Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Lord Methuen uitgeoorlê - 4
Lord Methuen uitgeoorlê - 4 [boodskap #28351] |
Wo, 08 Desember 1999 00:00 |
Simon van der Schans
Boodskappe: 263 Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Lord Methuen uitgeoorlê deur Generaal de la Rey.
Deur G.A. van der Walt
Deel 4
______________________________________
Solang die krygsraad gehou werd, het éen perd amper die hele ding
in die war gestuur. Die perd van Mnr. Cilliers, die broer van
Genl. J. Cilliers, wou nie mooi staan nie, en die eienaar was
verplig om die toom aan die stiegriem vas te bind. Die perd
draai en draai in die rondte tot die saal afgly, en die perd
skrik. 'n Hele klomp perde skrik vir die éen en set die rieme
neer. Gelukkig hol hulle nie na die Engelse se kant toe nie.
Was dit gebeur, dan was alles misluk. Dit was toe 'n hele
warboel, maar die meeste perde was gouw weer in hande. Enkele
was egter baie weg en kon in die nag nie gekry word nie. 'n Paar
is later eers gekry in die distrik Wolmaransstad.
Wag is altyd swaar vir 'n mens en Genl. de la Rey het nie so gouw
as hy dit verwag 't nie rapporte gekry en stuur nog meer man uit
om te spioen. Hy kan dan afwisselend rapporte ontvang, dan van
die een en dan van die ander, dan weet hy presies wat aangaan,
viral as die spioene niks van mekaar weet nie en elk vollens eie
planne moes handel. Daardeur is die ou generaal so gelukkig
gewees, om amper elke half uur berigte te kry van die bewegings
in die kamp van Lord Methuen, en al baie vroeg in die more het hy
geweet, dat die Engelse klaar gemaak 't om te trek.
Dit was natuurlik nooit stil in die nag van rumoer nie, en omdat
die lug so min of meer uit die Suide getrek het, kon die honde op
De Klipdrift, die drukte hoor, ten minste die groot waghond van
Mnr. Coetzee op De Klipdrift, blaf die nag elke keer. Die ou
tante en haar skoondogter Sannie met haar vier kindertjies het in
één huis gaan slaap, die laaste maande van die oorlog, en hulle
voel maar onrustig as Jameson elke keer die nag so geweldig blaf
na Tweebosch se kant toe, want ook hulle het geweet dat Lord
Methuen aan kome was van Vryburg, en vanaf Barberspan opgetrek
het al langs Klein-Harts rivier. Hulle kyk die nag elke keer
uit, maar hulle gewaar dan niks. Weinig kon hulle dink, dat
hulle werf 'n gedeelte van die slagveld sou word op die Sewende
Maart. 'sMorens kort voor dagbreek kon hulle al in die verte
perdepote hoor, maar dit was nog te ver om te kan uitmaak of die
geluid nader kom of nie. Maar uit voorsorg gaat die skoondogter
met een van die kindertjies, 'n seuntjie van amper ses jaar oud,
na haar eie huis, omtrent 150 tree van haar skoonmoeder se huis
af, om te maak dat die huis nie alleen moet staan nie, as daar
gevaar kom. Hulle het geweet die Engelse kan maar elke oomblik
kom, en dan verniel hulle nog meer as daar gin mense in die huis
is nie, dan as daar éen is, wat nog 'n bietjie kan keer.
Die offisiere van die Boeremagte dus nie alleen nie, maar selfs
die vrouwens en kinders op aangrensende plase het kan dink, dat
die sewende Maart 'n dag vol verrassing sou kan word. Die
offisiere het hulle berigte gekry oor die Engelse kamp maar Lord
Methuen het in die loop van die nag sy bes gedoen om ook so goed
as moontlik met die boeremagte en met die plaatsing van hulle
manne bekend te word. Dit is hom ook geluk, want vollens die
"Times History of the War" het Generaal Lord Methuen deur sy
"intelligence officers" in die loop van die nag twee keer 'n
rapport gekry, waaruit hy kon opmaak, dat Genl. van Zyl sy magte
verenig het met die gekonsentreerde magte van Genl. de la Rey,
Kemp, Cilliers, enz., en dat al die magte klaar staan om hom op
te wag in die pad wat hy die laaste dag gevolg 't en wat hy
verder moet volg om Keckewitch te ontmoet.
