Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Woordeboek » dra
dra [boodskap #126022] So., 19 Mei 2019 19:46 na volgende boodskap
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 24936
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
Vrouens wat voorskote en emmers dra.
Vrouens wat voorskote en emmers dra.
dra
Afbreking: dra




Werkwoord: dra
Verlede tyd: het gedra
Teenwoordige deelwoord: draend, draende

Betekenis:
• Om iets op te tel en na 'n ander plek te neem; 'n voorwerp vervoer deur dit bo die grond te hou.
• Om 'n kledingstuk of sieraad aan te hê; iets by jou hê.
• Om 'n vrug of vrugte aan te hê; swanger wees.
• Om iemand moreel te ondersteun; bystaan.

Gebruik:
• Sy dra die babetjie na sy bedjie.
• Hy dra 'n goue horlosie en 'n blou hemp.
• Die appelboom het die jaar goed gedra.
• Ons het mekaar deur hierdie moeilike tyd gedra.

Spreekwoord:
• Hy dra 'n juk. [Onder las gebuk gaan.]
• Sy dra die broek. [Sy is baasspelerig.]
• Hy dra dit op sy hart. [Hy voel baie vir iets.]
• Hy dra die hoenderspoor. [Hy is in die gevangenis.]
• Katjies deur die water dra. ['n Netelige saak oplos.]
• Die vaandel dra vir iets. [As voorspraak dien vir iets.]
• Hy dra sy hart op sy mou. [Hy wys maklik sy gevoelens.]
• Dis nie almal kokke wat lang messe dra nie. [Skyn bedrieg.]
• Elkeen moet sy kruis dra. [Elkeen moet sy eie moeilikhede dra.]
• Water in 'n mandjie dra. [Iets wat onmoontlik is, probeer doen.]
• Water na die see dra. [Iets vir iemand gee wat baie daarvan het.]
• Die sieke dra die gesonde. [Die minderbevoorregte help die bevoorregte.]
• As die hemel val, dra ons almal blou musse. [Gesê van iets wat onwaarskynlik is.]
• So waar as padda manel dra. [Uitdrukking ter versterking van iets wat gesê word.]
• Wie heuning wil eet, moet steke dra. [Wie iets besonders wil hê, moet daarvoor betaal.]
• Al dra 'n aap 'n goue ring, hy is en bly 'n lelike ding. [Mooi klere alleen maak nie die man nie.]
• Die vrou dra meer uit met die lepel as die man inbring met die skepel. ['n Vrou wat nie spaar nie, ruïneer haar man.]
• 'n Luiaard dra hom dood, maar hy loop nie twee keer nie. [Gesê van iemand wat op een slag meer wil dra as wat hy kan.]
• Sommer het nie rede nie, want skilpad dra nie vere nie. [Aan iemand gesê wat die rede vir sy optrede aangee as "sommer".]

Wisselvorm:
• draag (verouderd)
• drae (verouderd)

Hiponiem:
• aandra
• afdra
• afdra
• indra
• oordra
• opdra
• ronddra
• saamdra
• uitdra
• wegdra

Afgelei:
• draer
• drasak

Vertaling:
Engels: to carry, wear, bear
Nederlands: dragen

Laat weet asb as die inskrywing foute bevat of verder verbeter kan word.

[Bygewerk op: Do., 23 April 2026 12:59]

Rapporteer boodskap aan 'n moderator

Re: dra [boodskap #151295 is 'n antwoord op boodskap #126022] Wo., 22 April 2026 21:57 Na vorige boodskapna volgende boodskap
DissonantSynth
Boodskappe: 5
Geregistreer: Junie 2025
Karma: 0
Junior Lid
"My hond se oë dra" in die konteks dat 'n hond se oë ontsteek is en 'n slymerige afskeiding maak.

Is dit 'n erkende gebruik?
Re: dra [boodskap #151297 is 'n antwoord op boodskap #151295] Do., 23 April 2026 09:36 Na vorige boodskap
Leksikograaf  is tans af-lyn  Leksikograaf
Boodskappe: 24936
Geregistreer: Maart 2019
Karma: 1
Senior Lid
"Dra" in die konteks beteken om etter of vog af te skei.
Kyk na die ou vertaling van Psalm 38:6: "My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid."
So, dit is 100% reg, maar nie algemeen nie en dalk selfs effens verouderd.
Vorige onderwerp: tussentyd
Volgende onderwerp: smetterig
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr. Apr. 24 11:12:13 UTC 2026