Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Lord Methuen uitgeoorlê - 2
Lord Methuen uitgeoorlê - 2 [boodskap #28263] |
Do, 02 Desember 1999 00:00 |
Simon van der Schans
Boodskappe: 263 Geregistreer: Januarie 1999
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Hierdie boekie is nie so baie lang nie, en vir diegene wat
belangstel sal ek dit in so 'n paar episodes in sy geheel hier
plaas. Ek neem aan dat die skrywer (van der Walt) reeds meer as
50 jaar gelede oorlede is, sodat die outeursreg teen hierdie tyd
reeds verstryk het en die werk dus in die publieke domein is.
Dit begin met 'n voorwoord deur de la Rey se weduwee:
VOORWOORD
Omtrent die skrywe van die heer G.A. van der Walt, moet ek eers
sê, dat dit vir die Afrikaner volk 'n baie mannelike daad gewees
het, wat gedoen is met die slag teen Lord Methuen; maar die slag
sal met die tyd vergeet word en die jonge Afrikaners kan 'n
verkeerde verslag daarvan kry. Daarom is dit goed, dat daar
sulke manne is, as die skrywer van die boekie, om op die manier
die waarheid te laat hoor. Ek vind alles goed, wat hier geskrywe
is. Al was ek natuurlik nie in die slag nie, ek was ook nie ver
af nie, en ek dink, dit sou goed wees, as daar manne sou wees om
deur skrywe, die gebeurtenisse in die lewe te hou.
Ek is dankbaar om weer te hoor, hoe my dierbare man sy burgers
toegespreek het met die woorde: "Moenie trots op julle self wees
nie, as julle sien op die groot werk, wat julle gedoen het, maar
julle moet altyd bedink, dat sonder die hulp van die Here, ons
God, ons dit nooit sou gedoen het nie". En wat nou ook al gebeur
mag wees, ek is nog seker, dat die Here nog 'n groot werk deur
die Afrikaner Volk sal laat doen, sodat die hele wêreld sal kan
sien en hoor, dat die "Here regeer", en die mens nie kan doen wat
hy wil nie. Ons moet net getrouw bly, want waar ontrouw is, kan
geen seën wees nie.
Ek wens hiermee ook nog my dank te betuig aan al die "Helde", wat
met soveel moed en gewilligheid met my man gestry het vir
"Vryheid en Reg", en wens dat die heldere lig oor hulle werk sal
skyn.
Dit sy so.
MEVR. WED. GENL. DE LA REY
Lord Methuen uitgeoorlê deur Generaal de la Rey.
______________________________________
In ons Suid-Afrika weet amper elkeen......
.......misskien selfs verbrand was.
[hierdie stuk is reeds in die eerste episode geplaas - Swart
Simon]
In die begin van 1902 was die magte van Genl. de la Rey in die
Weste van Transvaal, ook kort van baie van die nodigste dinge, en
die ou Generaal het gesien, dat hy 'n plan moes maak. Hy het
gelukkig nie lang hoef te wag nie. Die Engelse was soms bang om
die treine te gebruik om die nodige goedjies aan te voer, veral
na min of meer afgeleë plekke. Lord Methuen het b.v. gemeen dat
dit beter sou wees om 'n konvooi te stuur na Klerksdorp onder
Kol. van Donnop, met 'n aantal waens, volgelaai met 'n goeie
klomp kos, klere, ammuniesie, ens., dan om dit te stuur langs 'n
groot omweg met die trein. Hy dink nie aan gevaar vir die
konvooi nie. Maar Genl. de la Rey hoor van die spul en toe hulle
hulle self kom kry is die boere op hulle en vat die hele konvooi
by IJzerspruit. Dit was op die 25ste Februarie 1902. Toe die
Engelse bevelhebbers dit hoor, het hulle seker maar 'n bietjie
groen gevoel en dadelik planne uitgedink om van Genl. de la Rey
weer af te neem wat hy gebuit 't. Dit het nie mooi gelyk nie om
die boere in die besit te laat van so baie waens, muile, gewere,
kanonne, patrone, ens. Wie sal nou ook lekker voel om jou te
laat skiet met jouw eie skietgoed? Dis maar 'n bietjie hard!
Die Engelse het besluit om Genl. de la Rey tussen twee Engelse
kommando's in vas te keer, dan sal die klompie boere gouw-gouw
"hands-up".
