Tuis » Taal » Prosa & poësie » Oor brommers en gedigte
Oor brommers en gedigte [boodskap #26352] |
Wed, 15 September 1999 00:00 |
Kwarantyn
Boodskappe: 171 Geregistreer: June 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Lievenloven... watter reaksie get jy nie uitgelok met jou plasing van "Die
Brommer" nie, Gloudina! Lanklaas dat 'n gedig so 'n hewige reaksie uitgelok
het. En lanklaas dat ek so 'n vernuftige stukkie woordkuns raakgeloop het
soos hierdie. Dit kom baie na-aan Van Wyk Louw, Breyten, Opperman en die
snare. En voor die ander my stenig: ek hou g'n stuk van die onderwerp van
die gedig nie, en vind die taalgebruik (uit konteks aangehaal) plek-plek
kru. Self gebruik ek nooit die woorde nie. Maar dit maak nog steeds nie dat
die gedig sleg of afstootlik is nie.
Verder verskil ek ernstig van mense wat skryf dat die digter self alles wat
ons daarin lees, noodwendig oorspronklik so bedoel het. Dis soms waar dat
die digter juis wil dat jy meer moet lees as net die oppervlakkige woorde.
Dink bv. aan "in die skerp wit kol / van my wete stol / bruin en skerp 'n
klip / soos 'n bok wat skrik / staan, vinnig weghol / uit die klein wit kol.
/ Aan 'n takkie hang / twee ogies wat bang / uit die klein wit skyn / van my
flits verdwyn. / Oor waters wat glip / soek ek klip na klip / maar 'n
duister land / bedreig my alkant." Opperman se titel vir die gedig ("Man met
flits") laat jou dink jy gaan iets anders kry as wat jy uiteindelik daar
vind. En net die een enkele woord "wete" sluit die gedig oop. Skielik "staat
er niet wat er staat" as ek Nijhoff (was dit Nijhoff??) nog reg kan aanhaal.
Dan word elke beeld simbool van iets heel anders, en die leser word
toegelaat om by die digter se oorspronklike bedoeling ook nog eie assosiasie
te voeg. As leser word jy dan uigenooi om verder te gaan: watter sensoriese,
emosionele en intellektuele betekenisse kan jy, in die konteks van wat daar
staan, heg aan die beelde?
En kyk net hoe nooi "Die Brommer" die leser nie uit nie - uitdaag, moes ek
dalk liewer geskryf het. Heftige reaksies, wat wissel van weersin en afsku,
tot bewondering vir die vaardige woordkunstenaar! Presies dieselfde wat jy
ervaar as jy na 'n brommer kyk: afsku en weersin vir die aaklige en vieslike
insek, maar as jy hom van nader beskou, moet jy toegee: die dier is
wonderbaarlik gemaak, en die kleure is soms aantreklik. Sit dieselfde kleure
op esteties aanvaarbare voorwerpe, en almal bewonder dit. Kleur die brommer
so in, en dit vervul jou met weersin.
Die vernuftige ineenskakeling van die verwysings na Heer en Skepping is ook
baie evokatief - roep beelde en assosiasies op van God en Satan (Heer kan
verwys na beide Beelsebul - die Heer van die vlieë - Satan, en natuurlik na
God, veral in assosiasie met die Skepping.) Die vraag word opgeroep: watter
Skepping / skepping word bedoel? Soos "matroosknoop" ook: die vorm van die
uitwerpsel wat in 'n kringetjie daar lê, een punt oor die res gekrul, en die
vloekwoorde waarvoor matrose spreekwoordelik bekend is.
Van die eerste woord af, tot die laaste, kies die digter sy beelde met groot
omsigtigheid. Hy bedoel juis om te skok. Kyk op watter onverwagte plekke sit
hy die woorde "drol" en "kak" neer - en kyk hoe lei jou van 'n matige skok
met die eerste woord na die hewige skok van die tweede een. Dan volg hy dit
op met die skerp kontras en jukstaponering van "afgryslike" en "Heer" - jy
het nog skaars jou asem teruggekry van die eerste twee skokke, dan slaan hy
jou wind uit hiermee. Van hier af tot met die laaste woord van die gedig hou
hy net nie op nie. Profaniteit en heiligdom word voortdurend met mekaar
gekontrasteer. God het alles in Sy skepping gemaak: mooi en lelik; mens en
uitwerpsel; ten slotte lewe en dood - alles is Sy maaksel. Eugene Marais het
soortgelyke gedagtes uitgespreek, net mooier en sagter vir ons oor. Maar vir
sy tyd was dit netso skokkend: "'n druppel gal in die soetste wyn;" en so
aan tot by "oor alles hou die wurm wag".
