Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Troue" deur CHARL DURAND
"Troue" deur CHARL DURAND [boodskap #19610] Do, 10 Desember 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2174
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Troue
Charl Durand

Op pad sing Kurt Kobain oor die draadloos in my kar: Nee, ek
het nie 'n geweer nie.

Die kerk is te klein vir almal. Net die bruid, haar nuwe man en
die naaste familie pas in die kapelletjie. Die res staan buite in
die reën soos huilerige bywoners wat totsiens kom betoon aan
die landheer se laaste dogter.

skielik wil ek huistoe gaan.

daar's wit duiwe wat op 'n torinkie langs die kerk sit. een styg
op en die hemel wat 'n oomblik tevore nog grou toegevou was
kraak en die son blink vir 'n oomblik in 'n waterpoel.

Als is dood en vernuwing. Siklusse. elkeen probeer 'n nuwe
storie skep maar wat is nuut? Kennis is twee-dimensioneel:
dit strek terug in die verlede maar min mense klim die tou
wat uit die hemel hang.

Buite die kerk, na die tyd, herken sy my nie. Ek stel myself
voor. Ek is Andries, tannie. Sy lyk nes Ouma, toe sy nog in
die bo-dorp van Kemptonpark gebly het. Waar ons moes
stilbly as die Boeings Sondae-oggende hul sterte oor die dak
die lug ingetrek het. Dertig jaar gelede. In die woonstel met
die rooi stoep en die kwaai ou vrou in nommer twaalf wat
vingerwys want ek het met my fiets oor die grasperk gery.

Dis makliker vir ons om te huil oor die verlede as die toekoms.
Jesus het gehuil oor die toekoms. Dis 'n kruis om die toekoms
te kan sien.

Oom Niek is bedruk, sê my tannie. Hoe gaan dit met jou Pa?

Goed dankie, Tannie.

Ons word nou oud, sê oom Niek. Hy't dit by Ouma se begrafnis
ses jaar gelede ook gesê. Daar was 'n dogtertjie in 'n wit rokkie
wat tussen die grafstene gespeel het tot haar pa haar geroep het,
kom staan hier by ons.

Na die toesprake, die sjampanje en die voorgereg gaan sit ek op my
hurke by my tannie-hulle se tafel en skryf my telefoonnommer
agterop my business card. Pa is siek, sê ek, ek wil nie kontak
verloor nie.

Jolanda en haar nuwe man vlieg vanaand Praag toe. Dis lente in
Praag.

Toe ons ry, reën dit nog steeds.

Kurt Kobain was verkeerd.
Vorige onderwerp: Uit "Gedigte 1989 - 1995" deur ANTJIE KROG
Volgende onderwerp: "Herfs" deur MARLISE JOUBERT
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Nov 24 12:18:00 MGT 2024