Namibië [boodskap #124061] |
Sun, 13 January 2019 12:05 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Namibië (vroeër Suidwes-Afrika) is 'n land en republiek in Suider-Afrika. Dit grens aan Angola en Zambië in die noorde, Botswana in die ooste en Suid-Afrika in die ooste en suide. Die Atlantiese Oseaan vorm die westelike grens. Die hoofstad en grootste stad is Windhoek.
Afgesien van ’n barre kusstreek wat hoofsaaklik uit sandduine bestaan, bestaan Namibië uit ’n reeks groot plato’s en kom woestyntoestande oor groot dele voor. Die vernaamste riviere is die Oranje, die suidelike grens, die Kunene aan die noordelike grens, die Zambezi waaraan Namibië by die Caprivistrook grens, die Okavango, die Chobe of Linyanti en die Kwando. Daar is ook betreklike klein riviere soos die Swakop en die Kuisip.
Die vernaamste nywerhede in Namibië is: die produksie van diamante waarvan die meeste van die halfwoestyn-kusstreek afkomstig is, en die produksie van karakoel-velle wat ’n wêreldbelangrike mark geskep het. Die belangrikste metale word by Tsumeb aangetref. Die vroeëre Duitse hawe Swakopmund het ’n kusoord geword, terwyl groot ontwikkelings plaasgevind het by Walvisbaai wat snel groei. Afgesien van lugrederye wat die belangrikste sentrums bedien, beskik die land oor 'n uitgebreide spoorstelsel (aanvanklik onder beheer van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens).
Die kolonisasie van Suidwes-Afrika het begin met die aankoms van die vroeë blanke handelaars uit die Kaap in die 18de en vroeë 19de eeu. Hulle is omstreeks 1840 gevolg deur sendelinge, hoofsaaklik uit Duitsland. ’n Hele paar van hulle sendingposte het sedertdien dorpe geword, onder meer Keetmanshoop en die hoofstad, Windhoek. In 1884 het Adolf Lüderitz, met die toestemming van Bismarck, die Duitse gesag by Angra Pequena, later herdoop na Lüderitzbucht, gevestig en dit later na die binneland uitgebrei. In die daaropvolgende jare het die moeilikede met die opstandige inboorlinge ’n hoogtepunt bereik in die Herero-oorlog. Die ontdekking van diamante in 1908 het grootliks bygedra tot die vooruitgang van die gebied en het baie nuwe blanke setlaars gelok, wat met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog nagenoeg 20,000 getel het. Spoorlyne is gebou, dorpe is aangelê en radiosenders is opgerig. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Uniemagte die Duitse troepe in Suidwes-Afrika in 1915 by Nakop tot oorgawe gedwing.
Die land was tot 1919 onder militêre beheer toe Duitsland ingevolge die Verdrag van Versailles afstand gedoen het van sy kolonies, wat daarna onder die Volkerebond geplaas is. Laasgenoemde het op sy beurt die mandaat oor Suidwes-Afrika aan die Unie toevertrou. Die Unie het dit op 12 September 1919 formeel aanvaar. Op 1 Januarie 1925 is burgerlike bestuur onder ’n Administrateur ingestel en in 1925 het Suidwes-Afrika sy eie Wetgewende Vergadering gekry. Sedert 1949 is die gebied in die Unie-Parlement verteenwoordig deur 4 Senators en 6 Volksraadslede. Rehoboth het oor sekere tradisionele regte van selfregering beskik, terwyl die meeste Bantoestamme oor hulle eie hoofmanne in hulle eie gebiede beskik het. Na die stigting van die Verenigde Volke is die magte van die vroeëre Volkerebond aan hom oorgedra. Die Unie het aanvanklik, soos sy gebruik by die Volkerebond was, jaarliks verslae oor die gebied aan die VVO voorgelê, maar met die volgehoue kritiek en aanvalle op die Unie is die gebruik beëindig.
Op 21 Maart 1990 het dit van Suid-Afrika onafhanklik geword (met die uitsondering van Walvisbaai). In 1994 is Walvisbaai amptelik aan Namibië oorhandig.