Digters skok hulle lesers soms doelbewus - om jou aan die dink te sit oor
dinge wat jy andersins nie eens sou oorweeg het nie. Hoe goed het Naude nie
daarin geslaag nie!
Die enigste beeld wat ek 'n bietjie geforseerd vind, is die beeld van die
dood as juwelier. Dit pas nie baie goed in die res van die gedig in nie,
hoewel hy die leser tog daarop voorberei in sy verwysing na "geglasuurde
bidsnoer", "kosbare bedesnoer" en "kleinood in die vrouehand". Maar die
laaste reël is tog treffend, en baie sterk. Dit roep ook weer gedigte soos
"Skoppensboer" en ander op, en is ryk aan interpretasiemoontlikhede.
Kuns hoef juis nie "mooi" te wees om goed te wees nie. "Mooi" is "Die
Brommer nie"; goed wel - selfs baie goed, baie vernuftig aanmekaar gesit.
"Groots"? Ek twyfel. Selfs min van Opperman en Van Wyk Louw en Breyten en
andere is "groots". Maar dis 'n heel ander bespreking.
Hierdie "skoktaktiek" is niks nuuts nie. Gaan maar na die "metaphysicals"
toe terug en kyk hoe het John Donne en Richard Lovelace en ander nie al
gespeel met woorde nie: "Batter my heart, three-personed God" is 'n puik
voordbeeld. In sy soeke na geloof nooi Donne in hierdie sonnet vir God uit
om hom aan te rand en te oorweldig. Hy gebruik skokkende beelde wat aan die
seksuele ontruk is. Soos 'n man 'n meisie ("virgin") verlei en oorweldig, so
wil hy ook dat God hom sal oorweldig en met geweld van sy hart besit neem.
Ek is doodseker dat jy dit selfs nog verder in die literatuur sal kry as jy
weet waar om te gaan soek.
Dit (skoktaktiek) kom in elk geval in alle kunsvorme voor: Rodin se
beeldhouwerk, die Decameron, Chaucer, Shakespeare, die skilderkuns - selfs
die musiek. (Van Mozrt se operas is niks anders nie as pornografie.) By T.
S. Eliot kry jy juis weerklanke van Chaucer se skoktaktiek, met sy
"Wasteland": die heel eerste reël verwys al na April as "the cruellest
month". Dis juis wanneer jy geskok word dat jy gaan reageer. Die meeste
mense gaan waarskynlik direk en emosioneel ("visceral") reageer; enkeles
gaan stilstaan, weer kyk en hulle eie premisse bevraagteken, herbevestig, of
verwerk en vervang. En dis juis wat die kunstenaar soms wil bereik. In een
van sy essays praat Van Wyk Louw van die verslaentheid wat kuns moet
agterlaat. Verslaentheid oor die emosies wat by jou opgewek is, en - soms -
die katarsis wat daardeur veroorsaak is.
Gegroet uit Newtown, waar ons môre tot 6 duim reën verwag, en winde van 50
myl per uur - as gevolg van FLOYD - nie dennis nie.
Henry
|
|
|
Re: Oor brommers en gedigte [boodskap #26400 is 'n antwoord op boodskap #26352] |
Thu, 16 September 1999 00:00 |
|
Oorspronklik gepos deur: @sympatico.ca
Kwarantyn wrote:
> En kyk net hoe nooi "Die Brommer" die leser nie uit nie - uitdaag,
> moes ek dalk liewer geskryf het.Van die eerste woord af, tot die
> laaste, kies die digter sy beelde met groot omsigtigheid. Hy bedoel
> juis om te skokDie enigste beeld wat ek 'n bietjie geforseerd vind, is
> die beeld van die dood as juwelier.Kuns hoef juis nie "mooi" te wees
> om goed te wees nie.
>
> Dankie, Henry, vir 'n analise deur 'n meestershand.
>
> Die gedig is vir my in die genre van die loof/prysgedig, wat die
> swart rasse in
> Suid-Afrika so meesterlik beoefen.
>
> Die dood, as juwelier, is nie so onvanpas nie. Veral in die konteks
> van Afrika,
> waar die woedende gegons van die brommers amper altyd plekke waar
> die
> dood oorgeneem het, aandui,
>
> Hier in Noord-Amerika is daar ook brommers, maar hulle is nie so kwaad
>
> en verontwaardig en luid as die brommers van Afrika nie. Dis een van
> die
> geluide van Afrika wat ek die meeste mis.
>
> Gloudina
>
|
|
|
Re: Oor brommers en gedigte [boodskap #26401 is 'n antwoord op boodskap #26352] |
Thu, 16 September 1999 00:00 |
Errol Back-Cunningham
Boodskappe: 1029 Geregistreer: August 1996
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Dankie Henry,
Ek het dit geniet om jou ontleding en opinie te lees. Jy vat die
woorde so lekker fyn vas - baie beter as Naude.
