Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die Amerikaanse Burgeroorlog was 'n stryd tussen die noordelike state (hoofsaaklik industrieel) en die suidelike state (soos Virginië, Tennessee, Mississippi, Georgia), bewoon deur boere en groot landeienaars wat Negerslawe gebruik het; in hoofsaak ’n stryd tussen Federaliste van die noorde, wat die V.S.A. as een nasie wou behou (Federasie), en die suide (Gekonfedereerdes) wat hulle van die noorde wou afskei en ’n onafhanklike land wou stig met eie hoofstad Richmond (Virginië), eie vlag en president. Die Federaliste, met Abraham Lincoln as leier, het verklaar dat die slawerny afgeskaf moes word. Hierteen het die Gekonfedereerdes in opstand gekom, want hulle welvaart was afhanklik van die behoud van die slawerny. Onder die Federale generaals was Ulysses S. Grant, wat later twee maal president van die V.S.A. was; en onder die Gekonfedereerde generaals Robert E. Lee en "Stonewall" Jackson.
Die oorlog het in 1861 begin met die bombardement van Fort Sumter deur die Gekonfedereerdes; in Julie is die slag by Bull Run gelewer, en daarna, in die loop van 4 jaar, het daar oor die 2,200 veldslae, skermutselinge en beleëringe plaasgevind, 600 daarvan in Virginië. In die omgewing van die Potomac-rivier is baie geveg. Die keerpunt van die oorlog was die oorwinning van die Federaliste by Gettysburg 1863, en genl. Lee het hom uiteindelik op 9 April 1865 aan genl. Grant op Appomattox oorgegee. Die triomf van die Federale party het meegebring dat die Gekonfedereerde state verenig gebly het met die Federale state en dat die slawerny dwarsdeur die V.S.A. afgeskaf is. Die regeringstelsel van die V.S.A. is dus federaal, d.w.s. die regerings van al die state van die federasie besit ’n beperkte onafhanklikheid, maar is uiteindelik onderhorig aan die sentrale regering, waarvan die president die hoof is.
Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.