Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Nog Caprivi Geskiedenis
Nog Caprivi Geskiedenis [boodskap #19221] |
Ma, 16 November 1998 00:00 |
Frikkie van Greunen[1]
Boodskappe: 3 Geregistreer: November 1998
Karma: 0
|
Junior Lid |
|
|
Uit repub...@iafrica.com.na
Caprivi se stormagtige verlede
DIE vlamme wat nou in Caprivi opwel, is nie afkomstig van 'n veldbrand nie,
maar is 'n ou vuur wat gestook word.
Dit het reeds meer as honderd jaar gelede begin toe onderhandelinge tussen
Duitsland en Brittanje die deurslag gegee het en Caprivi deel van
Duits-Suidwes-Afrika geword het.
Om egter 'n beter perspektief van dié streek te kry wat die afgelope dae
weer in 'n kookpot verander het, moet die wysters na die 1800's teruggedraai
word.
Tussen die jare 1600 en 1870 is die Luyana-koninkryk met sy verskillende
groeperinge in die sentrale Zambezi-vallei gevestig. Die groeperinge het
gestrek van Kasane in Betsjoeanaland (Botswana) na die westelike deel van
Noord-Rhodesië (Zambië) tot in die huidige Caprivi. Die Luyana-koning,
Sebituane, is deur sy seun, Sekeletu, opgevolg.
Sekeletu was egter as 'n swak heerser beskou en die situasie is in 1871
uitgebuit toe sy koninkryk deur ene Liwanika van die Kololo-koninkryk
oorgeneem was. Die Sotho-groep het voor die Zoeloes uit Suid-Afrika gevlug
en van die begin af die verskillende groeperinge, onder meer die Masubia,
Mafwe, Mayeyi en Litunga, gedwing om een gemene taal, Lozi, te aanvaar.
"Die skakeling tussen Caprivi en 'n gedeelte van Zambië en Botswana is die
feit dat diegene nou almal Lozi as 'n algemene taal gebruik, hoewel elke
groep nog sy eie taal behou het," het die hoof van die departement
Geskiedenis aan die Universiteit van Namibië, prof. Mwelwa Musambachime,
gesê.
Dit was toevallig in daardie tyd dat die super-moondhede in Europa oor
grondgebied begin meeding het en wat in 1884-85 op die Berlynse konferensie
uitgeloop het. Volgens die boek Namibia in History waarvan die huidige
Minister van Finansies, mnr. Nangolo Mbumba, 'n medeskrywer is, het Europese
lande op hierdie konferensie bespreek op welke wyse hulle hul bedrywighede
in Afrika gaan voortsit. "Hulle het planne gesmee oor watter gedeelte van
Afrika deur watter Europese land beset sal word."
Op 30 Desember 1886 is 'n ooreenkoms aangegaan waarvolgens Duitsland oor
Duits-Wes-Afrika sal heers. (die lot van die huidige Caprivi het egter eers
vier jaar later onder die soeklig gekom). Op dieselfde konferensie is
Betsjoeanaland onder Britse heerskappy geplaas.
Hoewel Caprivi reeds in 1890 na die Duitse kanselier, Georg Leo von Caprivi
Di Caprara Di Montecuccoli, vernoem is, is die transaksie tussen Duitsland
en Brittanje om dié gedeelte af te staan eers in 1893 beklink. "Dit is so
dat die huidige Caprivi eers later deel van Duits-Wes-Afrika geword het toe
Brittanje die strook aan Duitsland afgestaan het," het prof. Musambachime
bevestig.
Die oorspronklike naam van die streek was Caprivi Zipfel, wat verwys na die
dun landstrook wat aan Botswana, Zambië, Zimbabwe en Namibië grens. Met die
teenwoordigheid van die Duitse heerskappy in Duits-Wes-Afrika, was dit
makliker om Brittanje te oortuig om dié strook ook aan Duitsland af te
staan. "In hul onderhandelinge met die Britte het die Duitsers ook die
Caprivi-strook bekom sodat dit Duits-Wes-Afrika met die Zambezi-rivier kan
verbind," volgens Namibia in History. Die ooreenkoms het dié grondgebied wat
soos 'n vinger tot in die hartland van Afrika strek, afgestaan in ruil vir
grond waarop onder meer met beeste geboer kon word.
Die beweegrede om die Zambezi-rivier te bekom, was egter ook gekoppel aan
die doel van die Duitse regering om 'n skakel tussen Duits-Wes-Afrika en
Duits-Oos-Afrika te bewerkstellig. Volgens die Namibia Handbook deur
Sebastian Ballard was verdere oorweginge om die Zambezi-rivier as 'n
vervoerroete na die see te gebruik, terwyl die bykomende water van die
rivier as lewensmiddel vir die inwoners van Duits-Wes-Afrika belangrik sou
wees.