Ek sal nie sê dat jy my van die meriete van die gedig heeltemaal
oortuig het nie - ek voel dat dit meer vernuf van die digter sou verg
om dieselfde te bereik sonder die growwe taalgebruik.
Growwe taal in iets wat goed deurdag geskryf word, is nie veskoonbaar
nie. Maar dit bly my persoonlike opinie en ek besef daar is ouens wat
nie pyne met vloekwoorde het nie.
Uit 'n Minnesota met absolute sjampanje weer - sonskyn met 'n koel
daaglikse maksimum van 18-20°C!
PS: as almal maar tog so lekker oor 'n onderwerp kon gesels! Ons kan
gerus almal probeer om by Henry aan te steek en soos beskaafdes te
probeer kommunikeer....
...so met my tong in die kies - dan kan die ou suurpruime nie so baie moan nie!
=|:^)
Johan
|
|
|
Re: Oor brommers en gedigte [boodskap #26402 is 'n antwoord op boodskap #26352] |
Thu, 16 September 1999 00:00 |
Henry
Boodskappe: 16 Geregistreer: January 1999
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Jammer - per ongeluk die vorige een leeg gepos.
skryf in boodskap news:37E0FF84.FA6505C4@sympatico.ca...
> Dankie, Henry, vir 'n analise deur 'n meestershand.
En dankie vir die kompliment. Ek is maar erg verroes - dis baie jare sedert
ek laas gedigte ontleed het, maar dié een het my aangespoor.
> Die dood, as juwelier, is nie so onvanpas nie.
Nee - jy is reg. Die beeld self is nie onvanpas nie, en dit bied ook
natuurlik 'n verdere faset van kontras: die teenstelling tussen juwele as
versierings, en die uitwerpsel wat daar lê.
> Veral in die konteks van Afrika, waar die woedende gegons van die
brommers amper altyd plekke waar die dood oorgeneem het, aandui.
Miskien is dit juis waarom die beeld vir my effe geforseerd voorkom. Die
beeld van juwelier roep sofistikasie op wat dalk nie heeltemal in die
Afrika-konteks pas nie. Maar dalk is dit net vir my wat die assosiasie nie
heeltemal werk nie. Dit verswak in elk geval nie die gedig of die slotvers
nie.
> Hier in Noord-Amerika is daar ook brommers, maar hulle is nie so kwaad en
verontwaardig en luid as die brommers van Afrika nie. Dis een van die
geluide van Afrika wat ek die meeste mis.
Weet jy watter Afrikageluide mis ek die meeste? Die kiewiete wat in die oop
veld langs ons huis in PE nes gemaak het. Saans met skemer het hulle oor die
veld gehardloop en dan skree-skree die lug in gevlieg. Soms, snags, as 'n
niksvermoedende (of skoorsoekende??) hond te na aan die nes gekom het, het
hulle met 'n skril geskree die nagstilte aan flarde geskeur. Of die geluide
van boomdassies snags in die bosse naby Collondale by Oos-Londen, waar ons
met skoolgroepe gaan kamp het. Die boomdassie se geluid is die mees
bloedstollende geluid wat jy jou kan indink. Dit klink soos 'n mens wie se
keel afgesny word - so 'n lang uitgerekte ysingwekkende gil wat hoog op die
toonleer begin, en dan noot vir noot afkom, al korter en dieper en sagter.
Maar erg! Jou bloed word yskoud in jou are as jy dit die eerste keer hoor.
Of die naguiltjie wie se steungeluide klink soos iemand wat 'n fietswiel
oppomp met 'n handpompie - "tsjwie-tsjwie-tsjwie" - jy sien behoorlik die
mens oor sy fiets gebuk met die pompie in die hand, een elmboog wat op en af
pomp. En die geluid van 'n hoëveldse donderstorm in die somer. In ons tuin
in Pretoria had ons ook so 'n verskeidenheid van voëls: tiptolle,
janfiskale, geelvinkies (wat my naaldeik elke jaar skoon gestroop het as
hulle nes gebou het, sodat ek in die somer hope en hope groen blare moes
opvee elke dag) en kuifkophoutkappers, regte ou plaas tortelduiwe en
reënvoëls - en kwêvoëls. Die reënvoëls het in die heining nes gemaak, en
soggens en smiddags op die telefoondraad net langs die swembad gaan sit en
soms helder korrels klank uitgeskink in die stil lug. En nog het ek niks
gepraat van die groot diere van die wildtuine nie!
Afrika is klank en kleur en geur - en sy gelyke is nie te vinde nie, maak
nie saak waar jy gaan nie.
Met Afrika-groete uit die land van die Quakers.
