Johannesburg [boodskap #122329] |
Di, 18 Desember 2018 20:14 |
|
Inligting
Boodskappe: 4588 Geregistreer: November 2018
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Johannesburg is die grootste stad in Suidelike Afrika en derde grootste in Afrika (Kaïro en Lagos het meer inwoners). Die stad is vroeg in 1886 gestig toe die eerste tente in Ferreira se kamp opgeslaan is. Die eerste dorpsgebied is tussen 19 Oktober 1886 en 3 November 1886 op die plaas Randjeslaagte uitgelê en op 18 November 1886 het die verkoping van die nuwe 'standplaasdorp' plaasgevind.
Volgens wyle James Gray se navorsing is die stad vernoem na veldkornet Johannes Petrus Meyer. Die groei van die nuwe gemeenskap het teen 'n fantastiese tempo plaasgevind en binne 'n jaar is die bevolkingsyfer geskat op 10,000. Tussen Natal-kamp (nou Jeppestown) en Ferreira-kamp is die sentrale dorpsgebied van Johannesburg uitgelê. Uitbreidings is gou geproklameer in Marshallstown na die suide en Braamfontein na die noorde en elders. Teen 1889 het die stad reeds beskik oor perdetrems en in 1890 is die eerste elektriese liginstallasies opgerig. In die vroeë jare 1890 het deftige voorstede ontwikkel op Hospitaalheuwel en in Parktown.
Teen 1895 was daar in Johannesburg 100,000 van allerhande nasionaliteite waarvan ongeveer die helfte blank was. Nieteenstaande hierdie snelle groei het die Boere-owerheid nie munisipale status daaraan toegeken nie en die administrasie is voortgesit deur 'n Sanitêre Komitee wat van die heel begin van die gemeenskap af gefunksioneer het. In 1897 is 'n gewysigde vorm van munisipale bestuur aanvaar onder 'n burgemeester wat deur die Boere aangestel is. Hierdie toestand het voortgeduur tot die Tweede Vryheidsoorlog. Op 31 Mei 1900 is Johannesburg deur die Engelse beset en onder militêre gesag geplaas wat tot 1901 voortgeduur het. Lord Milner wat in die groot toekoms van die stad geglo het, het sy hoofkwartier daar gemaak. Hoewel die administrasie later na Pretoria verskuif is, het dié van die Spoorweë en Mynbou daar gebly. In 1904 is Johannesburg se eerste Stadsraad verkies en 'n bestuurstelsel is aanvaar wat nog bestaan. Talle buitevoorstede het saamgesmelt en die stadsgebied het van 8 tot meer as 80 vierkante myl uitgebrei. Tremspore is na die noorde en die suide aangelê en in 1906 is die stelsel geëlektrifiseer. Die skouspelagtige groei het voortgeduur en die bevolking het gestyg na 237,000 in 1911 en na 381,000 in 1931.
Die hoeksteen van die huidige stadsaal is in 1910 deur die Hertog van Connaught gelê en die gebou is in 1915 voltooi. In 1922 het die oorspronklike Transvaalse Universiteitskollege, wat toe bekend gestaan het as die Suid-Afrikaanse Mynskool, die Universiteit van die Witwatersrand geword.
Afgesien van die goudmyne wat nog 'n groot rol in die stad speel, is Johannesburg verreweg die grootste fabrieksnywerheidsentrum in Suid-Afrika en is ook verantwoordelik vir meer as die helfte van die bankverrekenings. Sy nywerhede bestaan uit ingenieurswese, brouery, koringmeulens, klerasie en chemikalieë. Dit is een van die vernaamste opvoedkundige sentrums in Suid-Afrika met verskeie inrigtings insluitend 'n Kunsskool en Tegniese Kollege. Die netto munisipale inkomste vir die jaar geëindig 1960 was nagenoeg R52,000,000.
Die hoogste punt is Observatory-heuwel, 5,925 voet bo seespieël, en die laagste naby die Dieretuinmeer, amper 1,000 voet minder. Die laaste trems is in 1961 geskrap. As gevolg van die ernstige verkeersprobleme is verskeie brûe in die stad gebou en voorbereidings is getref vir die oprigting van klawerbrûe en ander hoofroetes. Die spoorwegstasie was 10 jaar lank onder konstruksie en het meer as R20,000,000 gekos.
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967
Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
|
|
|