Vir Lord Methuen het die wereld toe maar snaaks gelyk, en in die
nag maak hy sy planne reg om aan die boere te ontkom. Hy wil die
sewende Maart probeer trek oor De Klipdrift na Leeuwkuil, want hy
het gehoor dat daar water was. Hy wil so vroeg in die more
vertrek, dat die boere se planne moes misluk. Om twee uur in die
nag laat hy die osse inspan om te trek. Alles gaan so stil as
mogelik. Maar Genl. Cilliers sou gouw genoeg hoor wat aangaan.
Hy het onder sy mense twee bewoners van Tweebosch, wat hy goed
vertrouw en hulle is in die donker so naby Lord Methuen se laer
gegaan, dat hulle mooi kon hoor, hoe die osse ingespan word, en
hoe wa na wa reggetrek word in die pad, wat oorgaan na De
Klipdrift. Om drie uur laat vat die ossewa-drywers en een van
Genl. Cilliers se spioene ry om die Generaal te vertel, wat hulle
gehoor het. Die boerekommando kon nou vertel word, wat misskien
sal moet gebeur. Die Engelse sal nie meer na hulle toe kom nie,
soos verwag was, maar hulle sal die Engelse moet gaan soek. Om
vier uur laat Genl. Methuen die kar en trollie laer en die
perderuiters vat agter die ossewaëns en voetgangers aan, en nou
duur dit ook nie so lang nie of dit begin 'n bietjie lig te word.
Genl. van Zijl laat opklim sodra die Engelse van hulle staanplek
weg is, en net toe dit effe lig is, val die eerste skote tussen
die agterste Engelse. Vir Genl. van Zijl was dit 'n sware uur.
Met 'n klompie mense moes hy veg teën die grote oormag, maar hy
waag dit. Die grootste ongeluk vir hom was nog dat by sy
kommando nie genoeg ammuniesie was nie, vir 'n aanhoudende geveg,
en na 'n paar sarsies het dit gelyk of hy die plan om verder te
agtervolg maar sou moet opgee. Hij laat egter sy manne nie merk
nie, hoe gevaarlik die onderneming op die oomblik was, en sy
manne ja al digter by hulle. Maar Genl. de la Rey hoor die geveg
en sal sy bes doen om Genl. van Zijl te help.
Deur die verandering in rigting deur Genl. Methuen, was die boere
onder die verskillende offisiere baie verder af dan hulle lief
was. Hulle kry orders om nie te ja nie, voor hulle die Engelse
kan sien. Die boere was bly, want hulle het gestaan en wag met
die tooms van die perde in die arm, sonder dat die Engelse gekom
het. Nou kan hulle storm en moet tot rigting die geraas van die
geskiet vat. Hulle moet ry in gelid drie tree van mekaar. Nie
éen mag te vinnig vorentoe ry en nie éen mag agterbly nie. Genl.
de la Rey gee sy adjudant die opdrag om die een wat agterbly aan
te roer om in die gelid te kom. As éen nie by bly nie moet hy
die perd slaan, en as die perd ingehou word moet hy die man raak.
Dit het baie mooi gegaan tot hulle die Engelse magte kon gesien
't. Dit was toe op Palmietkuil en die perde het toe al
driekwartier afgelê. Al het die burgers nie geja nie, tog het
hulle uit die staanspoor maar laat hardloop so styf teen die
toom. Genl. de la Rey is self eers agter gebly om te kyk of
party van sy burgers nie wou probeer om hulle lyf weg te steek
nie, maar die agterbly van die ou Generaal was nie nodig nie.
Gedurende die laaste maande van die oorlog was die lafhartiges al
uitgesak. Die manne, wat nog by die kommando was, kon almal
getel word as vegsmense. Nie éen man het agtergebly nie.
In die twee jaar en ag maande van die oorlog is seker baie selde
'n klomp burgers so gelyk op die vyand ingestorm, en toe die
boere Palmietkuil se bult uitkom en die Engelse sien, kry die
perde die volle toom en moet hardloop vir al wat hulle werd is.
Al die offisiere kommandeer niks anders nie dan.... storm. Van
Zijl se mense is nog altyd agter die Engelse, maar nou dat hulle
die manne van Genl. de la Rey sien kom, storm hulle so dig by,
dat Genl. de la Rey nie meer kon sien nie, waar die vyand se
magte ophou en hulle eie mense vat. Om vyf uur in die more was
die staf van Genl. Lord Methuen op De Klipdrift, of eintlik sowat
op die lyn van Leeuwkuil 95 en De Klipdrift. Dit skyn hulle plan
om die boere naby te laat kom, voor hulle die vuur op die
aanstormende burgers open. Hulle wil die boere óf vang óf
doodskiet. Die voetgangers van die Engelse sukkel net om iets te
kry, wat as beskerming kan dien. Die éen gaat lê agter 'n
miershoop, wat volop is op die plek waar hulle die boere afwag,
ander weer val plat in die pad, wat 'n bietjie diep uitgery was
en daarom tamelik goed kon dien vir 'n fort.
