Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Plant
Plant [boodskap #123360] Do, 03 Januarie 2019 16:20
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Verskeie plante.
Verskeie plante.
Plante is een van die koninkryke van lewende organismes, wat bome, blomme, kruie, en varings insluit. Die meeste plante beskik oor chloroplaste wat fotosintese moontlik maak en suurstof vrystel. Dit maak die Aarde vir mense, visse en ander diere bewoonbaar.

In ’n breë opname kan die plantegroei van Suid-Afrika in drie hoofklasse verdeel word, die eerste wydverspreid en die ander twee betreklik plaaslik. Dit is: (1) die vernaamste flora van Afrika; (2) die gordel van half-woestynstruike wat strek van die Namib in Namibië (Suidwes-Afrika) tot die Karoo in die suide, en (3) die kleinblarige bosse, bekend as Kaapse flora wat die hoogste ontwikkel is op die berge en langs die kusstreek van die suidweste. Die vernaamste flora van Afrika strek oor die hele tropiese Afrika en suidwaarts na alle provinsies van die Republiek. In Kaapland is dit egter beperk tot die oostelike deel en eindig dit suid van Oos-Londen. Die meeste kenmerkende aspekte van die omvattende flora word in die trope aangetref.

Klimaat, veral reënval en ook die teenwoordigheid of afwesigheid van ryp en die soort grond, bepaal plantegroei. Die optimum toestande waaronder bosse ontwikkel, is nie volop in Suid-Afrika nie.

Parklandskappe met gras of lae struike tussen die bome kom die meeste voor in tropiese gebiede. Waar die reënval verminder of wisselvallig is, is die bome kleiner en word dit uiteindelik deur bosse, dikwels van ’n doringrige aard, vervang. Dit word oor groot dele van die Kalahari aangetref, en groot gebiede daarvan is nie die woestyn van fiksieskrywers nie, maar uitstekende beeswerêld.

’n Groot verskeidenheid bome en struike word aangetref. Soms oorheers een besondere soort die landskap, soos die Brachystegia-spesies in Zambië, Angola en Tanganjika. Die noordelike dele van die Krugerwildtuin is bedek met mopanebome (Colophospermum mopane), of in die droër dele, met mopanebosse.

Sommige van die bome is besonder treffend, soos die reuse-kremetart (Adansonia digitata) waarvan die omvang van die stam soms groter as die lengte van die boom is. Nog een wat nie maklik misgekyk word nie, is die sierlike koorsboom (Acecia xanthoploea) waarvan die stam en takke vaalgeel is. Soos die volksnaam aandui word dit aangetref in moerasagtige gebiede waar malariamuskiete volop is. In droër gebiede groei die eienaardige noorsdoring. Aan die suidoostelike grens van dié flora groei die noorsdoring in groepe en gee 'n spookagtige voorkoms aan die landskap.

In die Hoëveld van Transvaal en dele van die Oranje-Vrystaat waar kwaai ryp voorkom, maak die bome en struike plek vir grasland waarvan die weelderiger soorte aan die seekant van die Drakensberg in Natal voorkom. Albei soorte is uit die Afrika-flora en is verwant aan die wat verder noord voorkom.

Die streek van halfwoestynstruike begin in Namibië (Suidwes-Afrika) as ’n kusstreek wat wissel in wydte en strek oor die Oranjerivier tot in Wes-Kaapland aan die bergreekse van die suidweste. Die Langeberg en die Outenikwaberge vorm die suidelike grens. Op ander plekke, veral in die ooste, is die grense vaag tussen dié en die vernaamste Afrika-flora.

Die laagste reënval is langs die westelike kusstreek waar dit 5 duim of minder per jaar is, en waar geen reën soms vir jare val nie. Merkwaardige plante word hier aangetref. Die mees gevierde is waarskynlik die Welwitschia mirabilis noord van Walvisbaai, die enigste plek in die wêreld waar dié lid van die laer saaddraende plante voorkom. Streng beskerming was net betyds om dit van uitwissing te red. In dieselfde streek groei die ‘naras’, ’n stekelagtige en skynbaar blaarlose lid van die pampoenfamilie. Die vrug daarvan is deur die inheemse bevolking geëet.

