Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Lord Methuen uitgeoorlê - 3
Lord Methuen uitgeoorlê - 3 [boodskap #28303] Sun, 05 December 1999 00:00
Simon van der Schans  is tans af-lyn  Simon van der Schans
Boodskappe: 263
Geregistreer: January 1999
Karma: 0
Senior Lid
Lord Methuen uitgeoorlê deur Generaal de la Rey.

Deur G.A. van der Walt

Deel 3
______________________________________

Van Barberspan trek Lord Methuen eers nog met Groot Hartsrivier
op, om later die loop te volg van Klein Hartsrivier. Vir 'n
enigsins grote laer was dit altyd die veiligste om in die
nabyheid van die riviere te bly. Ver van die riviere oor die
bulte was soms te min kanse om water te kry.

Op die more van die sesde Maart kort na brekfis kom die laer van
Methuen op die plaas Tweebosch. By die huis van Mnr. Schutte was
al 'n klompie van van Zijl se mense om na klere te kom kyk, wat
die vrouwmense vir hulle sou maak. Onverwags was die Engelse
naby gekom en werd eerste gesien deur één van die dogters. Die
klompie mense onder hulle offisiere moes alles net so laat staan
om te kan uitja. Die Engelse het so op hulle geskiet dat party
toe was onder die stof van die skiet, maar hulle kom alger uit.
Toe hulle alver genoeg weg was het die Engelse nog so geskiet,
dat die koeëls op die dak geval 't. Dit het nog maar 'n kort
rukkie geduur en die perderuiters was met die hele kolom op die
werf. Die Engelse weet nou ook, dat van Zijl se mense dig by is
en hulle trek die bommaksim reg aan die regterkant van die huis,
en 'n groot kanon 40 tree weg aan die linkerkant. Tussen die
kanonne het die voetgangers vol gelê. Die skiet hou 'n tydjie
aan en die vrouw van Mnr. Schutte wil van angs onder die katel
inkruip, maar die klein kindertjies hou haar so vas, dat sy nie
onder die bed in kon kom nie.

Toe die mense van van Zijl pad gegee 't en die troepe van Lord
Methuen van die boere niks meer te vrese gehad 't nie, moes die
vrouwens gestraf word, omdat 'n klompie boere op hulle werf
gesien was. Die huise van die vrouwens was gevaarlik vir die
Engelse magte en moes afgebrand word. Die troepe kap vrugtebome
af, soek droë vuurmaakgoed bymekaar, dra alles in een groot hoop
voor die deur en wil begin vuurmaak. Die ma in die huis soebat
om haar huis gespaar te kry, maar mooipraat van haar kant help
niks.

Gelukkig vir haar kom daar 'n man in, wat homself bekendmaak as
éen van die familie van Mevr. Schutte, tenminste na lang gepraat
kom uit, dat haar ma sy tante was. Hy het skynbaar soveel
invloed gehad, dat op sy voorspraak die huis gespaar gebly is.
Gelukkig vir die vrouwens dat die man daar was, maar die ma in
die huis het hom sleg gesê. Hy het skaam gekry en het na die
slag weggeja om nie weer saam met die Engelse te veg nie, is na
Duits Wes gegaan en is lang na die vrede eers terug gekom en het
toe die groete laat weet aan Mevr. Schutte, met die betuiging
daaarby dat hy op die more van die sewende Maart die Engelse
verlaat en sleggevoel 't oor die hulp wat hy die vyand verleen
't. Die vrouwmense was bly oor die huis toe gespaar werd, maar
het tog 'n sware dag deurgebreng. Alles wat in die huise was vir
kos, is deur die troepe weggevat. Die ma en die kinderkies moes
sonder kos en iets om te drink bly die hele dag en die nag wat
gevolg 't en het eers die tweede dag water kon kry. Elkeen kan
sig voorstel hoe swaar dit was met ses klein kindertjies.
Ongeveer drie kwart mijl van die huis van Mnr. Schutte het 'n
getrouwde dogter gebly, wat deur 'n suster en 'n buurmeisie
geselskap gehou is in die moeilike dae.

Dig by die huis was die staanplek van 'n klompie Kaapse basters
of "Cape Boys", en wat vir 'n naarheid dit vir die drie
vrouwmense afgegee 't is moeilik om te skrywe. Hulle vra één van
die jongnooiens om vir hulle uit die Bybel voor te lees en vir
hulle te bid. Hulle spot met alles wat die vrouwens as heilig
beskouw 't. Toe die nooi nie wou lees nie, wil éen van die
basters die Bijbel by haar afneem, wat sy onder die arm gehou 't.
Maar hy het sleg afgekom, die Bybel is beskerm deur 'n
boeredogter wat sterker was as 'n "Cape Boy". Sy het hom in sy
gesig gevat en met éen ruk teën die grond gehad en toe moes hy
sukkel om op hande en voete by die deur uit te kom. Geen wonder
was dit om te sien dat die Bybel met soveel moed verdedig is nie,
want van die nege Bybels was dit die laaste van die gesin. Ag
Bybels was by vorige geleenthede al deur die vyand vernietig.
Die drie vrouwmense was met die vyftien basters opgeskeep van 10
uur smorrens tot 2 uur smiddags, toe daar 'n Engelsman kom, aan
wie die vrouwens vra om die basters weg te vat, maar hy klop op
hulle skouers en se in die Engels: "Dis my jongens, hulle moet
hier bly". Die Engelsman was net so lastig as die "Cape Boys"
self en wil probeer om éen van die meisies te soen, maar sy het
'n klompie vurke in die hand gehad en het hom hiermee so
toegetakel, dat hy die soen vergeet 't. Die basters het toe weer
nuwe moed gekry en begin nog leliker praatjies te maak as
voorheen. Die vrouwens kon nou nie meer hou nie en het probeer
om hulle met brandende stompe hout uit die huis te ja. Die
basters sê vir die vrouwens, dat hulle die vuur mooi moet aanhou,
want hulle wil Genl. de la Rey hierop braai. Hulle wil Genl. de
la Rey dood maak soos hulle die vorige dag Koos Steyn en Cornelis
Jooste vermoor het, maar die vrouwens sê, dat hulle maar mooi
moet oppas, want de la Rey sal kom, en dan sal hulle soos geel
kraaie op die veld lê en doodgaan.

