Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Lord Methuen uitgeoorlê - 6
Lord Methuen uitgeoorlê - 6 [boodskap #28509] Wed, 15 December 1999 00:00
Simon van der Schans  is tans af-lyn  Simon van der Schans
Boodskappe: 263
Geregistreer: January 1999
Karma: 0
Senior Lid
Lord Methuen uitgeoorlê deur Generaal de la Rey.

Deur G.A. van der Walt

Deel 6
______________________________________

Toe die geveg op sy hewigste was, het die boere soms nie geweet
nie, waar hulle hulp die meeste nodig sou wees nie. Hulle het
dan op die een kant, dan weer op die ander kant geskiet. Hulle
was ook glad nie suinig met die patrone nie, en so het party nog
uitgeraak. Eén van die jongkêrels, (dieselfde een, waarvan ons
so pas gesien het), wat ook uitgeraak het en geen tyd wou vat om
na die laerplek te ja nie, loop 'n ontwapende Engelsman raak.
Die Engelsman was sonder 'n geweer, maar het nog geloop met 'n
patroonband om. Die boertjie vra sy patroonband, maar word nie
verstaan nie. Die troep verstaan gin woord Hollands nie, en die
boertjie kan gin woord Engels praat nie, maar hy wil die patrone
hê. Hy maak 'n plan. Hy vat die troep aan sy arm en lei hom na
'n miershoop. Hy klim op die miershoop en laat die Engelsman
naasaan hom stilstaan. Toe die Engelsman nêrens aan dink nie,
kry hy 'n raak hou en val teen die grond. Die jong boertjie vat
die patroonband en ja, weer ryk aan ammuniesie agter ander vyande
aan. Dieselfde boertjie van toe was offisier met die ekspediesie
na Duits Wes in 1915.

Genl. Lord Methuen het skynbaar met die voetgangers saamgery na
die kraal of na die huise, want sowat halfpad tussen die plek
waar die laer gevat is en die kraal kry 'n klompie burgers 'n
gewonde offisier, wat met sy voete teën sy doodgeskiete perd,
aanlê, en van wie die been met 'n paar gewere gespalk is. Toe
die mense sy wapens wil kom vat sê hy dat hy Lord Methuen is, en
sy wapens alleen aan Genl. de la Rey sal afgee. Die boere het
toe soveel respek vir die Engelse voorman gehad, dat één wat die
Rooitaal tamelik goed kon slaan, as wag by Lord Methuen gebly is,
om op te pas, dat boere, wat nog van agter aankom die gewonde man
nie sou hinder nie. Onderwyl dat die gewoel en geveg, die geja
en die hardloop aan die gang is, sal dit maklik kan gebeur, dat
'n gewonde elke keer 'n besoek kry van ander boere, wat nie
gesien het, dat hy al deur die of die ontwapen was nie. Party
was ook maar biesonder lief om 'n man te skud, om op die manier
'n goeie bedekking vir sy eie liggaam te kry. Die gewoonte was
egter nie algemeen nie. Ons kry nou nog mense wat roem dat hulle
nooit nodig gehad het om iets van 'n Engelsman te dra nie. Dit
was meesal die mense, waarvan die vrouwens uitgebly het, en hulle
altyd weer 'n plan kon maak om ou klere reg te maak. Toe die ou
Generaal gesoek moes word, om by Genl. Methuen te bring, moes
rondgery word, om hom te kry.

Die Generaal het die more ook maar swaar gekry. Hy kon nie
oorals tegelyk wees nie. In die eerste plaas moes hy oppas, dat
hy nie van die burgers sou agterlaat nie, en hierin moes 'n mens
baie versigtig wees. Op een plek sien die Generaal 'n paar mense
eenkant ry en meen, dat hulle wil probeer om vry te kom van veg.
Hy ry na hulle toe en dreig op 'n afstand met die karwats, en wys
dat hulle moet ja, na die vegplek. Die twee perderuiters ry maar
stadig deur net of hulle nie die minste gedagte het van die swaai
met die karwats nie. Die Generaal ry verder in die rigting van
die twee mans en sien toe eers dat dit Engelse was en dat binne
twee honderd tree van hom af nog 'n klomp gewapende voetgangers
lê. Gelukkig, dat die ou Generaal nie gouw geskrik het nie. Hy
draai saggies die perd weg en maak of hy geen gevaar gesien het
nie. Later moes hy maak, dat hy by die gevatte laer kom, om te
sorg dat alles ordelik sal gaan met die buitgoed. Die Generaal
wou in gin geval toestaan dat elkeen maar sou vat, wat hy sien,
wat goed is. Al die buitgoed moes bymekaar bly, tot die geveg
helemaal afgeloop sou wees. Na afloop van die geveg sou elkeen
sy deel kry.

