Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Apokriewe boeke (d.i. verborge boeke) is volgens kerklike spraakgebruik oud-Joodse en oud-Christelike geskrifte wat op grond van inhoud of skrywer die indruk maak asof hulle tot die kanon van die Heilige Skrif behoort, maar in werklikheid geen deel van die Bybel vorm nie en aan die openbare gebruik in die erediens onttrek is. Namate die inhoud van die geskrifte by die Ou Testament of die Nuwe Testament aansluit, word hulle in Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese apokriewe onderskei.
In verband met die Ou Testamentiese apokriewe word onderskei tussen ’n algemene en ’n spesifiek Protestantse gebruik van die woord. In die algemeen is Ou Testamentiese apokriewe dié oud-Joodse geskrifte wat nooit en nêrens as deel van die kanon van die Heilige Skrif beskou is nie. In Roomse handboeke word dergelike geskrifte, soos Jubileë, Henog, die Testament van die Twaalf Aartsvaders, die Hemelvaart van Moses, die Psalms van Salomo, die Apokalipse van Barug, en andere, "apokriewe boeke" genoem, terwyl dit in Protestantse kringe as "pseude-pigrafiese geskrifte", d.w.s. geskrifte wat onder ’n verdigte outeursnaam uitgegee is, aangedui word. Sedert die Reformasie word in Protestantse kringe onder Ou Testamentiese apokriewe verstaan die bepaalde aantal geskrifte wat die Griekse en Latynse vertalings van die Bybel meer het as die Hebreeuse Ou Testament. Die bekendste hiervan is I. en II Makkabeërs, die Wysheid van Jesus Sirag (Hebr. Sira), die Wysheid van Salomo, Tobias, Judit ens. (vgl. Nederlandse geloofsbelydenis, art. 6).
Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.