JAARTALLETABEL
1482 Die Diago Cam bereik Kaapkruis aan die kus van Suidwes-Afrika.
1488 Angra Pequena (nou Luderitzbaai) ontdek deur Bartholomeüs Dias.
1685 Simon van der Stel se ekspedisie na die Namakwas.
1760 Jacobus Coetzee ontdek die bronne by Warmbad op ’n jagtog.
1761 Hendrik Hop se ekspedisie na die Hererogebied.
1792 Willem van Reenen bereik die omgewing van Rehoboth. Pieter Pienaar land by Walvisbaai en werk in Swakopvallei.
1805 Die Albrecht-broers vestig hulle as sendelinge by Warmbad.
1811 Warmbad verwoes deur inboorlinge.
1815 Eerw. J.H. Schmelen stig Bethaniesesendingpos in Namakwaland.
1821 Dood van Jager Afrikaner.
1824 Eerw. J.H. Schmelen bereik Walvisbaai oor land.
1825 Eerw. J.H. Schmelen dring deur tot in die omgewing van Windhoek.
1836 Sir James Alexander verken Namakwaland en Suidwes.
1840 Jonker Afrikaner vestig hom in Windhoek.
1842 Rynse sendingpos in Windhoek gestig.
1844 Stigting van Barmen.
1845 Stigting van Rehoboth en Walvisbaai.
1848 Stigting van Otjimbingwe.
1849 Moord by Okahandja.
1850-1 Francis Galton en C.J. Andersson verken die Herero- en Ovambogebied.
1855 C.J. Andersson bereik die Ngami-meer van Gobabis af.
1859 Thomas Baines en James Chapman steek Betsjoeanaland oor na Walvisbaai.
1863 Oorlog breek uit tussen Namakwas en Herero’s. Rynse sendelinge vra om Duitse beskerming.
1866 Keetmanshoop gestig.
1870 Herero’s en Namakwas maak vrede by Okahandja.
1874 Transvaalse Boere onder Gert Alberts trek na Rietfontein naby Gobabis.
1876 W.C. Palgrave besoek Suidwes-Afrika en annekseer Walvisbaai.
1878 Union Jack in Walvisbaai gehys.
1880 Stigting van Berseba. Tienjarige Oorlog tussen Herero’s en Namakwas begin. Vertrek van W.C. Palgrave.
1883 Adolf Lüderitz stig nedersetting by Angra Pequena.
1884 Duitse Protektoraat uitgeroep.
1885 Duitsers onderwerp die Herero’s; Konsessies aan maatskappye toegestaan.
1886 Grens met Angola bepaal.
1888 Opstand van Herero’s.
1890 Dood van Mahereró. Grens met die Britse gebied bepaal. Caprivistrook bepaal.
1892 Duitse Imperiale kommissaris aangestel (dr. H. Goering).
1893 Opstand onder Witbooi.
1894 Eerste Goewerneur (Von Leutwein) aangestel.
1898 Werk begin aan die Swakopmundse hawe. Werk begin aan spoorlyn na Windhoek.
1904 Uitbreek van die Herero-oorlog en Bondelswarts-rebellie.
1904 Verpligte onderwys vir blanke kinders ingestel.
1905 Karakoelboerdery begin.
1906 Einde van die Herero-oorlog. Ontdekking van diamante.
1907 Walvisbaai se grens besleg deur koning Alphons van Spanje.
1913 Groot radiostasie in Windhoek gebou.
1914 Uitbreek van Eerste Wêreldoorlog. Inval van Duits-Suidwes-Afrika deur die Unie-magte onder generaal Louis Botha. Spoorlyn verbind met dié van Suid-Afrika by De Aar.
1913 Oorgawe van die Duitse magte onder kolonel V. Francke by Korab.
1920 Suidwes-Afrika word Mandaatgebied van die Unie van Suid-Afrika. G.R. Hofmeyr word eerste Administrateur.
1922 Bondelswarts-rebellie.
1924 Onrus onder die Rehoboth-Basters.
1926 Eerste Wetgewende Vergadering vir Suidwes-Afrika gestig.
1929 Vestiging van Angola-Boere in Suidwes-Afrika.
1939 Suidwes-Afrikaanse Polisie ingelyf by die Suid-Afrikaanse Polisie. Administrasie van Caprivistrook deur Unie oorgeneem.
1946 Verenigde Volke weier die versoek dat Suidwes-Afrika by die Unie ingelyf word.
1949 Suidwes-Afrika kry ses setels in die Unie-Parlement.
1955 Handelsyfers van Suidwes-Afrika ingesluit by dié van die Unie. Verenigde Volke-debat oor Suidwes-Afrika. Unie word gevra om verslae in te dien.
1956 Eerw. M. Scott en ander lê getuienis af voor die Verenigde Volke.
1958 ‘Welwillendheidskomitee’ van die V.V. besoek Suidwes-Afrika.
1960 Suidwes-Afrika neem deel aan die Republikeinse Referendum in die Unie.
1961 Wêreldhof-verhoor begin oor die kwessie van Suid-Afrika se indiening van jaarverslae oor Suidwes-Afrika.
1962 Besoek deur V.V.-afgevaardigdes, dr. V. Carpio en dr. S.M. de Alva.
1963 Begin van geslaagde diamantherwinning uit die see.
1964 Odendaal-verslag oor die ontwikkeling van Suidwes-Afrika se hulpbronne en gebiede.
1966 Suid-Afrika wen saak in Wêreldhof. V.V. beëindig Suid-Afrika se mandaat.
1990 Namibië word onafhanklik.
1994 Walvisbaai word amptelik aan Namibië oorhandig.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|