Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Soogdiere (Mammalia)
Soogdiere [boodskap #123905] Sat, 12 January 2019 08:13
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Verskillende soorte soogdiere.
Verskillende soorte soogdiere.
Soogdiere is 'n groot groep warmbloedige diere in die klas Mammalia. Algemene eienskappe is hare op die lyf, 'n hart met vier kamers, ore met drie klein beentjies, 'n onderkaak wat uit een been bestaan en melkkliere waarmee kleintjies gevoed word. Die meeste leef op land terwyl 'n paar soos die dolfyn en walvis in die see voorkom. Die vlermuis is die enigste vlieënde soogdier. In Suid-Afrika is die jagluiperd die vinnigste landsoogdier, die kameelperd die langste, en die Afrika-olifant die grootste soogdier.

Suid van die 10de breedtegraad is daar sowat 350 spesies, waarvan 315 op land en 35 in die see voorkom. Landsoogdiere wissel van die klein spitsmuis wat ’n paar onse weeg tot olifante van 6 ton, terwyl seesoogdiere walvisse, dolfyne, doegongs en robbe insluit.

Hoewel Afrika se ryk fauna van bokke (39 spesies), en sy 38 spesies groot vleisetende diere die kalklig steel, is hulle onderskeidelike getalle ver minder as die 88 spesies knaagdiere (rotte, muise, eekhorings, ystervarke, ens.) en die 89 spesies vlermuise. Daar is sowat 14 soorte walvisse en baie dolfyne, terwyl Kaapse pelsrobbe van die Wes- en Suidweskus soms deur die swerwende see-olifante besoek word (en in een geval is ’n krapetende rob van Antarktika by hulle opgemerk).

Die hoogste orde van primate, chacma en geelbobbejane, die grys- en samango-ape is welbekend. Die bosapies van Zimbabwe (Rhodesië) is oulike troeteldiertjies. Die insektevreters sluit in die klein skerpneus spitsmuis wat selde deur mense gesien word. Krimpvarkies is nog redelik volop ten spyte daarvan dat hulle baie in aanvraag is as muti vir toorkunste. Vlermuise slaap in hul duisende in natuurlike grotte of bewoon die solders van huise en kerke. Die groot vrugtevlermuis rig groot skade aan vrugte aan; andersins is vlermuise waardevol in insektebeheer. Kruipmolle met hulle grondhopies is volop. Hulle moet nie verwar word met die vernielsugtige tandmol of grysmol nie. Interessant onder hulle is ook die reuseblesmol van Suidoos-Kaapland.

Vleisvretendes soos die jakkals, honde, vosse, katte en muishonde is swaar getref deur die koms van die beskawing in Afrika. Leeus, jagluiperds, hiënas en wildehonde word nou net in reserwes aangetref. Muskeljaatkatte, sivette, gryskatte, die klein muishonde en die klein dikvellige ratels, die klein vosse en die otters bestaan nog, terwyl die maanhaarjakkals feitlik heeltemal van termiete, ’n eienaardige dieet vir ’n dier wat verwant is aan die hond, afhanklik is. Dis feitlik nie nodig om kommentaar te lewer op olifante, renosters, seekoeie, varke, kameelperde en sebras nie. Die nagtelike erdvark wat sy lang kleefagtige tong in mierneste insteek vir sy kos, word min gesien. Die ietermagog met sy skilpadagtige verskansings is nou baie skaars. Die dassie is ’n groot plaag in gebiede waar wildekatte en jakkalse feitlik uitgeroei is. Die bosdassie is die beste bekend vir sy krassende skreegeluid.

Verskillende soorte soogdiere.
Verskillende soorte soogdiere.
Die boksoorte is nou hoofsaaklik beperk tot reservate of beskerm op plase. Vroeër was hulle so volop dat vroeë beskrywings na die veld verwys het as ‘bedek met wild so ver soos die oog kan sien’. Twee spesies is uitgewis; die bloubok van Suid-Kaapland, verwant aan die swartwitpens en die bastergemsbok; en die kwagga van die Kaapse binnelandse plato. Die bontebok, die bergsebra en die Kaapse hartbees het dieselfde lot vrygespring. Die wildebees, waterbok, eland, rietbok, koedoe, ens. bestaan nog. Die kleiner duiker, steenbok, bosbok, dik-dik, ens. is nie meer so volop nie. Interessant onder hierdie bokke is die klipspringer wat ’n growwe haar het in plaas van die gewone sagte haar.

Terwyl die groot soogdiere verminder het, floreer die onbeduidende knaagdiere. Ystervarke is volop; rietrotte so groot soos konyne bewoon die oostelike kusgebiede; springhase kom snags uit hulle gate en spring op hulle agterpote rond; meerkatte is volop in die binnelandse droë plato; eekhorings spring rats in die tropiese bosse van tak tot tak. Waterrotte, boomrotte, streepmuise, nagmuise, waaierstertmuise, klipmuise en veldmuise, elk in sy natuurlike plekkie is nie almal skadelik vir die mens nie. Rooihase, veldhase en rivierhase is oppervlaktebewoners, anders as die hase van Europa wat in gate woon.

Soogdiere is aanpasbaar by baie geografiese en klimaatswisselings. Sommige is beperk tot sekere houplekke, bv. bosse of water, maar baie spesies kom voor van die droë Kalahari tot by die subtropiese en tropiese kusgebiede van Zoeloeland en noordwaarts, en/of in die koue dele van Lesotho. Dié in die droë dele is in die algemeen ligter van kleur as dié in die klam dele. Soogdiere is grou van kleur, behalwe die sebras en katte, waar strepe en kolle voorkom. Die reuk-, gesig- en gehoorsintuie is uiters skerp in ’n wêreld van kwaai mededinging. Die horings wissel van die reguit puntiges van duikers tot die spiraalvormige horings van koedoes of die swaar kolosse van buffels. Soms het albei geslagte horings, soms het net die mannetjie die uiterlike sekondêre geslagskaraktertrekke wat nie primêr verdedigingswapens is nie. Die stinkmuishond skei ’n walglike vloeistof willekeurig af deur kliere wat onder sy stert sit. Die klein spitsmuis besit dikwels ’n muskusagtige reuk wat katte afskrik.

Vervreemde soogdiere wat deel geword het van die wilde fauna is die vernielsugtige huisrotte en muise; die boomeekhorings van die Kaap, aanloklik maar lastig; die damhert wat so aanpasbaar is dat hy dikwels ’n groter weerstand teen droogte het as baie inheemse bokke; en die Europese haas wat gelukkig beperk is tot kuseilande bv. Robbeneiland in Tafelbaai en Voëleiland in Algoabaai.

Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Sonvis
Volgende onderwerp: Sordwanabaai
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sun Dec 22 22:11:11 UTC 2024