Uit "Die Ballade van die Bloeddorstige Jagter" van G.A. WATERMEYER [boodskap #19661] |
Vr, 25 Desember 1998 00:00 |
G.B.
Boodskappe: 2174 Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Uit "Ballade van die Bloeddorstige Jagter"
G.A. Watermeyer
Die geelkapel se kronkels lê
drie sirkels om die maan.
Met watter woede sal die wind
teen middernag sy tentseil slaan?
Koor van die verminkte diere:
Ons was die hoefslag teen die grond,
die vlerkslag teen die lug;
maar al wat lenig was het jy
in kronkels van die pyn ontwrig.
Wilde-kanarie:
Ek kelk die sonlig in my keel
en rym die rondebessie ryp;
met kinderhand het hy, het hy
die fluite uit ons bors gegryp.
Steenbokkie:
Hy het my op die sesde dag
laat dartel uit Sy hand;
en sewe mane spartel ek
die breekbeen oor die sand.
Valk:
Die speerpunt van die wind was ek,
geel ster wat in die daglig skiet;
sy nyd het my getref en so
laat bondel in die riet.
Olifant-trop:
Ons wat die sterkstes is gaan stil
verby die koedoe en die kelkie-wyn;
maar dreun die oerwoud oop en stort
die stamme in ons pyn.
Duif:
Hy het my swaar van Hom laat gaan
omdat my oë van Hom was,
maar watter boodskap spartel ek
hier afkop in die gras?
Luiperd:
Ek is die drinker van die bloed,
die ding wat donker loop,
maar ruk alleen vir eie dors
die polsing van die slagaar oop.
Kraai:
Met hierdie snawel het ek self
Elia in die grot gevoed,
vereffen jy jou skuld, o mens,
met moordslag en met lammerbloed...?
Koor:
Was dit Sy wil, was dit Sy wens?
Ons daag jou wat die heerser was.
Die peulboom sidder in sy stam
en bitter buig die gras.
Jagter:
Bo die trompette van die wind
hoor ek die vlakte kreun,
en teen my skene styg en skuim
dit wat nie uit die wolke reën...
|
|
|