Betekenis:
• (soogdier) 'n Hondagtige roofdiere in die familie Canidae wat baie skade onder skape kan aanrig.
• (figuurlik) Iemand wat baie geslepe is. 'n Listige, skelm persoon.
Gebruik:
• 'n Jakkals draf in die pad by ons verby.
• Hy is 'n regte, geveinsde jakkals.
Spreekwoord:
• Jakkals prys sy eie stert. [Iemand prys homself.]
• Jakkals trou met Wolf se vrou. [Dit reën terwyl die son skyn.]
• Hy is 'n jakkals met baie draaie. [Iemand het baie skelmstreke.]
• Hy is 'n jakkals met twee sterte. [Hy is 'n manteldraaier; tweegesig.]
• Hoe kaler jakkals, hoe groter stert. [Wie die minste besit, spog gewoonlik die meeste.]
• Jakkals sê die druiwe is suur. [Gesê as iemand minagtend praat van iets wat buite sy bereik is.]
• As die jakkals die passie preek, moet die boer sy ganse oppas. ['n Skelm se vroom praatjies maak 'n mens agterdog.]
• As die jakkals dik is, is die druiwe suur. [As 'n mens genoeg geëet het, smaak die kos nie meer lekker nie.]
• Die hoenders aan die jakkals toevertrou. ['n Onskuldige persoon aan die genade van 'n skurk oorlaat.]
• Jakkals vee sy spore met sy stert dood. ['n Skelm vernietig gewoonlik die spore van sy misdaad.]
• Jakkals verander van hare, maar nie van snare. ['n Mens ontgroei nooit jou ingebore geaardheid nie.]
• 'n Jakkals vang nie 'n skaap in die dag nie. ['n Skelm steel nie so dat hy maklik betrap word nie.]
• 'n Jakkals wat slaap, tel hoenders in sy drome. [Wanneer 'n skelm nie sy streke uitvoer nie, maak hy planne.]