Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
'n Spinnekop (orde Araneae) is 'n ongewerwelde roofdier met twee lyfsegmente, agt pote, en geen vlerke. Min spesies, met uitsondering van die knoppiespinnekop, is regtig gevaarlik vir die mens. Hulle het kake, maar geen koudele in die mond nie.
Die suidpunt van die vasteland van Afrika is net so ryk aan spinnekoppe as aan hulle verwante, die skerpioene, jagspinnekoppe en haarskeerders, wat die klas Spinagtiges uitmaak. Die Kaapse Skiereiland het waarskynlik meer soorte as die hele Wes-Europa.
Spinnekoppe kan in twee groot groepe ingedeel word volgens die wyse waarop hulle hulle omgewing benut. Die egte valdeurspinnekoppe en die groot harige bobbejaanspinnekoppe of tarantulas, soos hierdie Harpactirae verkeerdelik genoem word, is van die wêreld se grootste spinnekoppe en bedek maklik ’n piering as hulle bene uitgestrek is.
Albei hierdie soorte het vier longe en bokake wat in ’n vertikale vlak afwaarts beweeg, terwyl ander spinnekoppe twee longe het en bokake (giftig) wat soos ’n knyptang in ’n horisontale vlak beweeg. Al hierdie valdeurspinnekoppe woon ondergronds in sy-uitgevoerde gate; die van die ware valdeur-soort het ’n deur wat oop en toe gemaak kan word, terwyl die ander net ’n ruwe gat van een duim in deursnee maak wat sowat ’n voet diep is, waarvan die opening deur ’n dun web bedek word.
Al die oorblywende soorte (sowat 25 families) vorm ’n reuse-leër wat met die insekte kan meeding in die uiteenlopendheid van hulle struktuur en die verskeidenheid van hulle gewoontes.
Spinnekoppe het elke deel van die aardbodem verken behalwe die poolstreke. Mens tref hulle bewegingloos in spinnerakke tussen bome en struike aan, of waar hulle soos miniatuur-ape deur die gras spring; skaatsend op water of selfs onder water in agtervolging van hulle prooi; agter boombas of onder ’n boomstomp of, in Namibië (Suidwes-Afrika) waar hulle selfs deur die los duinsand grawe.
Die krapspinnekop is feitlik geheel en al aangepas vir ’n sittende lewe op blomme of gras. Hulle beskik oor twee lang voorbene en kragtige stekels wat knypers vorm waarmee hulle ’n besoekende by of vlieg in ’n oogwenk vasgryp; hulle is stadig en lomp en beweeg sywaarts; hulle enigste beskerming is onbeweeglikheid of die kleur van die plant wat hulle onopsigtelik maak. Hulle gee voorkeur aan wit, pienk, geel, groen of ’n dekoratiewe patroon van ryk sjokoladebruin. Die algemeenste krapspinnekop, Thomisus, is gewoonlik heeltemal wit of geel om te pas by die Kaapse tjienkerientjee. Nog ’n blomspinnekop, die Synaema, is heldergroen met ’n groot bruin merk op sy agterlyf.
Die reuse-Argyopidae-familie wat ’n wielvormige spinnerak weef, lewer sulke eienaardige variasies in vorm en grootte dat sommige glad nie soos ’n spinnekop lyk nie.
Hulle wissel in grootte van die groot silindriese Nephila, wat wydverspreid in Afrika en Madagaskar voorkom waar sy spinnerak van sterk goue drade soms om telegraafdrade saamgekoek is, tot die klein grotbewoners waarvan die spinnerak niks groter as ’n sent is nie. Tussen hierdie kry mens die grillige soorte soos die bosbewoner Gasteracantha, met vier kragtige stekels voor, agter en aan die kante - wat gewoonlik ’n rooi punt het. Nog een is die Pycnacantha wat soos ’n krimpvarkie met skerp stekels bedek is. Hierdie gepantserde soorte is altyd wyfies. Die mannetjies lyk soos onbeduidende, apologetiese dwergies langs hulle. Nog ’n eienaardige lid van die familie is die Tetragnatha, wat sy lang bene teen sy lyf vou en net soos ’n stokkie lyk. Hy bou sy spinnerak parallel bokant stroompies.
Nog ’n groot familie met ’n swak reputasie is die Lycosidae, of jagspinnekoppe. Hulle is sterk gebou met skerp oë en spring op hulle prooi. Een genus hiervan staan bekend as die Tarantula, waarskynlik vernoem na die dorp Tarentum in Italië.
Die enigste gevaarlike spesie in Suid-Afrika is die ‘knoppiespinnekop’ Latrodectus, en teengif word in die meeste tropiese lande waar dit voorkom, vervaardig.
Ter illustrasie van die oneindige rykheid in ons spinnekoplewe kan ons ’n verbeeldingsvlug na hulle erkende woonplekke onderneem. In ons tuin is die gewone tuinspinnekop, Argyope; 'n bietjie verder tussen jong bome of in plantasies, die Gasteracantha en die groot basspinnekop Caerostris met sy geriffelde rug wat moeilik teen die growwe bas sigbaar is; al hierdie spinnekoppe maak groot wielspinnerakke. Die Hersila, ’n plat vinnige spinnekop bewoon net die bas van bome.
Naby water tref ons die Tetragnatha en die pragtige silwer, rooi en groen spinnekop aan wat Leucage genoem word; die groot vlugtige waterspinnekop, die Thalassius vang vis deur met sy agterpote aan die kant vas te klou terwyl die voorpote liggies in die water hang waar hy na klein vissies of paddavisse soek.
In digte rankplante skuil die Palystes met sy lang bene - ’n wandelende soort wat ook teen mure van kamers aangetref word. Daar word ook die klein vlugtige spinnekoppe, die Oxyopidae, aangetref wat net sulke mooi kleurpatrone as die krapspinnekop het. ’n Groter heldergroen spesie woon net in die Helichrysum cooperi van die Drakensberg waar dit op insekte leef wat vasgevang word in die heldergroen taai blare.
Onder bossies vind mens soms ’n aantal klein spinnekoppe, elk met ’n klein wit sakkie wat agter hulle aangesleep word; dit is die moeders van die Pardosa, ’n klein soort Lycosid. Half verskuil onder bossies word ook die tregtervormige neste van ander wolf-spinnekoppe aangetref. In ons woonhuise kry ons die spinnerakke van die langbeenspinnekop of Smeringopus, ’n spinnekop wat van donker hoekies hou.
Springspinnekoppe is talryk en word oral aangetref. Hulle is klein, sterk gebou met enorme oë soos soekligte waarmee hulle 2 tot 3 duim ver kan fokus. Hulle kan die verste sien van alle spinnekoppe. Hulle bekruip hul prooi voordat hulle met 'n sprong daarop toesak.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.