Inligting Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Stephanus Johannes Paulus (Paul) Kruger was die laaste President van die Suid-Afrikaanse Republiek, en algemeen erken as die grootste persoonlikheid wat die Afrikanerdom opgelewer het. Van Duitse oorsprong. Sy familie kom van die Uckermark, noord van Berlyn, waar die van nie onbekend is nie. Hy het self sy van met 'n "Umlaut" geskryf. Volgens navorsing deur professor C.J. Uys van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat is president Kruger nie op Steynsburg gebore nie, maar op die plaas Zoutpansdrift naby Venterstad. Dit is ook moontlik dat sy geboortedatum van 10 Oktober 1825 verkeerd is. Sy vader, Kasper Jan Hendrik Kruger, en sy moeder, Elsie Fransina Steyn, het by die Groot Trek aangesluit, en die jong Paul het al die ontberings van die tyd deurgemaak. Op 15 jarige ouderdom is hy erken as 'n burger en toe hy 17 was trou hy en gaan vestig hom op sy plaas, Waterkloof, naby Rustenburg in Transvaal. Op een van sy jagtogte het hy sy eie duim afgesit. Hy word 'n sterk voorstander van die Gereformeerde Kerk (Sien Doppers) en was 'n lekeprediker van die kerk tot met sy dood.
Hy neem deel aan verskeie Kaapse Grensoorloë en in 1854 toon hy buitengewone heldemoed deur die lyk van kommandant Potgieter uit die beleërde bergvesting van hoofman Makapan te gaan haal. Sy volgehoue pogings om die Oranje-Vrystaat en Transvaal te verenig, het misluk. Tydens die daaropvolgende burgeroorlog het hy Van Rensburg gesteun en Potchefstroom verower. Na die mislukking van president Burgers se uiters ambisieuse program, word hy een van die steunpilare in die nasionale weerstand teen die Britse se anneksasiebeleid. Nadat Shepstone die Britse vlag in 1877 gehys het, sluit Kruger aan by die protesafvaardiging na Londen en beïndruk almal met sy aangebore bekwaamheid as bemiddelaar. Toe dit misluk, konsentreer hy op anti-Britse propaganda onder sy eie mense in Transvaal en as Onderpresident van die Suid-Afrikaanse Republiek onderneem hy nog 'n vrugtelose deputasie na Londen en Europa in 1878.
Van nou af aan bou hy weerstand op teen die Britse administrasie en toe die ware opstand in 1880 begin, word hy 'n lid van die Driemanskap. Hy woon die vredesonderhandelings by en as Onder-president belê hy 'n buitengewone sitting van die Volksraad wat die Konvensie van Pretoria bevestig. In 1883 word hy die verkose President van die Suid-Afrikaanse Republiek en word hy die oorheersende persoonlikheid. Met die ontdekking van goud op Barberton en aan die Witwatersrand en die geweldige toestroming van immigrante kom hy voor die grootste probleem van sy lewe te staan; die regverdige versoening van die oorheersing van die Boere met die immigrante. Hy kon nie daarin slaag om 'n hawe naby St. Luciabaai te kry nie, en skermutselings vind gedurig op die grens van Swaziland en in die gebied aangrensende Betsjoeanaland (nou Botswana) plaas waar die Britse soewereiniteit met die Transvaalse mag gebots het. Hy moes ook sy burgers teëhou om nie die Limpopo oor te steek nie ten einde wrywing met Rhodes te voorkom. Toe hy in 1888 die tweede keer tot President verkies word, is sy botsings met Rhodes feller.
Sekere Uitlanders was vriendelik, maar ander was uiters vyandiggesind. Om die Britse invloed te balanseer, het hy baie Hollandse amptenare ingebring onder leiding van die Staatsekretaris, dr. W.J. Leyds. Hy was ook ten gunste van die bou van 'n spoorlyn na Lourenço Marques (nou Maputo) voordat enige spoorlyn deur Britse gebied voltooi sou word, maar slaag nie daarin nie. In Europa het hy egter simpatie en bewondering gewek met sy diplomatieke vaardigheid en het Prins Bismarck besonder beïndruk. In Transvaal word hy te midde van oorweldigende probleme daarvan beskuldig dat hy doelbewus die ontwikkeling van die Rand strem, van nepotisme, van korrupsie en baie ander dinge. Aan die ander kant word hy al hoe meer deur sy eie mense vereer. Pogings om die toestand tussen die Uitlanders en die Regering die hoof te bied, word tot niet gemaak deur die Jameson-inval teen die einde van 1895. Die leiers van die Britse saak, veral Cecil John Rhodes, Joseph Chamberlain en lord Milner, het daarop aangedring dat die Uitlanders stemreg moet kry maar Kruger het geweier omdat hulle die burgers in getalle oortref het.
Teen die tyd dat hy gereed was om 'n kompromis te maak, was die Tweede Vryheidsoorlog onvermydelik. Hoewel hy baie matig was in sy behandeling van die Jameson-invallers, wat hy vir verhoor aan Brittanje oorhandig het, en die 'Reformers', waarvan hy die vonnisse opgehef het tot boetes en verbanning, kon hy nie langer die posisie die hoof bied nie. In 1898 is hy met 'n groot meerderheid herkies en die oorlog breek uit in Oktober 1899. Omdat hy reeds ouer was as 74, sy gesondheid swak was, en hy nie meer self in die veld kon gaan nie, het hy verskeie besoeke aan die kommando's gebring en in Pretoria gebly tot 29 Mei 1900, 'n paar dae voordat dit deur die Britte beset is. Op 21 Oktober 1900 vertrek hy met die oorlogskip, die Gelderland wat deur Koningin Wilhelmina na Lourenço Marques gestuur is, na Europa. Hy gaan eers na Frankryk, en daarvandaan na Holland, waar hy tot die einde van die oorlog bly en sy uiterste bes doen om hulp vir die Boererepublieke te kry. Daar begin hy ook sy herinneringe dikteer. Hy verhuis na Switserland waar hy op 10 Julie 1904 oorlede is. Hy is op 16 Desember 1904 begrawe in die Ou Begraafplaas in Pretoria.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.