Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » 'n Dag in die lewe van.....
'n Dag in die lewe van..... [boodskap #26452] Sat, 18 September 1999 00:00 na volgende boodskap
Henry  is tans af-lyn  Henry
Boodskappe: 16
Geregistreer: January 1999
Karma: 0
Junior Lid
Dis moeilik om te dink wanneer laas het ons (dis nou Vrou en ek) so 'n
aangename en ontspannende dag deurgebring soos vandag.

Ons woon in Newtown, 'n klein dorpie (omtrent 10,000 inwoners) wat in1683
gevestig is deur William Penn. Die grond is van die Lenape Indiane gekoop,
en toe hy die dorp aangelê het, het hy glo gesê: "this is my new township" -
mettertyd het dit Newtown geword. Newtown is in Bucks County, in die
suidoostelike hoek van Pennsylvania, 'n hanetree van New Jersey af.

Die kern van die dorpie is 'n paar strate rondom die hoofstraat, met
pragtige ou winkeltjies wat van alles en nog wat verkoop. Dit lyk kompleet
soos 'n dorpie uit 'n Norman Rockwell skildery. Groot bome langs die straat,
'n sypaadjiekafee, 'n regte outydes ysterware winkel met 'n hout Indiaan
buite op die stoep, boetieks en boekwinkels - en die meeste daarvan is
ingerig in wat voorheen huise was. Jy stap dus deur 'n winkel wat uit 'n
paar vertrekke bestaan - die ou eetkamer, sitkamer, voorportaal en so aan,
met handelsware oral uitgestal.

Net af van die hoofstraat af is pragtige dubbelvedieping houthuise met koel
boomryke tuine. Die lig wat deur die blare val is groen en koel en stil; die
huise self is dofblou, wit en room. Geen heinings of mure tussen die huise
nie, en as jy in die straat stap, groet mense jou en vra uit en gesels. Dis
half of die tyd stilgestaan het en die ou dorp in 'n koekon van rus en vrede
toegespin het. Rondom die ou dorp het die "nuwe" dorp ontstaan, byna soos 'n
"doughnut" wat sirkelvormig rondom die ou dorp ontwikkel. Die nuwe dorp spog
met 'n hoog aangeskrewe community college en twee universiteite, 'n groot
kantoorpark, ligte nywerhede en uitgebreide woonkomplekse. Tussenin is daar
'n stuk of twaalf plase waar elke denkbare vrugte en groente verbou word.
Die nuwe dorp tel baie, baie meer inwoners as die ou dorp met sy statige
Victoriaanse huise.

Maar vandag was dit straatmarkdag in ou Newtown, en die weer was ideaal vir
die geleentheid: 'n heerlike sonnige dag na die storms van die afgelope
week. Nie eens 'n luggie wat trek nie, en die hemel 'n ongelooflike blou.
Net 'n sweempie van 'n byt in die luggie om te herinner dit is nou
laatsomer. Die gras, wat tot 'n maand gelede nog dor en droog was as gevolg
van die droogte, is nou, na oorvloedige reëns, oral helder groen en mals.
Die groot eikebome langs die strate is nog vol blare, donkergroen, met hier
en daar 'n enkele esdoring wat solank vroegtydig begin verkleur. Oor nog 'n
maand sal hulle almal vlamrooi en bottergeel wees, met bruin en roesrooi
tussenin.

Ons het so teen elfuur gaan kyk hoe dit in die ou dorp lyk. Die motor word
iewers geparkeer, en ons stap verder. Wat 'n vrolike gedoente was dit nie!
Op die sypaadjies was daar stalletjies en mense wat alles te koop aangebied
het van antieke ware tot warm wordsbroodjies en Penn Dutch funnel cake,
boeke en klere, handwerk en sigare. 'n Bloemistestalletjie was oortrek van
die rose, en die man het vir elke vrou wat verby gekom het, 'n pragtige rooi
roos gegee. Straatmusikante in koloniale kostuum het musiek gemaak: 'n
ensemble van siter, kitaar, glockenspiel, perkussie en fluit op een hoek,
met 'n jongleur wat kinders vermaak; op 'n ander hoek 'n groep wat vrolike
Meksikaanse musiek speel en 'n man wat balonne met helium aan kinders
uitdeel. So vrolik en gesellig was dit! Ma's en pa's met jong kindertjies
aan die hand, en tieners wat aandag soek, ouer mense en jong mense - almal
vrolik en op hulle gemak. Ons twee het rondgedwaal en gesnuffel tussen die
mooiste handwerk: pragtige houtwerk, laslappiewerk, pewterwerk, leerwerk,
Amerikaanse "folk art" - ag, te veel om op te noem.

