Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Teater
Teater [boodskap #124136] Ma, 14 Januarie 2019 06:25
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Die binnekant van 'n teater.
Die binnekant van 'n teater.
Teater verwys na die opgevoer van dramas (toneelspel) deur akteurs voor ’n gehoor. Dit word tipies vanaf 'n verhoog gedoen en word dikwels met musiek en dans gekombineer.

Toneelopvoerings in Suid-Afrika kan nagegaan word tot selfs voor die eerste blanke nedersetting, want in 1635 het die oorlewendes van die Portugese skip, Nossa Senhora de Belem, wat langs die Natalse kus benoorde die Umzimvuburivier gestrand het, die tyd verdryf deur ’n bulgeveg in ’n spesiaal-opgerigte omheining te reël en komiese en ander stukke op te voer.

In 1956 het die vroeë Hollandse reisiger, eerw. Francois Valentyn daarvan melding gemaak dat hy ‘spelers’ gesien het op die Engelse Oos-Indiëvaarders wat by die Kaap aangedoen het, terwyl Peter Kolbe ook daarvan melding gemaak het dat toneelstukke tydens ’n seereis na die kolonie opgevoer is. Enkele verwysings verskyn in ander 18de eeuse verslae, insluitende die boeke van O.F. Mentzel (1733-41), maar dit was nie voor die aankoms van die Franse garnisoen in 1780 dat ’n georganiseerde toneelstuk opgevoer is nie. Hier het nuwe aankomelinge vir tydverkorting toneelstukke in hulle eie taal opgevoer. Daar is rede om te glo dat die klassieke werk, Die Huwelik van Figaro, reeds in 1783 in die Kaap opgevoer is, ’n jaar voordat dit in Parys op die planke gebring is.

Hierdie bedrywighede is beëindig met die vertrek van die Franse troepe en eers in 1795, met die eerste Britse besetting, het daar ’n oplewing gekom. Amateurverenigings, hoofsaaklik gepatroniseer deur die offisiere, het hulle stukke in Engels opgevoer maar dit is gou aangevul deur ’n mededingende organisasie wat die Nederlandse taal gebruik het. In 1800 is die "African Theatre" — die oudste in Suid-Afrika en wat nog bestaan, hoewel nie langer in gebruik vir sy oorspronklike doel nie — op, wat nou bekend is as Riebeekplein, Kaapstad, opgerig. Groot belangstelling in die toneel is aan die dag gelê en produksies is ook in Frans aangebied. Teen 1829 is met amateur toneelspel op Stellenbosch begin; Grahamstad het in 1837 gevolg, Pietermaritzburg in 1846, Port Elizabeth in 1853 en King William’s Town in 1854.

Die eerste pogings om dramas plaaslik te skryf kan nagegaan word tot by Charles Etienne Boniface, wat nadat hy talle Franse stukke vertaal het, met sy eie oorspronklike werke begin het, insluitend De Nieuwe Ridderorde wat in 1832 in Kaapstad gedruk is. Joseph Suasso de Lima het ook probeer skryf en sy werke is redelik goed ontvang.

In 1848 het beroepspelers van oorsee hulle verskyning gemaak toe ’n Franse geselskap ’n seisoen in Kaapstad opgetree het. In dieselfde jaar het James Lycett van Engeland as regisseur begin. Dit was eers in 1855 dat Sefton Parry, vader van die moderne Suid-Afrikaanse toneel, aangekom het en met ’n reeks opvoerings met sy eie geselskap begin het. Hy het tot in 1863 gebly. Van toe af het oorsese geselskappe en regisseurs toegeneem, aangemoedig deur die welvarende en vrygewige delwergemeenskap op die Diamantveld. In November 1873 het kaptein Disney Roebuck met sy eie geselskap in die Kaap aangekom. Daar het hy verskeie seisoene opgetree en ’n aantal mededingers gelok. Die eerste opera van Gilbert en Sullivan, The Pirates of Penzance is in 1885 deur "Bonomi’s Juvenile Opera Company" opgevoer.

Belangrike teaterpersoonlikhede teen die einde van die 18de eeu in Suid-Afrika was Luscombe Searelle, Leonard Rayne, Frank de Jong, Sass en Nelson, Rosenthal en Hyman ens. ens. Met die opkoms van die Witwatersrandse Goudveld is voldoende winsgewende skouburge of sale opgerig om sterre uit Londen te lok. Onder die vroegstes was Genevieve Ward, die groot Shakespeare-aktrise wat in 1891 ’n toer deur die land onderneem het. Sy is die jaar daarna gevolg deur mev. Brown Potter en Kyrle Bellew. In die twintigste eeu het daar meer en meer vooraanstaande besoekers gekom, insluitend Lily Langtry in 1906, Frank Benson, wat die toer jare later herhaal het, Seymour Hicks, Marie Lloyd in 1911, Marie Tempest, H.B. Irving, Alfred Paumier, Matheson Lang in 1912, Clara Butt, Maud Allen en baie ander.