Die eerste Duitse inwoner in Caprivi was kaptein Kurt Streitwolf wat hom in
1906 in die gebied gevestig het. Hy was ook vir die opstel van die eerste
landkaart van Caprivi verantwoordelik. Toe Duitsers hulle in Caprivi begin
vestig, het Letia, die seun en verteenwoordiger van die Barotse-koning,
Liwanika, met sy onderdane oor die rivier na Noord-Rhodesië (Zambië) onder
Britse heerskappy teruggetrek. Dié groep is vandag steeds in Wes-Zambië
gevestig. Die res van die inwoners het in Caprivi agtergebly, onderworpe aan
die Barotse-groep wat in die noordelike Caprivi-strook gewoon het.
Die inwoners van Caprivi was egter nooit in hierdie onderhandelingsproses
geken nie, min wetende dat dit nie die einde van hul lot was nie.
In 1914, gedurende die Eerste Wêreldoorlog, het Rhodesiese troepe Caprivi
oorgeneem. Dié strook is tot 1920 onder die beheer van Betsjoeanaland
geplaas toe die Volkerebond anders besluit het. Dié organisasie het besluit
dat die Unie van Suid-Afrika as mandaathouer van Suidwes-Afrika, ook vir
Caprivi verantwoordelik sal wees. Re�lings moes egter eers met
Betsjoeanaland getref word sodat die Unie van Suid-Afrika Caprivi kon
administreer, hierdie reëling wat van krag gebly het tot 1933 toe
Suid-Afrika beheer oor dié strook oorgeneem het.
Met die koms van die koloniale magte in Caprivi het die verskillende stamme
om erkenning begin wedywer ten einde die beste geleenthede vir die stamhoof
en sy onderdane te beding. "Hierdie wedywering gaan steeds voort. Die stamme
in Caprivi kompeteer nog steeds om erkenning deur die huidige Regering sodat
die een stam kan sê dat hul leier die belangrikste in die streek is," sê
prof. Musambachime.
Politiek het uiteraard 'n groot rol in die wedywering om status tussen
stamme gespeel. Die eerste politieke party wat in Caprivi in 1963 op die
been gebring was, was die Caprivi National Union (Canu) onder leierskap van
Brendan Simbwaye. Dieselfde jaar het dié party in die destydse Wetgewende
Vergadering onder Suid-Afrikaanse beheer dit duidelik gestel dat hulle teen
die gedagte is dat Caprivi van die res van Suidwes-Afrika afstig. Die party
het in 1964 by Swapo aangesluit en mnr. Mishake Muyongo het Canu in die
Swapo hiërargie as vise-president verteenwoordig. Ondanks Canu se vroeëre
uitlatinge oor afstigting, hou mnr. Muyongo vol dat een van die voorwaardes
met die aansluiting van Canu by Swapo was dat die afstigting van Caprivi
weer ondersoek sou word sodra Namibië sy onafhanklikheid verkry het.
Alhoewel dit ten sterkste deur Swapo ontken word, is dit duidelik dat die
saadjie van afstigting reeds in die jare sestig geplant is.
Ná onafhanklikwording het politiekery die stamtwiste in Caprivi aangewakker
met sommige stamme wat Swapo ondersteun het terwyl ander weer ondersteuners
van die DTA is. Dit het verskeie kere daartoe aanleiding gegee dat geweld in
die streek uitgebreek het.
Intussen het Namibië ook met Botswana in 'n grensgeskil oor die eilande
tussen die twee lande betrokke geraak, 'n geskil wat steeds nie opgelos is
nie. Daarbenewens het die gedagte van afstigting vroeër vanjaar weer begin
wortel skiet. Dit het uiteindelik daartoe gelei het dat mnr. Muyongo sowel
as die opperhoof van die Mafwe-stam en al sy khuta-lede deel van die groep
was wat na Botswana gevlug het en om beskerming by daardie regering aansoek
gedoen het. Volgens prof. Musambachime kan 'n opperhoof vir die Mafwe-stam
nie aangewys word nie solank as hoofman Boniface Mamili lewe nie, maar
iemand mag wel aangewys word om die stam se sake in die tussentyd te
hanteer.
Bespiegelinge doen nou die ronde dat die rivierpolitiek tussen Namibië en
Botswana, met die uitgewekenes uit Caprivi, dalk weer kan terugkeer na die
1890-onderhandelingsproses. Wat egter hier in ag geneem behoort te word, is
die wil van die inwoners van hierdie streek wat dekades lank reeds aan
verskeie heerskappye onderworpe was.
Die Republikein 16 Nov 1998
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sa Nov 23 05:07:10 MGT 2024
|