Tuis » Taal » Ensiklopedie » Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog)
Tweede Vryheidsoorlog [boodskap #124249] |
Do, 17 Januarie 2019 17:46 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog was 'n oorlog tussen die Boererepublieke (van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek) aan die een kant en die Britse Ryk aan die ander kant wat van 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902 gewoed het.
Hoewel die Britse leër gelas is om op 7 Oktober 1899 te mobiliseer, is die finale Boere-ultimatum eers op 10 Oktober ontvang. Die gevegte het die volgende dag, 11 Oktober, begin en op 12 Oktober het die Britse agent, mnr. Conyngham Greene, Pretoria verlaat en het die Boere Natal binnegeval. Die eerste Boere-oorwinning was die verowering van ’n Britse pantsertrein by Kraaipan in Betsjoeanaland. Die vroeë stadium van die oorlog was rampspoedig vir die Britte. Dit het ’n hoogtepunt bereik in die "Swart Week". Die republikeinse magte het Mafeking bereik, dit beleër en tot ver in die Kaapkolonie binnegedring nadat ook Kimberley beleër is. Hoewel verskeie eenhede van die Britse Statebond, met inbegrip van Kanada, vroeër reeds hulp aangebied het, was dit eers in Desember, toe generaal Buller om versterkings gevra het, dat die ware erns van die toestand in Brittanje besef is. Op 18 Desember 1899 is lord Roberts aangestel as opperbevelhebber met lord Kitchener as stafhoof.
Met die aankoms van groot Britse versterkings het daar ’n keerpunt gekom in die Boereseges, en op 27 Februarie 1900 het generaal Piet Cronjé met 4,000 man by Paardeberg oorgegee. Skaars 14 dae later val Bloemfontein in Britse hande. Op 11 Mei 1900 het Joseph Chamberlain aangekondig dat die Britse regering van plan is om die twee Boererepublieke te annekseer. Ten spyte van die Boere se manmoedige en vernuftige weerstand het die Britse hoofmag op 27 Mei 1900 die Vaalrivier by Vereeniging oorgesteek en Pretoria op 5 Junie verower. Pogings om die stryd te beëindig het misluk toe generaal Louis Botha, toe opperbevelvoerder van die Boere, geweier het om generaal Buller se vredesvoorwaardes te aanvaar. Met die vertrek van die Transvaalse regering na Oos-Transvaal het die stryd die aard van guerilla-oorlogvoering aangeneem waarin die geniale generaal Christiaan de Wet wêreldwye roem verwerf het.
Die anneksasie van die Boererepublieke, die Oranje-Vrystaat op 24 Mei 1900 en Transvaal op 1 September, het geensins ’n einde gemaak aan die strawwe oorlog nie. Onderwyl die Boere-verteenwoorigers onder leiding van president Kruger hulle vir buitelandse inmenging beywer het, het die meeste ander lande ’n neutrale beleid gehandhaaf. Generaal De Wet het in 1900 die Kaapkolonie binnegeval en hy is effektief gesteun deur ander ekspedisies onder generaal J.B.M. Hertzog en generaal J.C. Smuts. Om die duur en uiters veeleisende veldtog ten einde te bring, het lord Kitchener, wat lord Roberts as opperbevelhebber vervang het, ’n stelsel van blokhuise opgerig, maar die stryd het voortgeduur. Selfs die internering van Boerevroue en -kinders en ander nie-vegtendes in konsentrasiekampe het nie die Boere tot oorgawe gedwing nie. Hernieude pogings is aangewend om die oorlog te beëindig en op 13 Februarie 1901 het Kitchener onderhandelings met Botha voorgestel met die oog op vrede. Botha het weer die aangebode voorwaardes verwerp en die stryd is voortgesit.
Toestande was haglik vir die Boere, maar hulle het die stryd voortgesit en van voorrade gebruik gemaak wat van die Britte afgeneem is en hulle nog swaar verliese toegedien. Bemiddelingspogings deur Nederland is in Januarie 1902 deur die Britte van die hand gewys, maar in Maart is die eerste geslaagde vredesonderhandelings gevoer. Sommige Boere-afvaardigings het op 9 April die Britte op Klerksdorp ontmoet en ander in Pretoria op 12 April. Die finale beraadslagings het op 15 Mei 1902 begin en drie dae later is besluit om die voorwaardes te aanvaar. Die Vrede is op 31 Mei 1902 in George Heys se huis in Pretoria onderteken. Volgens amptelike syfers het Brittanje 448,725 manne van alle range in die veld gehad, waarvan 52,414 in Suid-Afrika self gewerf is, terwyl 30,000 deur ander lede van die Statebond verskaf is. Dit is moeilik om die juiste getal aan Boerekant te bepaal, maar na skatting was daar sowat 60,000 Boere in die veld.
Die aantal Boere wat aan die einde van die stryd die wapen neergelê het, was 21,256 (11,166 in Transvaal, 6,455 in die O.V.S. en 3,635 in die Kaapkolonie). Die Britse ongevalle het 97,477 beloop waarvan 5,774 gesneuwel het, 2,018 aan hulle wonde beswyk het, 198 in ongelukke gedood is en 13,350 aan siektes gesterf het. Afgesien van die sterftes in die konsentrasiekampe het sowat 6,000 man aan Boerekant gesneuwel. Die totale koste van die oorlog was £205,000,000.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sa Nov 23 13:03:33 MGT 2024
|