Vooroordeel (was Re: Glashuisies... (Was Doedie en Kie)) [boodskap #20676] |
Do, 04 Februarie 1999 00:00 |
HvanZyl
Boodskappe: 10 Geregistreer: Januarie 1997
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Dis 'n interessante bespreking die!
Wat ek graag wil weet is hoe julle die verstrengeling tussen vooroordeel,
agtergrondkennis en vorige ondervinding sien en hoe belangrikheid beskou
julle die rol van ondervinding in vooroordeel.
My belangstelling lê nie soseer in die (gebrekkige?) verhouding tussen
rassegroepe nie, maar in alledaagse probleme in die wetenskaplike omgewing
waarin ek werk. Die essensie van die wetenskaplike proses is dat die
"probleem" heeltemal sonder emosie en met geen vooroordeel aangespreek moet
word. Dit is egter selfs in so 'n wetenskaplike omgewing baie makliker gesê
as gedoen.
"Agtergrondkennis" kan gesien word as 'n kombinasie van eie ondervinding en
opleiding (boekkennis gekombineer met die ingeboude "vooroordeel" van die
pedagoog).
Die "ingeboude vooroordeel" van die pedagoog is moeiliker om te omskryf.
Dit sê dat die kundige die boekkennis oordra aan studente gegrond op sy eie
opleiding en sy ondervinding opgedoen deur jare. 'n Gedeelte van sy
opleiding is weer gegrond op die ingeboude "vooroordeel" van sy opleiers.
Die doel waarom jy jou kinders na 'n goeie Universiteit stuur is tog om te
verseker dat die kinders juis die kennis oorgedra deur die kundige kan kry,
gegrond op die diepgaande insig van die persoon, d.w.s. al sy kennis en
hipoteses ("vooroordele").
Indien die komponente van wetenskaplike agtergrondkennis onleed word, is
die grootste gedeelte daarvan feitelik waarskynlik heeltemal korrek maar
elke nou en dan is daar tog 'n aspek, gegrond op vooroordeel (ongeldige
hipoteses), wat nie heeltemal nagevors is nie en tog as feitelik korrek in
die agtergrondkennis opgeneem is. Om nuut en skeppend na 'n probleem te
kyk vereis dat al die komponente van agtergrondkennis, behalwe eie
ondervinding, beslis ietwat op die agtergrond geskuif moet word, of, anders
gestel, om werklik kreatief te kan optree is dit dikwels nuttig om met
iemand te gesels wat nie 'n te diepgaande kennis van die veld het nie. Die
wetenskap is propvol voorbeelde waar mistastings wat as feit aanvaar is na
'n ongemaklike vraag deur goeie navorsing verkeerd bewys word.
In kontak tussen mense of groepe word in die ideale samelewing vereis dat
elke nuwe persoon gesien word op dieselfde manier as die wetenskaplike
probleem hierbo (sonder agtergrondkennis(?), vooroordeel en nie emosioneel
nie). Dit lyk asof vooroordeel egter 'n baie groter rol hier speel en dat
dit nog moeiliker is vir kontak tussen verskillende mense sonder enige mate
van vooropgestelde idees, hetsy "ingeprogrammeer" of verkry deur vorige
ondervinding. In teenstelling met 'n wetenskaplike probleem, waar die eie
ondervinding van die wetenskaplike 'n baie groot rol speel, mag vorige
ondervinding in kontak tussen mense of groepe oënskynlik baie selektief
aangewend word, afhangende van die kant van die draad waar jy staan.
Ek dink dis baie moeiliker vir Jan Alleman om emosies en agtergrondkennis
(geskiedenis, vooroordele en ondervinding) te ignoreer in kontakte met
anderstaliges en anderrassiges. Miskien is dit tyd dat mens juis die
andersheid van groepe erken en hard daaraan werk om die mooi en uniekheid
daarin raak te sien. Is dit nie juis die "andersheid" wat twee mense van
die teenoorgestelde geslag na mekaar aantrek nie? Dit wil vir my voorkom
of die eerste bestandeel van 'n suksesvolle verhouding juis op die
herkenning van verskille gegrond is, beide positief EN negatief). Die
tweede bestandeel is dan waarskynlik om op die positiewe te fokus en die
mooi en die uniekheid daarin raak te sien... ??? Miskien is dit waarop die
bewuswordingsmaande in die VSA geskoei is!?
Dit is egter belangrik dat die beginsel hiervan konsekwent toegepas word.
Ek dink dat "vorige ondervinding" as 'n komponent van vooroordeel in die
praktyk baie selektief as 'n eenrigtingkomponent aangewend word.
Bees wrote in article ...
> Leswin
>
> Jy se:
>
> 1. "Vooroodeel is die basis vir diskriminasie, maar in soverre
> vooroordeel na die affektiewe of gevoelskomponent verwys"
> 2. "en diskriminasie na die gedragskomponent (en stereotipering na
> die kognitiewe komponent)...
>
> Ek sien jou punt dat beide komponente hierbo in ag geneem behoort te
> word in definisies van rassisme, ens.
>
> Maar ek dink jy sal saamstem dat hierdie punte die "offensiewe" party
> (by gebrek aan 'n beter woord) beskryf, en nie die lydende party nie.
> Met ander woorde, hierdie definisie is beskryf in terme van die party wat so
> optree, eerder as die party wat die onderwerp van die
> opmerking of optrede is (die party wat ek die "teiken" genoem het).
>
> Ek wil jou nou terugroep na die beginpunt van ons debat. Jy het
> gereageer op my stelling: "Vooroordeel is vooroordeel, ongeag van die
> teiken."
>
> Jou definisie en argumente draai om die motiewe, magsposisie, optrede, ens
> van die
> OFFENSIEWE party, en nie oor die teikengroep nie. Ek bly glo dat
> vooroordeel, opsigself, verkeerd is ongeag van die teikengroep.
>
> Ek dink egter wel dat jy 'n punt beet het om uit te wys, as ek jou reg
> verstaan, dat vooroordeel 'n nodige maar nie noodwendig voldoende
> komponent van die definisie van diskriminasie is.
>
> As 'n verdere gedagte - ek glo dat die werklike "bron" of oorsaak van
> alle diskriminasie die vooroordeel is - sonder vooroordeel sal niemand
> 'n motief he om diskriminerend op te tree nie, al sou hy of sy die mag
> gehad om dit te kan doen. En dit is die werklike probleem - die
> vooroordeel.
>
> tot later,
>
> Bees
>
> Ps. Ek glo nie noodwendig altyd dat "talle" = "korrek" is nie.
>
|
|
|