Gedurende die tyd wat die man by Lord Methuen wag gehou het, voor
Genl. de la Rey gekom 't, het Lord Methuen gemerk dat die man,
wat by hom gebly het, ook 'n offisier was, want die jong boere
het na hom geluister en sy orders uitgevoer. Een van die jong
boere het 'n klompie papiere by Lord Methuen gevat, maar alles
weer gou aan die man op die wag, afgegee. Lord Methuen begin 'n
bietjie met die man te praat oor wat voorgeval is in die distrik
en die man noem dadelik die treurige behandeling van die vrouwens
en kinders, wat met die oorlog niks te make het nie.

Solang die gesprek gevoer is, het hulle die ou Generaal nog
gesoek, en om hom te kry, was dit die maklikste om op die perde
te let. Elkeen het die Generaal aan sy perd geken. Na 'n rukkie
soek, kom Genl. de la Rey aangery na Lord Methuen, by wie nog
altyd wag gehou word. Genl. de la Rey is nie eers so haastig,
dat hy aangeja kom nie. Hy lat ou Bokkie (sy ou perd), maar sy
gewone gangetjie loop. Die ontmoeting van die twee Generaals was
natuurlik 'n bietjie om indruk te maak. Die één in sy offisiers-
uniform, met die hoë titel van Lord voor sy naam, lê as 'n
magtelose gewonde op die veld. Die ander in 'n gewone
burgerpakkie, wat alleen geleer het om boer te wees, maar deur 'n
natuurlike aanleg dit gebring het tot die hoogste rang in die
republikeinse burgermagte, staan as oorwinnaar voor hom. Die
eerste na alle waarskynlikheid met die gedagte aan al die kwaad,
wat hy gedoen het, nie alleen op die slagveld nie, maar wat onder
sy oppertoesig aan die boere-gesinne gedoen is in verskillende
gedeeltes van die ou Republiek, om nie eers te praat van Genl. de
la Rey se eie distrik nie. Die ander kon die gedagte aan wraak
vir al die wraad aangewakker, en sou dan bly kan wees, dat die
dag van vergelding aangebreek was. Maar Genl. de la Rey was nie
alleen 'n vegsman van die eerste rang nie, hy was ook 'n Kirsten
en het die gedagte aan wraak geen pos laat vat nie in sy hart.

Toe hulle bymekaar is, vra Lord Methuen: "Is dit Genl. de la
Rey."

Genl. de la Rey gee antwoord en sê: "Ja, is jy Lord Methuen."

Lord Methuen sê: "Ja."

Eén van die manne van die staf van Genl. de la Rey sê: "Dan het
Lord Methuen nou ook sy riempie styf geloop."

Lord Methuen sê: "Ja maar ek het nie my eie Kolom gehad nie, had
ek die nog, dan sou dit anders geloop 't."

Genl. de la Rey sê: "Jy kan nie meer praat oor jou eie kolom nie,
want die het ek al voor jou gevang in die slag by IJzerspruit."

Genl. Methuen sê: "Wel, dit was vanmore 'n fairplay fight"!

Genl. de la Rey sê: "So! hoeveel mense het jy gehad?"

Genl. Methuen sê: "My mense was 1400."

Genl. de la Rey sê: "Maar dan was dit nie 'n "fairplay fight"
nie, want ek het minder as 700 gehad en dan moes ek nog oor die
vlakte aankom, en jy het al die miershope vir forte gehad."

In die tyd dat Genl. de la Rey by Lord Methuen was, is ook Ds.
Naude bygekom, en het met sy kamera gou 'n paar foto's van een en
ander geneem, maar die printjies is nie mooi duidelik in die
boek, wat Ds. Naude geskrywe het, gekom nie. Ds. Naude is toe
verder opgetree as tolk, waar dit nodig gewees 't.

In die verdere gesprek tussen die twee generaals maak Lord
Methuen ook sy verontskuldiging oor die behandeling van die
vrouwens en kinders en vra in besonder na Mevr. de la Rey. Op
die eerste gee Genl. de la Rey nie 'n antwoord nie en op die
vraag oor sy eie huisgesin moet Lord Methuen hoor, dat Mevr. de
la Rey in die vlug vir die Lord nog altyd gesond is, en na haar
huis afgebrand was, sy van die wa 'n thuisplek gemaak het.

'n Rukkie later in die gesprek kom ook éen van die Engelse
kolonels vorentoe en sê: "Genl. de la Rey kan bly wees, met die
groot buit, wat hy gemaak het". Maar die gesegde was te veel vir
die ou Generaal. Hy word sommer op die plek kwaad, toe hy die
woorde hoor, en in die antwoord wat hy gee, kom die ware
patriotisme van die Generaal duidelik uit. Die antwoord van die
Generaal, gee die diepste van sy oortuiging weer, as hy sê: "Wat!
buit! buit! buit! buit! be damned! Ek veg nie vir buit nie. Ek
veg vir my land en volk. Vir my part kan hulle die buit op 'n
hoop dra en aan die brand steek."

Lord Methuen en die kolonel bly toe albei stil. Die hoë ideale
van so 'n eenvoudige boer, in die paar woorde uitgedruk, was
seker ver bokant hulle jakhals om 'n antwoord hierop te kry. Met
gesels sou hulle nou nie verder kom nie.

