Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Om die Hardekoolvuur lll
Om die Hardekoolvuur lll [boodskap #15629] Sun, 07 June 1998 00:00 na volgende boodskap
Henri Burger  is tans af-lyn  Henri Burger
Boodskappe: 317
Geregistreer: February 1998
Karma: 0
Senior Lid
Ons staan in 'n kring om die hardekoolvuur. 'n Naguiltjie roep in die verte.
"Op oom André(*)," sê ek, en lig die blikbeker. "Op oom André," volg die
ander in 'n koor. Ons drink langtand terwyl ons vir die kole staar. Oorkant
die rivier huil 'n jakkals. Vriend John vat die kitaar en begin 'Skipskop'
sing. Een vir een begin ons saam sing, maar ons kyk nie vir mekaar nie. Toe
die laaste note wegsterf, gaan ons sit, maar almal bly kyk met mistige oë
vir die kole.

"Waar kry jy die Roodeberg?" verbreek vriend John die stilte. "By die KWV,"
sê ek, nog ietwat oorbluf. "Nee, man, by wie?" "Ek het 'n familielid in die
Paarl met 'n kwota. Ek bel hom altyd van Beaufort-Wes af as ek op pad is
Kaap toe."

Stadigaan begin die manne kosmaak op die kole, voor ons vertrek op die
gebruiklike middernagtelike 'gamedrive' langs die Olifants. Jongeling Dunn
sê hy gaan nie saam nie, want laas het hy uit ordentlikheid Dok Sarel sy
Discovery laat bestuur, en van al die whisky het Dok een van sy Michelins
oor 'n boomstomp afgeskryf. Dok Sarel reken net 'n minder begaafde intellek
sal met Michelins hier in die bos kom rondry.

"Ek het eenkeer verdwaal in die Paarl," val vriend Hay uit, terwyl hy die
Bief Strogonov roer. "Jy verdwaal in Hoedspruit, man!" laat Jongeling hoor.
Vriend Hay maak of hy nie hoor nie. Hy is 'n rukkie gelede hier weg
Hoedspruit toe om 'n drankwinkel oop te maak. Eintlik raak ons maar almal
half senuweeagtig as ons op groot plekke kom.

"Ek het gaan wyn koop vir my winkel," gaan vriend Hay voort. "Toe ek in die
Paarl kom, het ek nie 'n idee waar die KWV is nie. Langs die straat staan
een van ons Kaapse broers so teen 'n lamppaal. Op sy gesig kan ek sien dat
hy al baie Oom Tas in sy lewe gedrink het. Ek stamp aan vriend John, "Vriend
Hay mag nou wel 'n drankwinkel op Hoedspruit hê, maar ek sweer hy het nog
nooit een enkele bottel Oom Tas daar verkoop nie. Wat weet hy hoe lyk 'n ou
wat Oom Tas drink!" Weer maak vriend Hay of hy nie hoor nie.

"Ek vra hom of hy my kan beduie hoe om by die KWV uit te kom. 'Dja, minee.
Djy ry nou stryt tot byrie twiere roubot, da drai djy rês...Nei, wa soe i
biedjie...Djy ry tot byrie dêde roubot...' Nou begin Kaapse broer met 'n
vuurhoutjie in sy oor krap. 'Oukei, minee, noutik hom! Djy ry tot byrie
viere roubot...Eintlik, minee, va hie wa ek in djy sta, kan i mannie byrie
kawievie ytkommie!' "

(*) Oom André Bester, eienaar van die plaas wat hierdie storietjies
inspireer, is verlede week oorlede.

Groete

Henri Burger, Tzaneen. RSA
'Afrika is Nie vir Sissies Nie!'
(e-mail: remove 'sukikaki.')

--

Henri Burger, Tzaneen. RSA
'Afrika is Nie vir Sissies Nie!'
(e-mail: remove 'sukikaki.')
Re: Om die Hardekoolvuur lll [boodskap #15650 is 'n antwoord op boodskap #15629] Mon, 08 June 1998 00:00 Na vorige boodskap
Hellin Gervaas  is tans af-lyn  Hellin Gervaas
Boodskappe: 191
Geregistreer: January 1998
Karma: 0
Senior Lid
Pragtig !! Ek het dit baaaaaie geniet ! Hilda.

gervaas...@ping.be
http://www.ping.be/hilda-gervaas
Vorige onderwerp: Corne Mulder se toespraak
Volgende onderwerp: Stoepstorie oor die Bolliebak republiek - volledig
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Mon Dec 23 10:17:33 UTC 2024