Die suidelike deel van die streek, die Karoo (’n Khoikhoi-woord wat kaal beteken), het ’n hoër reënval hoewel dit selde 10 duim per jaar oorskry. Die plantegroei bestaan uit lae bosse op kaal veld. In die Ceres-Calvinia-Karoo en die Klein Karoo is vetplante volop, maar dit neig om te verdwyn namate die terrein hoër is en ryp voorkom. In die plek daarvan kom klein, knoetserige bosse wat, omdat dit nie die vermoë van vetplante het om water te hou nie, ’n tydperk van rus binnegaan en op die oog af dood lyk. Na swaar reën groei dit egter weer sterk en blare en blomme verskyn. Talle jaarplante en rustende bolplante dra ook by tot die skielike lewe en verander die Karoo in ’n kort tydjie in ’n veelkleurige blomtuin. Onder die baie min plante wat maande lank kan groen bly as die reën wegbly, is die doringboom (Acacia karroo) en die kareeboom (Rhus lancea), wat langs waterlope groei en hulle wortels diep onder die aarde indring na onderaardse water.

Kenmerkend van die Kaapse sklerofiel is die proteas, heide, malvas, sekere rietsoorte en talle genera en selfs families vreemd aan die streek. Al die hoër berge van die suide en suidweste is bedek met Kaapse plante, en so ook die kusstreek van St. Helenabaai tot by Port Elizabeth. Die Kaapse flora is nie net heeltemal anders as al die ander in Afrika nie, maar is een van die rykste, indien nie die heel rykste nie, in die wêreld. Die sametrekking van spesies in die suidwestelike hoek van die land met sy winterreën was nog altyd ’n raaisel vir wetenskaplikes. Dit is die grootste in die Caledon-afdeling en verminder ordelik noordwaarts en ooswaarts. Eienaardig genoeg word spore van die flora aangetref op berge dwarsdeur Afrika suid van die Sahara. Dikwels word sommige van die spesies ook aangetref teen die boonste hange van die hoër berge van tropiese Oos-Afrika sonder ’n spoor daarvan op die laaglande daartussen. Mens moet aanvaar dat dit oorblyfsels is van ’n flora wat eens die hele Afrika bedek het en dat die berge met hulle groot verskeidenheid klimaatstoestande ’n bewaarplek daarvoor was.

Die Kaapse flora is in wese bergplante en ouer as die van die Karoo en tropiese Afrika. Sommige plantkundiges meen dat dit die oorblyfsel is van ’n ou suidelike flora en verklaar dus die ware, maar veraf ooreenkoms met dié van Wes-Australië. Ander meen dat dit ’n noordelike oorsprong het en dat die geïsoleerde berge in Sentraal-Afrika bewys lewer van die suidwaartse migrasie daarvan.

Bosse is skaars in Suidelike Afrika en die immergroen tipe wat heeltemal van dié in die Trope verskil, kom voor in die Knysna- en Humansdorp-afdelings waar die reënval dwarsdeur die jaar gelykmatig is. Die vernaamste bome is geelhout (Podocarpus), ysterhout (Olea), stinkhout (Ocotea), ens. Dieselfde soort bosse groei ook in beskutte klowe in die berge van die suidweste en teen die berge van Oos-Afrika. Hulle oorsprong is net so geheimsinnig soos dié van die Kaapse flora.

Blomplante is betreklike nuwe aankomelinge op die aardoppervlakte. Geen spoor daarvan kan in die ouer afsettingsgesteentes gevind word waar die versteende oorblyfsels van meer primitiewe soorte plante volop is. In die tyd van die ontstaan van die Karoorots het ’n koue gematigde flora, bekend as Glossopteris, gefloreer. Dit was saamgestel uit primitiewe saaddraende plante, varings en hulle verwante, maar geen blomplante nie. Versteende plante van die flora is gevind in die meeste lande van die Suidelike Halfrond wat nou vér geskei is deur die see. Varings is nog deel van ons moderne flora, maar die Glossopteris en sy verwante het verdwyn.

Laer vorms van plantelewe, soos mos, lewerkruid, wiere, fungus en kosmos is net soos elders ook volop in Suid-Afrika, maar toon nie in dieselfde mate die inheemse kenmerke van die hoër ontwikkelde plante nie.

Deur M. LEVYNS, Universiteit van Kaapstad
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Listeriose
Volgende onderwerp: Platanna
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Nov 22 19:01:10 MGT 2024