Henry
|
|
|
Re: Oor brommers en gedigte [boodskap #26422 is 'n antwoord op boodskap #26352] |
Fri, 17 September 1999 00:00 |
Francois de Wet
Boodskappe: 226 Geregistreer: August 1999
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Die brommer besigheid laat my dink aan 'n Langenhoven staaltjie, hy was ook maar kru gewees met tye...." Wys my jou kakhuis of ek skuit in bakhuis" vir die bakker wat geneul het vir 'n gediggie op die verkeerde tyd.
Francois
|
|
|
Re: Oor brommers en gedigte [boodskap #26464 is 'n antwoord op boodskap #26352] |
Sat, 18 September 1999 00:00 |
Henry
Boodskappe: 16 Geregistreer: January 1999
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Jy is reg - ek was Engels onderwyser by verskeie hoërskole in PE, en daarna
Engels dosent by 'n onerwyskollege. Ek het onder Edward Davis gestudeer -
dis hy wat my geleer het hoe om gedigte te ontleed. Davis het my geleer om
gedigte vanuit vier hoeke te benader - en dan om beelde een vir een op drie
vlakke te ontleed.
Later ook onder TT Cloete. Sy gunstelingbeeld wanneer dit by gedigte gekom
het, was om dit te vergelyk met iemand wat in 'n donker kamer instap waarjy
nog nooit was nie. Jy stap so voel-voel en voetjie vir voetjie in tot jy
teen iets vasloop. Dan staan jy stil en voel met jou hande wat dit is. Sodra
jy dit herken, verken jy verder tot jy naderhand 'n beeld vorm van hoe die
kamer lyk.
Maar dis nou reeds minstens 15 jaar dat ek uit die akademie beweeg het na
middelbestuur toe. As jy personeel moet bestuur, projekplanne moet opstel,
begrotings moet hanteer en so aan, kry jy maar min tyd vir gedigte ontleed.
Hoe jammer tog....
Watter voorreg het jy nie gehad om met Stoffel Nienaber te werk nie! En sou
dit nie interessant wees om mekaar se werk te kon lees nie - jou stuk oor
Man met Flits, en my oorsig oor die digkuns van Van Wyk Louw, waarvoor TT
Cloete my destyds 'n A+ gegee het. Toe hy dit vir my teruggee, het ek dae
lank gevoel ek trap op wolke. Ek het dit oor en oor gelees, en elke
kommentaar in die kantlyn in Cloete se hand ingedrink. Die ydelheid van die
jeug tog!
Groete uit Pennsylvania, waar die son vandag heerlik geskyn het, terwyl die
vloedwaters in groot dele van New Jersey stadig begin sak het.
Henry
|
|
|
Re: Oor brommers en gedigte [boodskap #26465 is 'n antwoord op boodskap #26352] |
Sat, 18 September 1999 00:00 |
|
Oorspronklik gepos deur: @sympatico.ca
Henry wrote:
> En dankie vir die kompliment. Ek is maar erg verroes - dis baie jare sedert
> ek laas gedigte ontleed het, maar dié een het my aangespoor.
>
O, ek het aangeneem dat jy klasgee erens. Het ek my verbeel of het jy eenkeer
lank gelede vertel dat jy 'n Engelse onderwyser was in Suid-Afrika? Waar
het jy jou behendigheid met die analise van gedigte geleer? Mens ontwikkel
dit nie sommer so uit die blou nie. Dit kos dissipline en die regte leiding op
die regte tyd. In my geval het ek dit eintlik nie in die Afrikaanse departement
op Stellenbosch gekry nie (wel in die Engelse departement.) Ek was gelukkig
om later vir Stoffel Nienaber te gehad het by die Universiteit van Natal,
in die tyd toe mens hoofstukke of selfs hele verhandelings geskryf het oor
net een gedig. (Jy moes die hoofstuk gesien het wat ek oor "Man met
Flits" geskryf het. Ek kry nou nog lekker daaroor.)
Gloudina
|
|
|
Re: Oor brommers en gedigte [boodskap #26773 is 'n antwoord op boodskap #26352] |
Thu, 23 September 1999 00:00 |
Simon van der Schans
Boodskappe: 263 Geregistreer: January 1999
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Henry wrote in message
...
> Later ook onder TT Cloete. Sy gunstelingbeeld wanneer dit by gedigte gekom
> het, was om dit te vergelyk met iemand wat in 'n donker kamer instap waarjy
> nog nooit was nie. Jy stap so voel-voel en voetjie vir voetjie in tot jy
> teen iets vasloop. Dan staan jy stil en voel met jou hande wat
dit is.
WAARSKUWING: (Aan aspirant-gedig-ontleders). Advies hierbo moet
nie te letterlik gevolg word as gedig gaan oor 'n vars drol nie.
Swart Simon
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Wed Dec 04 08:38:00 UTC 2024
|