit moes koop. Maar as jy
iets wil hê wat die moeite werd is, dan moet jy bereid wees om daarvoor te
betaal. En ek het. Maandelank het ek my weeklikse paaiemente betaal. Ook
maar goed so, want om s'n rekening op een slag te vereffen is meer as wat
die meeste mense sal kan doen.
En toe uiteindelik die show. Groter as Van Veen by die kunstefees, Pavarotti
op Loftus, of selfs die drie tenore by die Uniegeboue. Baie groter. 'n Aand
om te onthou.
Met sorg het ek my uitgedos vir die geleentheid. Ek het voor die spieël gaan
staan en myself van kop tot tone opsommend beskou. Soos wat dit soms gebeur,
het ek vir myself te gelykertyd so bekend en so vreemd gelyk. So, half
tevrede, is ek daar weg.
Ek sê mos dit was 'n geleentheid wat ek nie wou misloop nie. Geselskap sou
net steurend wees. Ek wou alleen gaan kyk en gaan luister. Self oordeel. En
my sitplek was heel voor.
Na die gewone instem van die orkes, het daar 'n stilte oor die gehoor
gedaal. En toe kom hulle op die verhoog gestap; rustig, een vir een. Dit het
nie gelyk asof hulle eers van die gehoor bewus was nie, maar jare se
oefening was duidelik te sien in die manier waarop hulle hulself gegroepeer
het.
Toe almal hulle plekke ingeneem het, kon ek elke gesig afsonderlik
ondersoek. En soos hulle in die ou stories sou sê: Wat was my verbasing
groot toe ek besef dat ek elkeen van die koorlede ken. Goed ken. Elke gesig
was vir my byna oorbekend, alhoewel ek nie dadelik meer elkeen se naam kon
onthou nie. Dit was net die dirigent wat op geen stadium sy gesig na die
gehoor toe gedraai het nie. En die lang toga het sy vorm eintlik heeltemal
verbloem, maar toe hulle eers lostrek en soos een mens begin sing, toe weet
ek, hierdie ou weet wat hy doen. Hy kry elke krieseltjie klank en emosie op
die regte tyd uit elkeen van hulle uit. Hulle kón sing.
Dit was nie heeltemal 'n heuglike aand nie. Die program het stadig begin,
maar geleidelik opgebou na musiek van 'n baie emosionele aard. Aan die einde
daarvan was dit asof daar 'n soort katarsis beleef is. Byna soos dit in 'n
Griekse tragedie sou wees. Die gehoor het, sonder applous, saggies en stadig
die teater verlaat. Ek het bly sit, want ek kon nie roer nie. Ek kon skaars
asemhaal.
Die koor het net so bly staan. Na 'n tydjie moes hulle gedink het dat die
saal al leeg was, want hulle het rustig en gemaklik begin rondstaan en
gesels. Dis toe wat ek sy gesig vir die eerste keer kon sien, toe hy
onverwags omdraai - die dirigent. Soos wat dit soms gebeur, het hy vir my te
gelykertyd so bekend en so vreemd gelyk.
Franz Kafka rejected psychoanalysis because he feared that exorcising his
demons would exorcise his angels as well; but my angels taught my demons to
sing.
(Richard Rhodes - How to write)
|
|
|