’n Merkwaardige insident in 1910 was die opvoering van die Pageant of South Africa deur Frank Lascelles wat deel gevorm het van die vierings vir Uniewording wat aan die voet van Adderleystraat, Kaapstad, plaasgevind het en bestaan het uit ’n rolverdeling van ’n paar duisend. Dit het fenomenale gehore getrek. In dieselfde jaar het ’n Suid-Afrikaanse skrywer, Stephen Black, groot welslae op die verhoog behaal met sy reeks plaaslike stukke, insluitend Love and the Hyphen en Helena's Hope. Op die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog is die eerste revues op die Suid-Afrikaanse verhoog aangebied wat byna ’n geslag lank in die mode gebly het. Die uitbreek van vyandelikhede, indien dit iéts gedoen het, het bygedra tot die gewildheid van die teater, en besoekende geselskappe, soos die van Alan Doone, het verskeie jare lank opgetree. Na die oorlog het daar weer baie sterre na Suid-Afrika gekom, insluitend Harry Lauder, George Robey, Irene Vanbrugh, die Macdona Players wat hulle op Bernard Shaw-stukke toegelê het. Arthur Bouchier, Owen Nares, Sybil Thorndike, Lewis Casson, Maurice Moscovitch, Olga Lindo, Julian Rose, Herschel Henlere en baie ander. Die konsertsaal wat sedert die Victoriaanse tyd ’n bloeitydperk beleef het, is deur die revue (toneel) oorskadu.

Toe die klankfilms in 1929 hul verskyning maak, het die toneel in Suid-Afrika ’n terugslag beleef wat jare geneem het om te herstel. Tog het daar twee belangrike uitbreidings plaasgevind: die aanvang van die vaste toneelgeselskapbeweging in Kaapstad, Johannesburg en elders, en die ontstaan van die Afrikaanse toneel waarvan die Belg, Paul de Groot, miskien as die pionier beskou kan word. Besoeke deur gevierde oorsese persoonlikhede het skaarser geword, maar het nooit opgehou nie, en kort voor die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n besliste oplewing. Selfs daardie stryd het beroemde persone na Suid-Afrika gebring, soos Noel Coward en ander wat vir E.N.S.A. gewerk het.

Sedert die Tweede Wêreldoorlog het daar ’n bemoedigende oplewing in die toneel plaasgevind, wat veral die Brian Brooke-geselskap insluit. Hulle het in 1947 in Kaapstad ’n beskeie begin gemaak en bestaan dekades later nog met ’n eie teater in Johannesburg. Dié stad beskik ook oor die Alexander-teater wat aan die Repertory Society behoort, en ’n stedelike teater. In Kaapstad, met sy Leonard Schach-geselskap, is die Kleinteater wat aan die Universiteit behoort, die Labia en die Hofmeyr, wat getuig van die lewenskrag van die Suid-Afrikaanse toneel. (Sien ook Eoan-Groep). Na raming is daar meer as 100 beroepsakteurs in die land. In Zimbabwe (Rhodesië) was daar ook vooruitgang op dié gebied en daar is vaste toneelgeselskappe sowel in Harare (Salisbury) as in ander groot sentrums noord en suid van die Zambezi. Sir Stephen en lady Courtauld het besonder milddadig bygedra tot die toneel in Zimbabwe (Rhodesië) en Zambië.

’n Merkwaardige bydrae tot die prestasie van die Suid-Afrikaanse toneel was die suksesvolle opvoering in 1961 van King Kong, die musiekspel deur ’n Bantoegeselskap van Johannesburg. Suid-Afrikaanse akteurs wat beroemdheid oorsee verwerf het, sluit in, Laurence Harvey, Basil Rathbone en Moira Lister. Wait a Minim deur Ken Taylor was nie net in Suid-Afrika ’n groot sukses nie, maar ook in Londen waar dit meer as ’n jaar lank opgevoer is. Later is dit ook in New York aangebied. Sien ook Nasionale Toneelorganisasie.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Tchagra
Volgende onderwerp: Tegniese Dienskorps
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Nov 22 01:15:16 MGT 2024