Wildbewaring [boodskap #124588] |
Tue, 22 January 2019 19:23 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Wildbewaring behels die beskerming van wilde diere, hoofsaaklik deur jagbeperkings, die reservering en bestuur van wildparke en die aanstel van wildbewaarders.
Die eerste poging tot wildbewaring in Suid-Afrika dateer terug tot 29 Julie 1814 toe goewerneur lord Charles Somerset gelas het dat sekere soorte wild nie tussen 1 Julie en 30 November van elke jaar geskiet mag word nie. In Maart 1822 is dit uitgebrei om meer spesies te dek wat dan van tyd tot tyd vermeerder is. Toe, soos nou die geval is, is roofdiere, insluitend leeus, geklassifiseer as ‘ongediertes’ en dus nie onderhewig aan beskerming nie. In 1825 is ’n stelsel van lisensies vir die skiet van wild ingestel, hoewel 'n grondeienaar die reg gehad het om vryelik op sy eie eiendom te jag. Vanweë die enorme getal wild dwarsdeur Suid-Afrika vroeër dae, was daar geen rede vir strenger maatreëls nie. In 1846 is sekere verbodsbepalings in die Republiek van Ohrigstad in Noord-Transvaal ingestel en in 1858 het die nuutgestigde regering van die Suid-Afrikaanse Republiek die skiet van olifante streng beperk.
Wildbewaarders is in Transvaal aangestel kragtens ’n beskrywingspunt van die Volksraad van 1870; die gebruik van valle en strikke is verbied en geslote seisoene is neergelê. Bykomende beperkings word in 1891 en 1893 van krag. ’n Jaar later word die Pongolagebied die eerste wildtuin in Transvaal en word op 26 Maart 1898 gevolg deur die proklamasie van die beroemde Sabie-wildtuin wat hoofsaaklik te danke is aan die persoonlike toedoen van president Kruger. Nog ’n gebied, aan die Shingwedzirivier in die noorde, is in 1903 bygevoeg.
Wildbewaring in Natal is in 1866 ingestel en het in 1884 aansienlik uitgebrei toe geslote seisoene en lisensies aanvaar is. Soortgelyke voorsorgmaatreëls is in 1891 in die Wetboek van die Oranje-Vrystaat ingesluit. Danksy die geesdrif en geduld van wyle luitenant-kolonel J. Stenvenson-Hamilton, wat bewaarder van die Sabie-wildtuin geword het, is voorsiening gemaak vir die stigting van Nasionale Parke ingevolge die Wet wat in Mei 1926 aangeneem is. Die belangrikste gevolg was die omskakeling van die Sabie- en Shingwedzi-wildtuine na die Nasionale Krugerwildtuin. Baie ander volg, insluitend die Kalahari-Gemsbokpark, die Nasionale Addo-park, die Nasionale Bergkwaggapark, ens. Ter aanvulling is natuurparke en wildtuine deur die provinsies van die Republiek gestig, elk met sy spesiale bepaling wat oor die onderwerp handel. Die oudste hiervan, die Wildordinansie Nr. 2 van 1912 in Natal is gevolg deur Ordinansie Nr. 6 van 1937 in die Oranje-Vrystaat, die Wildordinansie van die Transvaal in 1949 en die Wildbeskermingsordinansie van die Kaap in 1950.
Maatreëls vir die beskerming van wild is in Namibië (Suidwes-Afrika) met sy beroemde reservaat by die Etosha-pan en elders, in die Hoë Kommissaris-gebiede en in Mosambiek ingestel. Laasgenoemde is veral bekend vir sy Gorongoza-reserwe naby Beira.
Lisensies is nodig om te jag in Zimbabwe (Rhodesië), Zambië en Malawi. Geslote seisoene word toegepas en ’n hele aantal reservate bestaan, waarvan die beroemdste die Wankie-wildtuin is.
Deur middel van hierdie maatreëls is baie spesies wat gevaar geloop het om uit te sterf, gered, insluitend die bergkwagga, bontbok, Knysna olifant, die witrenoster, ens. Die Wildbeskermingsvereniging in die Republiek en die Zimbabwiese (Rhodesiese) Hunters and Game Preservation Association streef albei om die belangstelling in die beskerming van wild en voëls te prikkel.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|