Henri se pofadder storie [boodskap #15312] |
Vr, 29 Mei 1998 00:00 |
M.Kruger
Boodskappe: 91 Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Dit was vreeslik goed. Nee, dit was uitstekend.
Hotazel is 'n ervaring. Hier in die droogte van '87 besluit manlief dat ons
moet
gaan kyk wat gaan in die res van die land aan. Toe sit ons een Sondagmiddag
hier op die voorstoep, trek 'n sirkel op die landkaart, skip al die dorpe
waar ons al was, en werk 'n sirkelroete om die land uit vir verkenning.
Iets soos 9000 kilometer in 15 dae afgelê. Beland toe by vriende in
Hotazel.
Hier duskant Vryburg al begin manlief liries raak oor die uitgestrektheid,
en die mooi grasvelde, en die ruimte. Griet wil van niks niks weet nie. Dis
warm, en ek wil die hele tyd net begin huil oor al die verlate
boervroutjies wat so sonder geselskap en krag moet klaar kom in hierdie
helse woestyn. Toe Piet hoor dat die manne bymekaar kuier met vliegtuie is
die gord toe amper daar en dan gaar. Mooi grasvelde, plus mooi beeste, plus
vliegtuie, maak toe vir betowerde Piet, die privaatvlieënier 'n aanloklike
som.
Griet sê die huwelik word deur 'n hele paar drade aanmekaar geknoop, en van
die goed kan breek onder die regte spanning. 'n Kalahari plaas is dalk nou
sy alfa en omega, maar dit sal sonder vrou en kinders wees.
Ons word to Van Zylsrus toe geneem. Die duine gooi allerhande skynsels,
maar Griet vrek uit van die hitte. Die dorp is totaal op sand gebou. Die
kerk sit op 'n duin, die skool op ander, en die hotel op sy eie duin.
Beland toe op die hotelstoep en slaan 'n koue bier weg, heel uit my aard
uit oorverhit. Ek vergryp my nog so aan die heerlikheid, toe ek skielik met
'n slag op die stoepvloer beland. Weet nie wat my getref het nie. Staan die
Tswana kelner met die breedste witste glimlag hier langs my. Help my so ewe
op. Sê hy:" J...s..s vrou, wil jdy ddoodgesteek word? kan jdy nie sien die
steekvlieë draai om jdou se kop nie?"
Dis toe die vriendelike diens wat ons daar kry. Terwyl ons gasvry gelawe
word, klap die kelders sommer die vlieë op jou dood. In my geval was dit my
agterkop.
Sit en vertel die een man toe daar op die stoep, dat sy broer het sulke
groot neusgate, as hy met sy fiets teen 'n sandduin afkom, gebruik hy sy
neusgate vir "parachutes", en terwyl ons na die storie luister, klap die
kelner weer 'n driejarige seuntjie laat hy in die rondte tol, en niemand
slaan ag daarop nie. Toe laat los ek dit ook maar - en dit was voor die
nuwe Suid-Afrika.
Met die vertrek, stop ons by die kafee in die dorp. Teen die boom buite
hang 'n mens geraamte, met 'n bordjie bo dit: " Hier wurg die Lubbes".
Dit was soort van die einde van Piet se groot drome, want vrou-lief kan
goed lees.
Voordat Gloudina my weer beskuldig van seksuele obsessiewe gedrag sal ek
maar volstaan met my pogings
Ek het gisteraand met my skrywersvriendinne gesels (veral die hygroman
outeurs), en nou wil hulle vir Gloudina vreeslik hard slaan. Dis nou nadat
ons deur 'n paar Nyu Chanteneé en Slanghoek se Rooies is en histeries
gegiggel het oor die tannie in Kanada.
Hierdie naweek gaan ons Dasboom van Worcester se kelders inspekteur.
Miskien kan Gideon daar uit die Kaap laat weet watter wyne die gees tot
welbehaaglike oorgawe dwing deesdae. Ek verneem dat die nuwe Botha- en
Louwsville kelders 'n besliste kuier regverdig.
Slanghoek se rooies, Henri, is 'n moet. Dit kom daar uit Goudini se
klimaat, en is heerlik sag op die tong. Dit behoort 'n hele paar nuwe
hardekool stories te laat vorm aanneem.
Ja Boplaas sien ons gereeld. Hierdie jaar was 'n besondere oesjaar hier in
die Karoo. Die soetwyntjies is besonder lekker. Volgens die wynmakers was
dit die beste jaar van die dekade.
Lekker naweek vir almal.
--
sand...@global.co.za
|
|
|