Delportshoop se dinge [boodskap #27945] |
Fri, 12 November 1999 00:00 |
Barrie
Boodskappe: 40 Geregistreer: October 1999
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Ons wêreld is diamantwêreld. As 'n ou hier kop-onderste-bo loop en jou nie
groet nie, moet jy weet hy loop en delf! Dit is nie 'n seldsame gesig om 'n
persoon by die sameloop van die Vaal- en die Hartsriviere te sien sit en
hengel nie. As jy mooi kyk, sal jy sien hy is besig om in die riviersandjies
rond te krap.
Met 'n gewone meelsif sal hy versigtig 'n skeppie sand en klippies in die
modderwater uitwas totdat hy duidelik kan sien wat daar lê. In 'n hopie
diamantgruis staan 'n diamant uit. Sy soortlike gewig bepaal dat hy
gewoonlik bo sal lê. Op die tong voel 'n diamant koud. Soms het moeder
natuur 'n lagie sediment om hom gevou, net om dit interessant te maak. Sterk
diamantsuur sal die lagie gou wegvreet en die stukkie blink koolstof sal sy
nuwe eienaar se lewensgehalte aansienlik verbeter - al is dit net tydelik
soos in die meeste gevalle! 'n Gesoute hengelaar parkeer nooit sy BMW naby
die plek waar hy visvang nie.
Maar dit is nie altyd die groot vis wat gevang word nie. So 'n jaar gelede
het 'n interessante storie in Die Volksblad verskyn. Deur armoede gedrewe
het 'n man
by Longlands op pad na die Vaalbos Nasionale Park gaan hengel. Hy het 'n
groot baber aan sy hoek gekry en sy vislyn het op een of ander manier aan 'n
tak in die water vasgehaak. Die ou het sy broek uitgetrek en die diep water
betree.
Die lyn het losgekom en die baber het al om die man geswem en so sy bene
deeglik aanmekaar vasgebind. Dit was die vis se rondte en die man het
verdrink. Drie dae later het die SAPD se duikspan hom uitgeduik - met die
baber steeds aan die lyn. Net jammer die ouens wou nie vir my luister nie.
Die opskrif
"Vis vang man" sou darem baie gepas gewees het. Amper so gepas soos een van
Die Burger se lokette ("posters") so 'n 40 jaar gelede. 'n Jongman is gevang
nadat hy gate met 'n mes in motorbande gesteek het. Dit was in die goeie ou
dae toe die tronke nog leeg was en lyfstraf die jeug op die regte pad gehou
het.
'n Landdros het hom tot ses houe met 'n ligte rottang gevonnis. Nie juis
voorbladnuus nie, maar die poster het gelees:"Houe oor gat in band".
Wat wel voorbladnuus kon wees, is die verhaal van die delwer wat een aand
bietjie te lank by die Borrelskop Hotel gekuier het. Ou Klippie, die
eienaar/bestuurder sal nie omgee as ek hom 'n bietjie gratis advertensie gee
nie!
Die betrokke delwer het so teen sonop huis toe geslinger en op een of ander
manier in 'n diep delwersgat beland. Hier is baie van die goed en dit maak
springhaasjag 'n hoë-risiko sport. Ná drie dae het die ouens in die kroeg
hom begin mis en 'n soektog optou gesit. Hulle het hom opgespoor en met 'n
tou na veiligheid getrek. Toe hy bo kom, het hy 'n streepsak gevra en ook
dat hulle hom weer in die gat moes laat sak. Tot hulle verbasing het hy met
'n yslike geelslang
in die sak op die wal verskyn. Dit blyk toe dat hy en die slang 'n
ooreenkoms aangegaan het. Hulle het ooreengekom dat hule mekaar nie gaan pik
nie en dat die een wat eerste bo kom, sou sorg dat die ander ook veiligheid
bekom. Hierdie episode herinner aan die Skeppingsverhaal en dit laat my dink
aan ou Essie se storie daar in Alexandrië in die Oos-Kaap. Hy en 'n vriend
het in die Regeringsbos rondgeloop. A.g.v. die ruie plantegroei moes hulle
kort-kort aan bobbejaantoue hang om balans te behou. Op 'n stadium was daar
skielik 'n luiperd aan die ander kant van Essie se bobbejaantou. Essie is so
'n skraal ou
en lank van postuur. Hy vertel dat al wat hy kon doen was om te hou wat hy
het en vinnig in die rondte te draai. Daar was nie juis plek vir swaai nie,
maar hy het plek gemaak en al hoe vinniger in die rondte gedraai en toe laat
los. Hulle het die luiperd nooit weer gesien nie, maar Essie kon bevestig
dat luiperd en muishond
naby familie moes wees. Daardie aand in die kroeg het hy so eenkant gestaan
en sy storie vertel.
