Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Transkei
Transkei [boodskap #124198] Di, 15 Januarie 2019 19:27
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Transkei is 'n streek in Oos-Kaapland tussen die Keirivier en die Natalse grens (uitsluitende die distrikte Maclear en Elliot) en wat bestaan uit Temboeland, waarvan Bomvanaland ’n deel vorm, Pondoland, Fingoland, Galekaland, die Idutywa-reservaat en Griekwaland-Oos. Oppervlakte: 38,712 vierkante kilometer (16,554 vk. myl). Die geskatte bevolkingsyfer in die 1960's was 1,500,000 (16,000 Blankes).

Oor baie jare het ’n administratiewe stelsel onder bekwame hooflanddroste gesteun deur erkende hoofmanne en stamhoofde in die hoofstad, Umtata, ontwikkel. In Mei 1957 is die Bunga vervang deur ’n nuwe Transkeise Gebiedsowerheid. Op sy beurt is dit ingevolge Wet Nr. 48 van 1962 vervang toe selfregering wat in 1964 in werking getree het, aanvaar is, en alle Bantoe-inwoners, insluitende diegene wat buite die Transkei se grense is, stemreg gekry het. Kragtens die eerste kieswet is 880,425 kiesers in 1963 geregistreer. Die Transkeise Wetgewende Vergadering het bestaan uit 4 opperhoofde, 60 hoofmanne en 45 lede wat deur die geregistreerde kiesers gekies is, en wat ook lede van die Transkeise stamme kon wees wat elders in Suid-Afrika woon. Daar was ’n kabinet, verkies deur die Vergadering, bestaande uit ’n Hoofminister en vyf Ministers, naamlik van Justisie, Onderwys, Binnelandse Sake, Landbou en Bosbou en Paaie en Werke. Dit het beskik oor mag om regstreekse belasting te hef en het beheer uitgeoefen oor die plaaslike polisie, ondergeskikte howe, vrederegters, plaaslike openbare werke en paaie, Bantoe munisipale instellings, die plaaslike staatsdiens, arbeidsaangeleenthede en welsynsdienste. Wetsontwerpe wat deur die Vergadering goedgekeur is, moes deur die Staatspresident bekragtig word.

Lede van die kabinet kon op versoek van die Wetgewende Vergadering deur die Staatspresident afgedank word. Die Vergadering moes minstens een keer per jaar byeenkom en moes 5 jaar na die eerste sitting, of vroeër op aanbeveling van die kabinet, of ingevolge ’n proklamasie van die Staatspresident, ontbind word. Sake wat buite die jurisdiksie van die Vergadering geval het, is militêre aangeleenthede en die beweging van Suid-Afrikaanse troepe in die gebiede, die beheer van wapenfabrieke, die aanstelling van diplomatieke verteenwoordigers en die aangaan van verdrae of internasionale ooreenkomste, die polisie, poskantoor en radio, nasionale paaie, spoorweë, hawens en lugvaart, die toegang van nie-Transkeise persone na die gebied, die Transkeise Hooggeregshof, betaalmiddele, bankwese en openbare lenings, doeane en aksyns en die wysiging van die Wet op die Transkeise Grondwet. Voorsiening is gemaak vir ’n Transkeise vlag en ’n nasionale volkslied. Xhosa was ’n bykomende amptelike taal en Sotho kon vir amptelike doeleindes gebruik word.

Die Transkei was die eerste van die Afsonderlike Ontwikkelende Selfregerende Gebiede ingevolge die Regering se destydse beleid. In 1987 het Bantu Holomisa ná 'n militêre staatsgreep Kaizer Daliwonga Matanzima as staatshoof vervang. Ná die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994 is die Transkei by die Republiek van Suid-Afrika heringelyf. Dit is tans deel van die provinsie Oos-Kaap.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Transalloys
Volgende onderwerp: Transkei Democratic Party
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Nov 22 01:53:56 MGT 2024