Die basters lag oor die uitdrukking en sê, dat hulle wel swart
kraaie maar gin geel kraaie ken nie. Hulle maak of hulle glad
nie kan begryp nie, dat die vrowens dink aan hulle geel khaki-
uniforms. Eindelik kom daar 'n koloniese boer aan wie die
vrouwens vra om 'n plan te maak, dat die basters van hulle af kan
wegkom. Die man het vir die vrouwens jammer gekry en het sy
invloed gebruik by die offisiere en nou was die plaery op 'n end.
Om die huise is nou 'n wag geplaas en die vrouwmense is gin las
meer aangedaan nie, maar van barmhartigheid ten opsigte van hulle
kos of drinkgoed was gin sprake. Die enigste melkkoei by die
huis het hulle voor die oë van die arme mense in die kraal
doodgeskiet. Die kleintjie van twee jaar het teën die aand
erbarmelik begin huil van die honger, maar gin mens het medelyde
getoon nie, dan 'n rou Engelsman, wat 'n klompie "biscuits" en
"jam" gebring het. Toe dit donker word stap die drie jong
vrouwens na haar ma se huis, elk gewapen met 'n stuk yster, een
het 'n dommekrag-sleutel gedra, die ander twee elk 'n stuk
koevoet, maar hulle is gelukkig nie langs die pad lastig geval
nie.

Toe hulle by die ma kom, het die arme mens van al die swaar so
vreeslik gelyk, dat hulle sommer in trane uitbars, en die woede
teen die vyand nog hewiger word. Hulle was bly, dat vir die nag
drie wagte om die huis geset is, maar toe hulle die deur toemaak
sê hulle nog: "julle moet nou goed wag hou en baie mooi oppas,
want voor julle gaan slaap sal Genl. de la Rey julle kom nag sê."
Die vrouwens het geweet, dat Genl. de la Rey naby was met al sy
mense, maar die troepe van Lord Methuen het gelag, hulle het
gemeen dat vir hulle niks te vrees was nie. Hulle kon nie weet
nie, dat van Zyl net probeer 't om uit te vind, hoe sterk die
Engelse mag was, en nou met Genls. de la Rey, Kemp, Cilliers,
Liebenberg en die verskillende Kommandante en Veldkornette, in
hulle nabyheid 'n vergadering van 'n krygsraad bywoon en verslag
gee van sy ervarings vanaf Soutpan (die teënwoordige de la Rey).

Die Krygsraad werd gehou onder leiding van Genl. de la Rey, op
die plaas Gunsteling, ongeveer ses myl van die slaapplek van Lord
Methuen. Op die boerekrygsraad kon Genl. de la Rey meedeel, dat
die boeremagte, wat kon saamwerk om Methuen aan te val, bestaan
uit ongeveer 560 man. Die mag van die vyand was baie groter,
maar die boerevoormanne het geweet dat die gevegswaarde van hulle
burgers kon goedmaak, wat aan getalsterkte mag ontbreek.
Feitelik elke boerestryder het 'n perd gehad, en 'n groot aantal
het gewoon in die streek, waar geveg moes word. Hulle het elke
kuil, elke voetpaadjie, boom, huis, murasie of kraal geken, en
sonder al te lang praat was besluit om 'n aanval te waag. Alles
werd nou mooi afgepraat en elke voorman moes presies weet, wat hy
met sy burgers moes doen.

Genl. van Zyl kry die opdrag om agter die Engelse mag te bly so
dig by as hy maar kon, sonder dat die Engelse hom moes gewaar.
As die Engelse die volgende more nie verder sou trek nie moes hy
met lig word die kampplek aanval. Die hoof van die Spioenkorps
van die boere kry 45 man by hom. Dit was Mnr. J. Lombard. Hy
moes met sy manne so dig by die Engelse gaan, dat hy elke
beweging dadelik sou kan rapporteer.

Die ander burgers onder hulle offisiere kry hulle plekke aangewys
al langs Klein Hartsrivier op een lang ry, want hulle het gemeen
die Engelse sal die kant opkom, deurdat Genl. van Zijl 'n rapport
in hande gekry het, deur twee rapportgangers te vang, waarin Lord
Methuen aan Genl. Kekewich rapporteer dat die kommando van Lord
Methuen sou optrek langs Klein Hartsrivier. So sou die boere
moet bly staan met die toom van die perd in die arm, tot die
eerste skot by van Zyl se kommando sou val, wat die teken sal
wees, dat almaal moet klaar wees.

[word vervolg]

Swart Simon
Vorige onderwerp: Ku Klux Klan - advies vir 'n beter toekoms
Volgende onderwerp: Toekoms Advies vir: Dr. Kissinger - boek oor Zimbabwe
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wed Dec 25 07:04:07 UTC 2024