Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Vervoer
Vervoer [boodskap #124409] Sa, 19 Januarie 2019 15:38
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Verskillende vorme van vervoer.
Verskillende vorme van vervoer.
Vervoer behels die verskuiwing van mense en goedere van een plek na 'n ander per pad, spoor of vliegtuig. Vervoer speel 'n belangrike rol in die ekonomie en verseker dat kos, rou materiale en verwerkte goedere na hul onderskeie afsetgebiede geneem word.

Die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens Administrasie is ingevolge die Suid-Afrika-Wet van Maart 1910 gestig onder die volgende klousule: ‘Die Spoorweë en Hawens van die Unie van Suid-Afrika sal op sakebeginsels geadministreer word, met behoorlike inagneming van die landbou- en nywerheidsbevolking in die binnelandse dele van die provinsies van die Unie’. Die beleid van die hele organisasie word neergelê deur die Minister van Vervoer, ’n lid van die Kabinet. Hy word van raad bedien deur ’n Raad van Spoorweë en Hawens, bestaande uit drie lede, maar die werklike bestuur berus by ’n hoofbestuurder. Op 31 Maart 1965 was die totale kapitaal wat belê is R1,890,907,452. Die Administrasie het nog nooit nagelaat om sy verpligtinge ten opsigte van die rente op hierdie belegging na te kom nie. In Suid-Afrika word die term, Spoorweë en Hawens Administrasie in ’n omvattende sin gebruik, aangesien die Administrasie ook verantwoordelik is vir die Hawens, Suid-Afrikaanse Lugdiens, die padvervoerstelsel, wat aan die Spoorweë behoort, en ’n magdom aanvullende dienste soos die Ligtorings en Kusradiobakens, die Spoorwegpolisie (wat nie deel vorm van die Suid-Afrikaanse Polisie nie) en Verversingsdienste.

Hoewel die Suid-Afrikaanse Spoorweë soos tans saamgestel, slegs van 1910 dateer, gaan die geskiedenis van spoorweë in Suid-Afrika heelwat verder terug. Die eerste spoorlyn was in Natal, ’n strook van 2 myl tussen die Punt en Durban en is op 26 Junie 1860 geopen. Kaapland het gevolg met die spoorlyn van Kaapstad na Eersterivier, wat 21 myl lank was en op 13 Februarie 1862 geopen is. Port Elizabeth en Oos-Londen het later gevolg, maar in Transvaal is daar in 1888 met die bou van ’n lyn van Johannesburg, die huidige Braamfontein-stasie, na Boksburg begin. Dit is op 17 Maart 1890 geopen, maar is as gevolg van die openbare vooroordeel nie ’n "spoorweg" genoem nie, maar die ‘Rand Tram’. In 1910 is daar drie afsonderlike Spoorweë in Suid-Afrika bestuur — die Natalse Staatspoorweë, die Kaapse Staatspoorweë en die Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë. Dit het egter saamgesmelt toe die vier provinsies, Kaapland, Transvaal, Natal en die Oranje-Vrystaat, verenig het om die Unie van Suid-Afrika te vorm. Op 30 Mei 1910 was die totale kapitaal van die nuwe organisasie £87,263,366. [R174,526,732].

Hoewel stoomkrag teen die 1950's nog baie gebruik is, het Suid-Afrika reeds 'n beduidende deel deel van sy spoorstelsel geëlektrifiseer. Elektrifikasie was destyds die primêre beleid. In 1958 is diesel-elektriese krag ingevoer. Die eerste groot bestelling vir eenhede is in die Verenigde State van Amerika geplaas. Die voorneme was om van dieselkrag gebruik te maak in dele wat ver is van steenkoolvoorraad en waar daar waterprobleme bestaan. In sommige dele is die water nie geskik vir lokomotiewe nie, terwyl die watervoorrade in streke soos Suidwes-Afrika (nou Namibië) gedurende sekere tye van die jaar byna verdwyn.

Die Suid-Afrikaanse spoorbreedte is 3'6" maar ’n paar kleiner spoorlyne, het nog smal (twee voet) lyne. In 1960 is die spoorlyne in die hele Suidwes-Afrika teen ’n beraamde koste van amper R13,000,000 verander na die 3'6" spoorbreedte.

Suid-Afrika het vier hoofhawens nl. Kaapstad, Durban, Port Elizabeth Oos-Londen, terwyl Walvisbaai in Suidwes-Afrika en Mosselbaai, tussen Kaapstad en Port Elizabeth snel ontwikkelende hawens is. Op 31 Maart 1965 het die kapitale rekening van die hawens gestaan op R101,895,648, maar dit sal verder verhoog word deur groot projekte soos die nuwe tenskip-ankerplek in Tafelbaai (teen ’n koste van meer as R9,400,000) en daar word ook in Durban en Port Elizabeth gewerk. Die Buffelshawe-, Oos-Londen, is die enigste rivierhawe in die Republiek. Al die ander hawens is kunsmatig. Gedurende 1960 het Durban Casablanca vir die eerste keer oortref ten opsigte van tonnemaat wat hanteer is, en sedertdien sy posisie beveilig as die grootste hawe op die vasteland van Afrika. Die hoofhawens is toegerus met alle moontlike fasiliteite, van hyskrane tot gemeganiseerde bedieningstoerusting. Die Sturrock-droogdok in Kaapstad kan enige skip ter wêreld neem en is die grootste droogdok in die Suidelike Halfrond. Droogdokke is ook in Durban en Oos-Londen beskikbaar.

’n Oliepyplyn wat deur die Spoorweë beheer word, is in November 1965 van die nuwe groot terminus in Durban af na die Rand voltooi. Dit is meer as 400 myl lank.

Die derde vertakking van vervoer wat deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë beheer word, is die netwerk paddienste. Passasiers, goedere en lewende hawe word vervoer. Aanvanklik is die paddienste ingevoer om die spoorwegstelsel aan te vul en om gebiede wat nie deur openbare vervoer bedien word nie, in te skakel by die nasionale ekonomie. Omdat dit as gevolg van die openbare aanvraag uitgebrei is, het dit sy essensiële karakter gedeeltelik verloor as aanvulling van die spoorweë.

In Maart 1964 het die Suid-Afrikaanse Lugdiens sy dertigste verjaardag gevier. Die eerste openbare lugdienste is deur ’n privaatmaatskappy verskaf, nl. Union Airways, maar eerder vir pakkette en pos as vir passasiers. In 1934 is die Suid-Afrikaanse Lugdiens ingestel as deel van die Spoorweë en Hawens-organisasie, en alle bates van Union Airways is oorgeneem.

Die ontwikkeling van lugvervoer in Suid-Afrika was merkwaardig. Teen die 1960's beskik die Suid-Afrikaanse Lugdiens oor 29 vliegtuie, van verskillende tipes, insluitende Boeing 707 Interkontinentale stralers. Gedurende die jaar geëindig 31 Maart 1965 het die S.A. Lugdiens 625,661 passasiers, 19,434,525 ton-myl vrag en 3,594,324 ton-myl pos vervoer. Afgesien van binnelandse en streekdienste, lewer die Suid-Afrikaanse Lugdiens ook dienste na ander kontinente soos Europa en Australië.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Verulam
Volgende onderwerp: Verwoerd, Dr. Hendrik Frensch
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Nov 21 19:44:34 MGT 2024