Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Barok (Portugees: barocco, onreëlmatig gevormde pêrel) dui in die eerste plek op ’n bepaalde styl in die boukuns wat voorkom uit die Italiaanse Hoog-renaissance van die 16de eeu. Rome word beskou as die plek van oorsprong en Michelangelo as die vader. Teenoor die beplanning van die Renaissance openbaar die Barok ’n nuwe ruimtebenadering: "Walls are moulded as if made of wax or clay" (Pevsner). Rustelose beweging word ’n doel op sigself: elke argitektoniese vorm word gebruik om beweging te suggereer. Daarby kom die massiewe vorme, die hewige bewoënheid, die grootse uitleg van die omgewing om by die gebou te pas (St. Pieterskerk), sodat die totaalindruk dié is van swier en weelde.
Barok word soms ’n "pralende Jesuïete-styl" genoem. Dis die styl wat deur die Katolieke kerk aangegryp is om met oordaad en swier prestige te gee aan die teenhervorming. Ook van toepassing op ander kunsvorme - in die beeldhoukuns Bernini met die rustelose opeenstapeling van figure; in die skilderkuns: Michelangelo (Laaste oordeel), Tintoretto, en, in die Noorde: Rubens. In die literatuur dui dit op ’n taalweelde, ’n liefde vir heroïese voorstellings (Vondel). In Afrikaans neig sommige van die verse van Uys Krige in die rigting van die Barok, in die sin dat die drif die vorm oorheers.
Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.