Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Cecil John Rhodes was 'n staatsman en ryksbouer, en van al die Engels-sprekende persone die man wat die grootste invloed gehad het op die geskiedenis van die vasteland van Afrika. Op 5 Julie 1853 in die Engelse dorp Bishop’s Stortford gebore as seun van ’n predikant, eerw. Francis Rhodes. Ontvang sy opleiding aan ’n plaaslike skool en word op 17-jarige ouderdom as gevolg van sy swak longe na Natal gestuur waar sy broer, Herbert Rhodes, reeds in die Umkomaasvallei begin boer het. Die boerdery was egter nie suksesvol nie en die ontdekking van diamante asook die stigting van New Rush (Kimberley) het Cecil Rhodes in 1871 beweeg om na dié sentrum te verhuis. Sy eerste pogings om geld te maak het ingesluit delwery, die pomp van water van kleims af en die vervaardiging van ys. Hierdie ondernemings het gefloreer en teen die tyd dat hy 20 was, was Rhodes in staat om een van sy belangrikste ideale te verwesenlik, naamlik om aan Oxford te studeer. Hy het ’n jaar lank daar gebly, tot 1873, maar is as gevolg van die hervatting van sy longkwaal genoodsaak om na Kimberley terug te keer. In 1876 was hy weer terug in Oxford as ’n lid van Oriel-kollege en het voluit gebly tot 1878.
In 1877 het hy sy eerste testament opgestel, reeds bedoel om die uitbreiding van Britse mag oor die wêreld aan te moedig. Hy keer na Kimberley terug, en sy vermoë om geld te maak, maak hom een van die rykste persone daar. In 1880 het hy nie net die De Beers Diamond Mining Company (moenie verwar word met De Beers Consolidated Mines nie), gestig nie, maar is ook as lid vir Barkly-West tot die Kaapse Parlement verkies. Hy het hierdie werk met sy studies in Oxford afgewissel waar hy in 1881 ’n graad verwerf het. Hoewel Rhodes in die Parlement bekend was vir sy sterk Britse idees, het hy tog hoë agting gehad vir Hollandssprekende Afrikaners. In 1882 neem hy deel aan die pogings om beheer uit te oefen oor die Boerevrybuiters aan die grens van Betsjoeanaland, Stellaland en Gosen. In 1884 het hy sy eerste aanstelling in die Kaapse Kabinet gekry toe hy vir ’n kort tydperk Tesourier van die Kolonie was. Hy het reeds aandag begin gee aan die uitbreiding van Britse gesag na die noorde, anderkant die Limpoporivier. Hy het erken dat Kruger sy belangrikste opponent was en het dit sy lewenstaak gemaak om die Boere se pogings om hom in die wiele te ry, te verydel. Een van sy eerste groot suksesse was die proklamasie van die Britse gesag oor Betsjoeanaland.
Met die ontdekking van goud aan die Rand en by Barberton het Rhodes sy geld hierin belê en in 1887 stig hy die Goldfields of South Africa, voorloper van die Consolidated Goldfields of South Africa. Teen hierdie tyd het hy hom hard beywer vir die samesmelting van die diamantmyne van Kimberley. Hy behaal die oorwinning oor sy teenstander, Barney Barnato en verkry die heelhartige ondersteuning van Alfred Beit. Hy het ook die finansiële steun van die Rothschild-belange in Londen verkry. Nadat hy kontakte met verskeie handelaars en avonturiers in die verre noorde tot stand gebring het, het Rhodes in 1888 vir Charles Dunell Rudd, sy Kimberleyse vennoot, na Gubulawayo gestuur om ’n konsessie vir die mineraleregte in Matabeleland van Lobengula te verkry. Deur die stigting in dieselfde jaar van De Beers Consolidated Mines Ltd., is die samesmelting van die diamantbelange afgehandel.
