Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Bakterieë (van Grieks bakterion, stafie) is klein vorme van lewe wat bestudeer word met behulp van 'n sterk mikroskoop, met aniline-kleurstof waarmee die monsters gekleur word en serum of selei (bv. agar-agar) waarin die bakterieë by geskikte temperatuur gekweek word. 'n Bakterie kan (a) staafvormig (bacillus) wees, of (b) rond (coccus), of (c) boogvormig (spirilla). Die meeste is 0.005 tot 0.0005 cm. lank; m.a.w. 25,000 langs mekaar sal nie 'n duim lank wees nie. 'n Kweekgroep so groot as 'n mosterdsaadjie sal minstens 1,000,000,000 bakterieë bevat.
Hierdie mikro-organismes vermenigvuldig deur elke 20 tot 30 minute in twee te verdeel. In gunstige omstandighede sal een bakterie dus binne 24 uur 75,000,000,000,000 bakterieë oplewer.
Bakterieë wat as vriende van die mens beskou kan word, is o.a. dié wat plaasmis opbreek in waardevolle bemestingstof, stikstof in die lug in stikstof-samestellinge omsit, die grond deur voortdurende werking met nitrate verryk, die kim vorm waarvan penisilline verkry word, voordelige gisting (bv. suurdeeg) veroorsaak, sellulose in metaan omsit en suiker in gliserine. Maar bakterieë veroorsaak ook talle siektes, soos witseerkeel, ingewandskoors, tering; ook verskeie soorte vergiftiging, bv. voedselvergifting veroorsaak deur Bacillus botulinus, een van die anaërobe bakterieë wat sonder suurstof leef - sover bekend die enigste lewende organisme wat dit kan doen.
Belangrike baanbrekers op die gebied van die bakteriologie is Antonie van Leeuwenhoek (1632 - 1723); Robert Koch (1843 - 1910), wat bewys het dat Bacillus anthracis die oorsaak van miltsiekte in beeste is en wat die knoppie-basil geïsoleer het; Louis Pasteur, lord Lister, sir Alexander Fleming, sir Patrick Manson, sir David Bruce en sir Ronald Ross.
Die kennis van bakterieë het gelei tot die merkwaardige welslae in die stryd teen siekte en tot metodes om siekte te voorkom, soos bv. die middels om bakterieë te vernietig en hul bedrywighede te verminder; die inmaak van vrugte by hoë temperatuur, wat dit jare lugdig bewaar; die steriliseer van chirurgiese instrumente, verbande en wonde; die gebruik van ontsmettingsmiddels, waarby sonlig gereken kan word omdat ultra-violette strale dodelik is vir bakterieë; en ook baie ander vorme van inenting en immunisasie.
Kleiner as selfs die kleinste bakterieë is virusse. Hulle is so klein dat die patoloog hulle nie met 'n gewone mikroskoop kan sien of hulle deur filtrasie kan "vang" nie. Die virus van koeipokke word op 0.00002 cm. in deursnee geskat; dié wat bek-en-klouseer veroorsaak, op slegs 0.0000008 cm. Hulle veroorsaak siektes soos verkoue, pokke, polio, masels ens.
Tussen bakterieë en virusse val die rickettsia. Hulle word deur insekte oorgedra en soos virusse moet hul op lewende weefsels gekweek word. Tifus- en bosluiskoors word o.a. deur rickettsia veroorsaak.
Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.