Wilde families - nog meer [boodskap #22404] |
Mon, 12 April 1999 00:00 |
Oom Hans
Boodskappe: 83 Geregistreer: January 1999
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Robert Zijlstra -
Waar's die Hollander dan nou ?? Ek wil 'n stukkie van die Outjo
Robbertses se beskuit in die nuusgroep koffie doop en jy loop rond. JY
het gesit en "alstublief, alstublief oom Hans" en nou sien mens jou nie meer
hier nie. Strandjakkals (alias.......toemaar ek sal nie sê nie) behoort
ook die noot te vat (die Hartseerwals) by die aanhoor hiervan. Dis mos hy
wat onthou het hoe die Robberts "clan" hulle slaggoedjies saamkarwei het
Torrabaai toe .......
Ewenwel.
Die pad Torrabaai toe vanaf Kamanjab loop oor Dopsteekhoogte. Wie die
plek die eerste keer so genoem het, weet niemand meer nie maar dit maak ook
nie saak nie. Feit is dat hy steil en klipperig is en dat vervloë dae se
motors en bakkies gekook het dat hulle bars teen die tyd wat hulle die kruin
bereik het. Stop moes jy stop dat die spulletjie eers kon afkoel en dis dan
waar die verversings uitgehaal is.
Die Robbertses het normaalweg twee Torrabaai togte aangepak. Een wat NET
die mans gegaan het en die ander waar vrouens en kinders kon saamgaan. In
hierdie storie is almal by - familie en skoonfamilie, oupas en oumas, ooms
en tantes - en dis 'n goeie persentasie van die Outjo distrik. So land
die prosessie bo-op Dopsteekhoogte en daar word halt geroep. Daardie tyd
het bakkies nie enjinkappe gehad nie - hulle het "bonnets" gehad. Almal
maak bonnets oop vir die groot afkoel. Die vrouens en kinders bewonder die
gesig en die mans groepeer vir hulle afkoel rondom die eerste bakkie se
voorraad brandewyn. (Die Robbertses drink net brandewyn en water en daardie
jare ook Lieberstein)
Halfpad deur die karton brandewyn raak die water op. Nou wat nou ? Die
naaste boer met water is MYLE terug en so lank kan hulle nie wag nie. Maar
'n Robberts maak 'n plan. Tap die eerste bakkie (Oupa s'n nogal) se
verkoeler leeg. Hy't mos klaar afgekoel. Gee aan die volgende bottel.
Teen hierdie tyd het die vrouens al begin geduld verloor en was waarskynlik
warmer as die verkoelerwater. Toe die manne die tweede bakkie se verkoeler
wou tap, skree die vrouens blou moord en die manne besluit wyslik om maar
liewers op Torrabaai dit wat hulle begin het, voort te sit. Net een klein
probleempie - een bakkie staan sonder water. Hoe gaan hulle nou ry ???
Van kampeer kon jy die Robbertses niks vertel nie. Hulle was INGERIG tot
in die fynste. Selfs die tradisionele erde "geriefie" vir onder die bed
moes saam see toe. Een kleintjie bekla luidkeels sy "ek moet NOU gaan"
nood by sy ma en toe "drop" die pennie vir een van die meer nugteres. Die
"koos" word opgediep van êrens onder die vrag en doen die rondte. Met een
groot familiepoging is die verkoeler volgemaak en die span kon verder
Torrabaai toe...................
Verkoelergroete - tot 'n volgende keer.
Omie
|
|
|