Hy het nog twee testamente opgestel waarin hy in elkeen sy plan vir die beveiliging van die Britse mag oor die wêreld duideliker uiteengesit het. Die vergunning van die konsessie deur Lobengula het die stigting van die British South Africa Company in 1889 geregverdig en Rhodes het begin met sy planne vir die inbesitneming van Masjonaland. Die volgende jaar is hy verkies tot Eerste Minister van die Kaapkolonie. Met die nuus dat die Pioneer Column Fort Salisbury bereik het, het hy voortgegaan met sy skema vir die bou van die spoorlyn van die Kaap tot by Kaïro. Reeds in Engeland is Rhodes beskou as een van die belangrikste figure van die tyd en sy afgesante het reeds ver benoorde die Zambezi gewerk onderwyl hy voorbereidsels getref het om Maputo (Lourenço Marques) van die verarmde Portugese te koop. As Eerste Minister het hy daarin geslaag om Pondoland in Oos-Kaapland te beset en te annekseer. Talle ambisieuse skemas het nie alleenlik vorm aangeneem nie, maar is deur hom ten uitvoer gebring. Hy het gehelp met die verlenging van die Kaapse spoorlyn deur die Oranje-Vrystaat na Johannesburg. Hy het ’n groot stuk grond buite Kaapstad gekoop waar hy sy herehuis, Groote Schuur, gebou het. Hy het ’n skema opgestel vir die bou van ’n Kaap-na-Kaïro-telegraaflyn, hy het hom bearbei vir die grootskeepse instelling van nuwe nywerhede in Suid-Afrika, en het reuse-bedrae geld in die land gestort wat kort daarna ter ere van hom Rhodesië (tans Zimbabwe) genoem is. Bewus van die feit dat die naturelleprobleem allesoorheersend in Suid-Afrika was, het hy ’n groot stap vorentoe geneem om ’n oplossing te vind deur die instelling van die Glen Gray-wet, Hy het ook ’n aansienlike aandeel gehad in die oopstelling van Brits-Oos-Afrika. In 1895 word hy ’n lid van die Geheime Raad.
Die onversetlikheid van president Kruger in sy weiering van toegewings aan Uitlanders te doen, het in 1895 daartoe gelei dat Rhodes hom vereenselwig het met die beweging wat uitgeloop het op die Jameson-inval. Die mislukking van hierdie ekspedisie, wat gelei is deur dr. Jameson — een van sy intiemste vriende — het ’n permanente breuk tussen hom en die Afrikaners in die Kaap veroorsaak asook sy bedanking as Eerste Minister van die Kolonie en as besturende direkteur van die Chartered Company. ’n Ernstige rebellie het in Rhodesië losgebars wat Rhodes, wat die grootste moed aan die dag gelê het, uiteindelik beëindig het deur die Matopo’s ongewapen in te loop om met die opstandige naturelle te onderhandel. In 1897 is die spoorlyn tot by Bulawayo gebou. Dit was nog 'n persoonlike sukses vir hom. Hy het hom groot vyandskap in sowel Brittanje as in Suid-Afrika op die hals gehaal met sy aandeel in die Jameson-inval en hoewel hy in 1898 weer besturende direkteur van die Chartered Company geword het, het die Tweede Vryheidsoorlog sy ambisies vir die stigting van ’n Suid-Afrikaanse Unie die nekslag toegedien. Hy was verantwoordelik vir die oprigting van ’n groot dinamietfabriek buite Kaapstad en die beplanning van die beroemde Rhodes-vrugteplase naby Groot Drakenstein. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 hy homself in Kimberley bevind waar hy tydens die beleg gebly het, maar hy was haaks gewees met die militêre bevelvoerder, kolonel Kekewich.
In sy later jare het sy gesondheid baie verswak en hy is op 26 Maart 1902 in Muizenberg oorlede. Hy is by ‘World’s View’ in die Matopoheuwels in Zimbabwe (Rhodesië) begrawe. Vir die bepalings van sy testament, sien Rhodes-beurse.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.