Vrou sleep my by 'n winkel in - Deja Vu is die naam daarvan. Daar koop ek
vir $32 vir my twee wintersbaadjies en twee langbroeke. Die twee baadjies is
so te sê splinternuut; een broek was nog nooit gedra nie, en die swart Levi
denim hoogstens een of twee keer. Alles in die winkel is donasies, en word
verkoop vir liefdadigheid.

Ons moet verder, want daar is nog ander dinge ook om te gaan doen. Ons het
reeds meer as twee ure hier rondgekuier. Ons ry na 'n naburige dorpie toe,
om daar by 'n supermark inkopies te doen. Dis 'n groot, rustige winkel, waar
jy allerhande eksotiese kossoorte kan koop, pragtig en smaakvol ingerig. Dis
reeds na etenstyd, en ons koop by die winkel se kafeteria iets om te eet.
Dit herinner my aan die dae, doer ver in die sestigs, toe jy nog in die
groot afdelingswinkels soos die OK en Garlicks en Greatermans heerlike kom
gaan eet in hulle restaurante. Uiteindelik koop ons toe niks, maar die
maaltyd (slaai en sop) was luilekker en smaaklik.

Vrou verjaar oor 'n paar dae, en ek kry haar sonder te veel moeite sover om
gou saam met by die groot winkelsentrum 'n ent verder aan te ry. Daar los ek
haar by Macy's en ek stap alleen om gou 'n geskenk te gaan soek, wat ek in
die motor gaan toesluit voor ek haar gaan haal. Ons dwaal nog kuier-kuier
rond vir 'n ruk, sy koop 'n paar stukkies klere vir die dogters: reeds 50%
afgemerk, en nog 50% af van die verlaagde prys. Dis nou van die Amerikaners:
as hulle uitverkoping hou, doen hulle dit ordentlik. Ek het al klere gekoop
vir soveel soos 80% af van die gemerkte prys. En hier is dit nou weer so:
een bloes is afgemerk van $40 tot $20, en dan kry jy nog 50% af; uiteindelik
kos dit toe net $10 - nogal met 'n etiket soos Gloria Vanderbilt op.

Netnou gaan ek slaap - môre is Sondag. Wie weet wanner laas het ons twee 'n
hele Saterdag gehad net om te doen wat ons wil, met niks wat jaag of plaag
nie!
Re: 'n Dag in die lewe van..... [boodskap #26513 is 'n antwoord op boodskap #26452] Mon, 20 September 1999 00:00 Na vorige boodskap
Errol Back-Cunningham  is tans af-lyn  Errol Back-Cunningham
Boodskappe: 1029
Geregistreer: August 1996
Karma: 0
Senior Lid
On Sat, 18 Sep 1999 23:21:09 -0400, "Henry" wrote:
|Die kern van die dorpie is 'n paar strate rondom die hoofstraat, met
|pragtige ou winkeltjies wat van alles en nog wat verkoop. Dit lyk kompleet
|soos 'n dorpie uit 'n Norman Rockwell skildery.

Hierdie ou bly darem net eenvoudig my gunsteling kunstenaar - en natuurlik
verskyn daar elke nu en dan 'n boek oor hom en sy werk wat ek net nie kan
weerstaan nie.

Al sy werk is goed, maar die paar wat vir my uitstaan, is die een waar die
oumatjie en haar kleinseun in die "diner" sit en eers bid voor hulle eet, met
die groot growwe konstruksiewerkers om hulle wat nuuskierig kyk, maar tog kry jy
die gevoel dat hulle die ou tannie respekteer.

Die ander een is waar die ou tannie die kalkoen voorsit vir Thanksgiving en jy
die groot gesin om die tafel sien. Dit herinner my baie aan my eie ouma en
oupa, hoewel ek nie dink Ouma sou ooit kalkoen voorsit nie.
Vorige onderwerp: Joan Hambidge oor Charl-Pierre Naude
Volgende onderwerp: Change of Direction
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Tue Dec 24 18:07:11 UTC 2024