VEG TEEN SWARTGALLIGHEID [boodskap #30568] |
So, 14 Mei 2000 00:00 |
Frikkie Potgieter[2]
Boodskappe: 439 Geregistreer: November 2000
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Tieners wat selfmoord pleeg, jong mense wat in strome die land uit
vlug, dwelmmisbruik selfs in laerskole en anti-depressante wat op
groot skaal gebruik word deur kinders. Dit alles is nie eers meer nuus
nie. Dit kom algemeen voor.
'n Geestelike berader wat onlangs besoek afgelê het by verskeie skole
vertel dat hy orals 'n oorheersende gevoel van negatiwiteit teekom. Hy
sê ons jeug is swartgallig.
'n Mens kan dit seker verstaan, want wat het hulle nou eintlik om na
uit te sien? Werk is skaars, studiebeurse vir blanke kinders bestaan
nie meer nie en Suid-Afrika is vinnig besig om agter te raak in die
wêreld van inligtingstegnologie.
Kinders by sommige staatskole beweeg elke dag in 'n wêreld waarvan
hulle ouers geen begrip het nie. Baie van hulle moes die afgelope paar
jaar beleef hoe hulle pa's wat altyd die voorsieners was, hulle werk
verloor het en in baie gevalle daarmee saam, hulle status en
selfrespek. Ouers wat nog werk het, kom saans moeg by die huis en is
maar net te bly as die kinders nie in die pad is nie. Die ouers is
self in 'n aanpassingstryd gewikkel.
Die nuus is negatief en in gesprekke tussen grootmense word daar
hoofsaaklik net gekla.
Daar word gekla oor die politiek, belasting, hoë petrolpryse, swak
paaie, misdaad en geweld en 'n werksituasie waarin kundiges dikwels
die werk moet doen van onkundiges wat oor hulle aangestel is.
As die grootmense geen toekoms sien nie, waarom sal die kinders?
'n Mens wonder of die Boerevolk ooit die binneland sou getem het,
indien die Voortrekkers hulleself oorgegee het aan 'n gevoel van
mismoedigheid. As daar nou ooit 'n groep mense was wat rede gehad het
om swartgallig te wees, dan was dit die Voortrekkers.
Met 'n vyandige regering agter hulle, moordlustige bendes in die
onbekende voor hulle, 'n Bloukrans en Weenen op hulle pad, vreemde
siektes wat hulle nie kon beveg nie en natuurlike hindernisse wat
oorkom moes word. Watter hoop kon hulle hê vir die toekoms?
Ons kan nie 160 jaar later weet hoe die jeug van daardie tyd die dinge
ervaar het nie, maar uit die skrywes en dagboeke van grootmense blyk
dit duidelik dat daar 'n soort besieling was. Die mense is gedryf deur
'n anker van geloof en aangevuur deur 'n nuwe visie.
Vandag word ons weer geteister deur moordbendes, onbekende
omstandighede en 'n vyandige regering. Die pad van die Groot Trek lê
egter nie meer oor die Drakensberge nie, maar na binne. Diep binne
elke mens, waar hy nie net die anker van geloof moet vind nie, maar
weer 'n nuwe visie.
Noem dit 'n ideaal vir die toekoms, of selfs 'n ydele droom, maar vind
'n visie, glo daaraan en deel dit met die jeug.
'n Kind wat kan vashou aan die hoop dat hy eendag in 'n land kan woon
waar sy ouers nie vermoor gaan word nie, waar sy besittings nie
gesteel gaan word nie, waar hy 'n goeie kans gaan hê om te leer en in
'n werk te presteer, kan mos nie negatief wees nie.
Die pad na die ideaal is nie maklik nie, en ons moet onsself nie bluf
nie, maar in plaas daarvan om vas te kyk teen die duwweltjies, waarom
lig ons nie 'n slag ons koppe op en kyk ver in die toekoms in nie?
Kyk oor die Drakensberge na die beloofde land en praat daaroor. Skep
die droom en u sal verbaas wees met hoeveel ywer die jonger geslag die
pad soontoe sal vind.
|
|
|