WVK [boodskap #32563] |
Fri, 21 July 2000 00:00 |
|
Oorspronklik gepos deur: Parra Doks
"Daar was baie kwelpunte, maar omdat ons so versigtig was om mekaar
nie in die gesig te vat nie (en ons wittes het 'n paranoia ontwikkel
om as rassiste bestempel te word as ons dit durf waag het om uit te
praat) het ons versuim om sterk debat daaroor te voer.
Dit het tot probleme aanleiding gegee toe die WVK se werk begin het.
Ras was 'n deurlopende tema, hoewel dit selde genoem is. In terme van
die ou rasse-klassifikasies het die WVK bestaan uit swartes,
Kleurlinge, Indiërs en wittes.
Dis duidelik vir enige politiekbewuste Suid-Afrikaner dat wittes
bevoordeel is deur apartheid - dis nie vir my 'n probleem om dit te
erken nie. Maar ek het die gevoel by swart lede gekry dat ons wittes
op die een of ander manier moes 'boete doen' vir ons witheid, dat ons
onomkeerbaar rassisties is en as ons ooit nie met swart lede
saamgestem het nie of hulle kwaad gemaak het, was dit omdat ons wit
heerssugtigheid deurslaan.
Die rassistiese-kaart is by elke geleentheid uitgehaal, al is dit
subtiel gedoen. Dit het nie saak gemaak of dit was by aanstellings van
personeel, by die samestelling van panele vir verhore, besluite oor
wie besoekende BBP's ontmoet, wie die media toespreek of wat nie. Om
sake te vererger, was dit duidelik dat net swart 'swart genoeg' is en
dat niemand wat nie swart was, genoeg gely het, genoeg vernedering
deurgemaak, of genoeg pyn gehad het nie.
Tot my verbasing het ek gevind dat wit WVK-lede agteroor gebuig het om
dié siening te akkommodeer. Ons het dit gedoen om konflik te vermy, om
die werk afgehandel te kry, om die kommissie bymekaar te hou, omdat
ons skuldig gevoel het daaroor dat ons wit is, ons het dit om talle
redes gedoen.
Ons moes seker geweet het in die WVK-broeikas sou elke twispunt en
omstredenheid in SA nie net ter sprake kom nie, maar vergroot word.
Die feit dat ons gewerk het om die nasie te versoen, het nie
noodwendig beteken ons het dinge onder mekaar uirgewerk nie.
Ek glo nie ons het al die twispunte ooit bygelê nie. Ons het naderhand
geleer om saam te werk, om mekaar te raadpleeg en om (die meeste van
die tyd) te glo dat ons almal mense met integriteit is.
Ons het dit noodgedwonge gedoen, eerder as omdat konflik opgelos is.
Dalk kan sulke konflikte nie opgelos word nie, dalk moet ons maar
daarmee saamleef."
- Dr. Wendy Orr, WVK-kommissaris, in haar boek 'From Biko to Basson'
|
|
|