Reg [boodskap #123492] |
Sa, 05 Januarie 2019 08:18 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Die reg is al die reëls wat deur bevoegde owerhede in 'n samelewing neergelê is. Die doel daarvan is om die gedrag van en verhouding tussen regsubjekte te reguleer. Strawwe word instel wat daarop gemik is om afwykende gedrag en versteurde verhoudings reg te stel.
Die fondament van die Reg van Suid-Afrika — die Gemene Reg — is die Romeins-Hollandse Reg. Tensy dit in onbruik verval of herroep word deur ’n statuut, bly die plakkate van die State van Holland, wat voor 1652 ingestel is, selfs vandag nog bindend. Dié wat tussen 1652 en 1806 aanvaar is, is nie bindend nie tensy dit in Suid-Afrika uitgevaardig is, bv. die Plakkaat van 1658 met betrekking tot Pagters. Toe die Kaap in 1806 aan Brittanje oorgedra is, het die Gemene Reg onveranderd gebly ten spyte van die pogings wat deur sekere Engelse regters aangewend is om die Engelse Reg in te stel. Nietemin is die Reg van Engeland, wat meer ontwikkeld en weinig in stryd is met Romeins-Hollandse Reg, op sekere gebiede geleidelik in die Suid-Afrikaanse stelsel opgeneem. Voor Uniewording het elk van die kolonies en state afsonderlike wetgewende liggame gehad, en die Suid-Afrika Wet het daarvoor voorsiening gemaak dat die wette van elke provinsie van krag moet bly totdat dit deur die Parlement herroep word. Sedert 1910 is die Parlement die hoogste wetgewende gesag hoewel die Provinsiale Rade soewereine magte binne sekere bepaalde grense het (sien Grondwet). Hoewel elke provinsie op sekere gebiede nog onafhanklike wetgewing behou, het die Parlement talle ‘Konsolideringswette’ goedgekeur om die Reg dwarsdeur Suid-Afrika gelykvormig te maak (bv. administrasie van boedels, landdroshowe, kriminele prosedure, registrasie van akte, ens.). Op ander gebiede het die Parlement die wetgewing van ander lande, veral Engeland, oorgeneem of gekopieer (getuienis, insolvensie, maatskappye, ens.). Net so is die Inkomstebelasting-wetgewing in ’n groot mate oorgeneem van Australië. Daar is desnieteenstaande ’n massa wetgewing wat oorspronklik is en dikwels dié van ander lande in die wêreld voor is. Tot 1950 kon appèl teen beslissings van Suid-Afrikaanse howe by die Geheime Raad aangeteken word. Die Appèlafdeling van die Hooggeregshof het toe, met die herroeping van Seksie 106 van die Suid-Afrika-Wet, die hoogste gesag geword. Ingevolge die leerstelling van stare decisis, sal ’n hof altyd sy eie beslissing volg tensy hy duidelik verkeerd is, maar ondergeskikte howe is verplig om die beslissings van ’n hoër hof te volg ongeag sodanige oorwegings.
Die beslissings van vreemde howe is nooit bindend nie, maar is van oorredende gesag, veral in die gevalle waar die wetgewing en Gemene Reg ooreenstem. In Zimbabwe (Rhodesië) is die Romeins-Hollandse Reg, soos dit bestaan het ten tye van die oorspronklike besetting in 1890, van die begin af ingestel en nog bindend behalwe waar dit deur statuut gewysig is. Tot 1955 kon appèl teen beslissings van die Hooggeregshof van Zimbabwe (Rhodesië) by die Appèlafdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika in Bloemfontein aangeteken word, maar die gebruik is nou laat vaar. Die Reg van Zambië en Malawi is gebaseer op dié van Engeland soos gewysig deur die statuut.
Sedert die besetting van Suidwes- Afrika in 1915 is sy Reg dieselfde as dié van Suid-Afrika, tensy dit gewysig is deur plaaslike ordinansies. Romeinse Reg is nog van toepassing op sekere ouer eiendomsreg en mynregte. Die Reg van Mosambiek is basies dié van Portugal waarby sekere plaaslike be- palings gevoeg is. Sien ook Kriminele Reg en Romeins-Hollandse Reg.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|