'n Gedeelte van die Engelse perderuiters, ongeveer tagtig draai
om en maak 'n beweging of hulle die boere wil storm. Hulle ja
met die Palmietkuilse lopie op, maar toe hulle op ongeveer twee
honderd tree kom, gee Genl. Cilliers order om af te spring en dit
was net éen sarsie, toe het van die ongeveer tagtig Engelse
perderuiters nie éen meer gestorm nie, wat nie geskiet was nie,
was afgeval. Die klomp was dus gou kaf gedraf en die burgers
klim weer op. Eén van die jong burgertjies merk toe hy die derde
keer skiet, dat sy geweer weier. Hy kyk na die oorsaak en vind
uit, dat die naald gebreek was. Hy was dus so goed soos
ongewapend, en weet nie wat hy nou moes doen nie. Hy sien twee
Engelse éenkant ry en dink hy sal probeer éen van hulle te vang
om dan die Engelsman se geweer te vat. Hulle weet natuurlik nie,
dat sy geweer nie wil skiet nie. Hy ja na hulle toe, en weet
nie, dat die twee perderuiters offisiere is nie, wat na 'n klomp
voetgangers kyk, wat aan die kant van 'n droë pannetjie lê. Hy
sien alleen die twee perderuiters, wat skynbaar gin ag op hom gee
nie. Toe hy sowat tagtig tree van hulle kom, wil hulle by hom
verby ja na die voetganger-regimente, maar die burgertjie ja
tussen hulle deur en kéér een af. Hy skree teën die Engelsman
"hands-up", wat hy dadelik doen en sy geweer weggooi. Die
boertjie gooi nou ook sy geweer weg en gryp die Engelsman se
geweer. Hy sien die geweer is nog nuwt en die magasyn vol met
patrone. Met die gevatte geweer skiet hy na die ander Engelse
offisier, en skiet sy perd plat. Die dier val op die arme
Engelsman se been en hy word ook ontwapen. Twee Engelse
offisiere werd op die manier ontwapen, deur 'n jong burger, wat
ongewapen op hulle toegery het. Toe die laaste offisier sy
geweer afgegee 't, begin hy en skree na die voetgangers, wat toe
onverwag begin skiet op die boertjie, dat dit so kraak, maar wat
hulle het almaal mis geskiet.
[word vervolg]
Swart Simon
|
|
|
|
Re: Lord Methuen uitgeoorlê - 4 [boodskap #28368 is 'n antwoord op boodskap #28351] |
Do, 09 Desember 1999 00:00 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
Simon van der Schans wrote:
> Dit was natuurlik nooit stil in die nag van rumoer nie, en omdat
> die lug so min of meer uit die Suide getrek het, kon die honde op
> De Klipdrift, die drukte hoor, ten minste die groot waghond van
> Mnr. Coetzee op De Klipdrift, blaf die nag elke keer. Die ou
> tante en haar skoondogter Sannie met haar vier kindertjies het in
> één huis gaan slaap, die laaste maande van die oorlog, en hulle
> voel maar onrustig as Jameson elke keer die nag so geweldig blaf
> na Tweebosch se kant toe
Ek hou van die feit dat die hond se naam Jameson is! Natuurlik
'nverwysing na die onsuksesvolle eskapade van Jameson wat
Johannesburg ingeval het met die hoop dat die Uitlanders sou
rebelleer.
Gloudina
>
|
|
|
Re: Lord Methuen uitgeoorlê - 4 [boodskap #28433 is 'n antwoord op boodskap #28351] |
So, 12 Desember 1999 00:00 |
Simon van der Schans
Boodskappe: 263 Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
@home.com wrote in message
...
> Ek hou van die feit dat die hond se naam Jameson is! Natuurlik
> 'nverwysing na die onsuksesvolle eskapade van Jameson wat
> Johannesburg ingeval het met die hoop dat die Uitlanders sou
> rebelleer.
Is dit dalk 'n meer algemene gebruik by Afrikaners - om jou hond
die naam te gee van iemand wie jy versmaai? Ek weet van 'n
Afrikaner-gesin in die vroeë 1960's wat hulle hond Nkrumah genoem
het.
Swart Simon
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sa Nov 23 18:56:16 MGT 2024
|