Borrelskop Hotel het sy naam gekry van 'n Duitser wat vroeër daar gedelf het
en toe besluit het dat die hotelwese 'n meer betalende bedryf was. Die hotel
is meer as 'n 100 jaar oud en het 'n eie unieke geskiedenis. Agter die hotel
is 'n ou diamantmyn - al so effens toegeval op plekke, maar steeds
toeganklik vir diegene met durf. In dié myn kry mens nog van die egte
Walliese lanternhangers
wat in die mure geslaan is. En ook van die grawe wat in die steenkoolmyne
gebruik was. Dit is 'n klein skopgrafie, kleiner as die gewone. Die
myntonnels loop nêrens dieper as wat 'n man nodig gehad het om diamantgruis
deur 'n ventilasieskag na die oppervlak te gooi nie. Die ou delwers het al
agter 'n sg. "soom" aangegrawe. Daar was 'n vetlaag in die grond en
"rubies". Selde of ooit het iemand toegeval en niemand sal ooit weet in
watter mate die ou wêreld hierlangs uitgetonnel is nie. Ek wonder net hoekom
die toeriste-base nie 'n paar sent in die restorasie van so 'n ou myn belê
nie. Die mensdom is altyd geïnteresseerd in gate en tonnels. Kyk net watter
belangstelling het die ontdekking van die tonnel vanuit die Kasteel in
Kaapstad na die Roelandstraat-tronk nie gaande gemaak nie. Hoekom hulle hom
toegemessel het, weet nugter.
Hier is interessante mense in Delportshoop! Nou die dag loop ek 'n ou in
Borrelskop raak - 'n viskundige. Volgens hom is hengel 'n wetenskap en nie
'n sport nie en hiermee moet ek saamstem. Hy beweer dat die moggel, 'n soort
varswater springer, die grootste deel van die visbevolking in die Vaal- en
die Hartsriviere uitmaak. 'n Moggel byt egter nie aan 'n hoek nie. 'n Moggel
is familie van die onderbek, maar dit is nie 'n moddervis nie. Met 'n
gooinet kan jy enige plek met elke gooi so drie vier van hulle vang. Die
gemiddelde gewig wissel van 500 g tot 1.5 Kg. Dis 'n uitmuntende eetvis -
grate is daar wel maar nie so dik soos by geelvis en karp nie. Met die
gooinet (let wel: bloot eksperimenteel en nie met die doel om vis in te
samel nie!) het ek nog nooit iets anders as moggels gevang nie. Dit is asof
die ander vissoorte bodem toe duik as hulle die net hoor.
Hier is 'n proteïene bron wat aangewend kan word om honger magies te vul.
Ander maniere om moggels te vang, werk nie. Sommige ouens probeer met
sleepnette (sifdraad) en fuike, maar vang alles behalwe moggels. Deesdae
wemel ons waters van uitheemse kurpertjies. Sommige ywerige hengelaars het
'n bevolking swartbaars in die Vaaldam geplaas en dié kurpers is
veronderstel om as voedselbron te dien. Ongelukkig kan 'n baars nie
onderskei tussen kurpertjies en ander inheemse vissoorte nie. Dit moet 'n
effek hê op die aanwas van inheemse visse! Karpe is uitheems, sê die
eksperts, maar ek sluk swaar daaraan. Daar is ook soveel soorte karp dat ek
van mening is dat ten minste een van hulle wel inheemse status moet geniet.
Deesdae kan 'n hengelaar enigiets aan sy hoek te wagte wees. Ek wag vir die
dag dat 'n ou met 'n paling by Borrelskop opdaag. Palings is veronderstel om
net in riviere wat Oos loop voor te kom, maar met die heen en weer pomp van
water uit oosvloeiende riviere in die Vaalrivierstelsel moet daar
vingerlinge in ons riviere beland. Nie dat iemand nog nooit 'n paling in die
Vaal of Oranjerivier gevang het nie! Ek weet van 'n Fernandes wat in die
50's 'n reuse paling by Cook's Claims gevang het.
(Met my eie oë gesien.) Verder is daar 'n paling in 'n bottel in die ou
Sending Kerk (nou 'n museum) op Upington. Hierdie vis is in die onlangse
verlede deur 'n skoolseun gevang en deur sy biologie onderwyser in formalien
bewaar.
Praat van biologie-onderwysers - ek weet van 'n biologie onnie wat een maal
in 'n eksamenlokaal die volgende kwytgeraak het:" Sannie, jy sit so lelik,
dat ou Jan daar langs jou wat besig is om Biologie te skryf, jou vir
kribnotes gebruik."
Waar is die dae!!! Vandat alle mans pedofiele is en verkragting hengel as
nasionale sport vervang het, moet jy maar swyg en wegkyk.
Nou die dag sien ek 'n blou-wildebees en 'n koedoebul in 'n verwoede geveg
met mekaar. Dis al of daar 'n wanbalans in die natuur is. Mens wonder oor
soveel dinge. Kort daarna praat ek met 'n wildbewaarder oor diep dinge. Hy
sê toe dat hy in die verlede nie kon verstaan hoe dit moontlik is dat 'n
Almagtige God homself so kon verneder deur mens te word nie. Eendag, sê hy,
het daar 'n brand in die park uitgebreek en van die wild in 'n hoek
vasgekeer. Hy was alleen. Al sy pogings om die wild deur die gangetjie te
jaag, was tevergeefs. Skielik het hy gewens dat hy 'n wildsbok kon wees,
want dan sou hulle hom na veiligheid volg.
Hierdie verhaal het vir my 'n groot onsekerheid opgeklaar. Ek wens my ou
vrou kan verstaan dat watergate nie altyd uithangplekke van die ou duiwel is
nie.
Groete van huis tot huis.
Barrie.
|
|
|