Die een Engelse kommando het op die 2de Maart van Vryburg
vertrek, onder Genl. Lord Methuen, die ander kom van Klerksdorp
onder bevel van Genl. Kekewich. Hulle sou probeer om albei op te
trek na Rooyantjiesfontein, waar hulle die sewende Maart bymekaar
sou kom.
Die twee magte sou trag om hulle vlerke so wyd uit te slaan, dat
vir Genl. de la Rey geen mogelikheid sou oorbly om aan hulle
gryparms te ontsnap. Hulle het skynbaar die krygsmanstalente van
Genl. de la Rey te gering geag en nie gedink, dat die boere dag
vir dag met al hulle bewegings bekend was nie. Die
boerekrygsmagte kom nou ook gouw agter hulle planne en wil trag
om die twee gryparms van die Engelse magte nie alleen van mekaar
te hou nie, maar Genl. de la Rey wou probeer om eers die een en
dan die ander mag te oorrompel, want hy kon hom aan 'n geveg
waag, daar hy by IJzerspruit genoeg ammuniesie buit gemaak 't.
Genl. de la Rey wou nou seker weet of hy kon waag om aan te val
en hy stuur Genl. van Zijl agter die Engelse kolom, wat van
Vryburg terugkom, aan, veral om die sterkte en gevegswaarde van
die mag te kan uitvind. Van Zijl sien dat die osse van die
Engelse swak is en hulle baie stadig moes trek. Dit was ook
werkelik die geval en Genl. Methuen moes na die tweede dag al aan
Genl. Kekewich telegrafeer, dat hy nie op tyd by
Rooyantjiesfontein sou wees nie. Vir van Zijl was dit nou elke
dag aanval en terugtrek, aanval en terugtrek, want hy was alleen
nie sterk genoeg om die magte te verslaan nie, maar hy kon
rapporte stuur omtrent alles wat hy sien en uitvind en hy reken
dit glad nie onmogelik om met verenigde kragte die hele laer te
neem nie. Die Engelse offisiere voel lekker as Genl. van Zyl
elke keer, soos dit lyk, verslaan word, en hulle maar elke dag
kan verder trek. Maar by één geleentheid was hulle deur die
aanvalle van van Zijl so moedeloos geword, dat Genl. Methuen self
die orde onder sy troepe moes herstel. Vir Methuen was dit
onplesierig om te sien dat sy mense so min wis van vastrap. Toe
by Barberspan een van die offisiere in die aand dit waag om vir
Lord Methuen te sê dat die boere weer lekker pak gekry het, toe
hy durf roem en spog op hulle eie mag en hulle eie dapperheid was
Lord Methuen nie al te erg ingenome met die spoggery nie en
waarskuw vir die grootpraat met die woorde: "Ons weet nie wat
voor is nie, hulle het vandag moes hardloop, altemit is dit more
ons beurt om swaar te kry".
Dit het nou al begin te lyk soos oom Niklaas van Rensburg, die ou
siener, vertel het van die laer, wat van Vryburg kom. Hy het
vertel: "Ek sien 'n rooi skilderbul van Vryburg kom, sy horings
staan reg vorentoe, hy wil graag baklei, hy is moedig en sterk,
maar as hy by Barberspan kom begin sy horings te hang, sy moed is
uit, hy begin al sleg voel. Maar dit sal nog slegter met hom
gaan, want as hy by Hartsrivier kom, sal hy helemaal poenskop
wees, hy sal nie meer kan stoot nie; hy moet dus ontwapen wees."
Daar sien die ou profeet die boere al tussen die waens en kanonne
van die Engelse rondstap, waaruit hy seker meen te mag opmaak,
dat die boeremag die hele Engelse laer sal vat. As ons dink
hoeveel kere die ou profeet deur sy gesigte te vertel, die boere
al van groot nut gewees 't, nederlae afgewend, overwinnings
mogelik gemaak 't, dan kan ons ook dink hoe Genl. de la Rey nie
kon twyfel nie of hy sou net as by IJzerspruit die hele Engelse
kolom weer in hande kry. Genl. de la Rey was gewoon, om altyd
vir Oom Niklaas te vra: "wat sien jy nou?", en dis ongetwyfeld
dat ook vir die keer die gesigte van die profeet nie sonder
invloed op die planne was nie. Dit neem egter nie weg nie, dat
die vegsplanne agtermekaar geset werd so goed as mogelik was.
[word vervolg]
Swart Simon
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sa Nov 23 19:30:03 MGT 2024
|