Die Engelse Generaal was geskiet deur sy been en moes verpleeg
word. Genl. de la Rey vra vir Lord Methuen wat hy die liefste
sou verkies wat met hom gedoen sal word, en die Engelsman sê, dat
hy liefs verpleeg wil word deur sy eie dokters, wat hom kan
verstaan. Dit is hom toe dadelik toegestaan, want die boere-
ambulans was maar skaars van verbandmiddele. Toe die boere Lord
Methuen gekry het, was sy been op 'n manier gespalk met 'n paar
gewere, maar nou kom die Engelse dokter en die boere-geneesheer
Dr. von Raankampf, en hulle twee behandel die wonde so goed as
maar mogelik was. Dit was natuurlik onmogelik vir Lord Methuen
om op te staan, want die regterbeen was bokant die knie
afgeskiet. Hy moes versigtig in die waantjie gedra word. Hoe
nou verder met Lord Methuen gemaak moes word, hang nie alleen van
Genl. de la Rey af nie, tenminste hy wil die opienie van die
ander offisiere ook weet, en laat daarom, op di slagveld, 'n
krygsraad beleg. Die meeste offisiere was gou bymekaar, en hier
op die slagveld is dadelik deur die offisiere besluit om Genl.
Methuen met éen van sy eie ambulans waens weg te stuur na
Klerksdorp met sy dokter, om daar in die hospitaal behandel en
versorg te word. Ook werd die besluit geneem, dat Genl. Methuen
sy persoonlike besittinge, die laaste dingetjie sou mag behou,
ook sy eie waantjie. Dit het toe nog 'n rukkie geduur voor die
gewonde generaal kon wegry, en in die tyd, dat hy nog daar lê,
gaan ook die vrouwens kyk of hulle nie misskien iets vir hom kon
doen nie. Hulle het noudat hy gewond is jammer vir hom gekry.
Maar dit het gelyk of hy skaam gekry het. Hy trek sy keps oor sy
gesig en vra dat hulle die vrouwens sal wegstuur. Wie weet,
misskien het hy ook sleg gevoel, omdat die vroumense in die
distrik al so swaar gekry het deur sy bevele. Solang hy daar
moes bly lê, meen één van die burgers 'n goeie diens aan Lord
Methuen te verrig, as hy die gesonde been ontdoek van die
bekleedsel, maar die man word deur Genl. de la Rey weg gedryf.

By IJzerspruit het Genl. de la Rey net so gemaak. As hy sien dat
een van die boere sy hande uitsteek aan 'n gewonde vyand is hy
klaar met die karwats, om sy ontevredenheid oor so iets nie
alleen te wys nie, maar ook te laat voel.

Die waantjie is nou klaar gemaak so gou as mogelik om vir Lord
Methuen onder geleide van die wit vlag weg te stuur. Toe die
burgers agter kom dat Genl. de la Rey besluit het om vir Lord
Methuen na Klerksdorp te stuur, was party van hulle ontevrede.
Hulle waag dit selfs om die waantjie te stop en wil dit met
geweld terug haal. Hulle wou hulle woede koel en 'n krygsraad 'n
vonnis laat vel oor die Generaal, wat buite die gevegte soveel
kwaad aan hulle famielies gedoen het. Maar Genl. de la Rey was
al weer 'n man van vlug handel en snelle besluite. Hy maak die
ontevrede burgers gou bymekaar en hou 'n warme toespraak, waarin
hy die burgers daarop wys, hoe dit 'n Kristen nie pas om hom self
te wreek nie, maar die wraak aan Hoër Hand moet toevertrouw. Na
lang en mooi praat het dit die Generaal geluk om die ontevrede
burgers tevrede te kry. Maar dit het omtrent 'n uur en 'n half
gevat voor hulle ingestem het met die Generaal, dat die wreek van
die kwaad, wat gedaan is, die boere se saak nooit beter sou kan
maak, en die gevolg was, dat Genl. Methuen weer kon ry en nou
gemaak het om in die pad te kom Klerksdorp toe.

'n Mens sou amper kan dink, dat daar 'n geestelike telegraaf-
draad was tussen die ou Generaal op die slagveld en die ou
President in Europa. Toe die ou President, te Utrecht in
Holland, die berig van die slag kry, en hoor hoe Lord Methuen
gevang was, het hy baie bly gevoel, maar toe één van die mense,
wat by hom is die opmerking maak, dat 'n mens kon hoop, dat Genl.
de la Rey vir Lord Methuen as gevangene sou hou, sê die ou
President: "Ek sou dit nie goedkeur nie. Ek hoop dat de la Rey
hom dadelik in vryheid sal stel, want ons as Boere moet ons tot
die end as Kristene gedra, hoe onbeskaaf die Engelse ook al mag
handel." Toe hy berig kry, dat Lord Methuen in vryheid gestel
was, het hy op ondubbelsinnige wyse laat merk hoe bly hy hieroor
was.

[word vervolg]

Swart Simon
Vorige onderwerp: Re: indie.co.za/ nog 'n vraag
Volgende onderwerp: Weermag Geselslys
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wed Dec 25 07:15:12 UTC 2024