Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Insek (Insecta)
Insek [boodskap #122298] Tue, 18 December 2018 05:13
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Insekte
Insekte
'n Insek (klas Insecta) is 'n geleedpotige diertjie met ses pote en 'n gesegmenteerde liggaam. Die liggaam van 'n insek is in drie verdeel: die kop, borsstuk en agterlyf, alhoewel die verdeling nie altyd duidelik is nie. Hulle het gelede pote en sommige het ook 'n duidelike eksoskelet.

Al die groot insekte-ordes is goed verteenwoordig in Suidelike Afrika. Onder die Orthoptera (kakkerlakke, grassprinkane, krieke ens.) is die belangrikste die bruinsprinkaan, Locastana pardalina. Vroeër was dit 'n baie ernstige plaag wat in groot swerms oor die land getrek en ernstige skade aangerig het, maar deesdae word die broeiplekke in Noordwes-Kaapland fyn dopgehou en swerms word in hulle beginstadium uitgeroei. Dikwels word die Republiek uit Sentraal-Afrika binnegeval deur die rooisprinkaan, Nomadacris septemfasciata, maar die spesies word ook min of meer onder beheer gehou deur 'n internasionale organisasie met sy hoofkantoor in die omgewing van die Tanganjika-meer.

Daar is sowat 150 spesies termiete in Suid-Afrika wat aan die orde Isoptera behoort waarvan daar 1,800 spesies in die wêreld is. Twee spesies primitiewe houttermiete is per abuis die land ingebring - die Wes-Indiese droëhout-termiet, Cryptotermes brevis, 'n plaag in Durban en Port Elizabeth, en die Oosterse klamhouttermiet, Coptotermes formosanus, in Simonstad. Die skadelikste inheemse spesie is die swamtermiete soos die Macrotermes natalensis, wat in die warmer gebiede aangetref word en groot skade aan hout in geboue aanrig. Die grasvretende termiete, Hodotermes en Trinervitermes is baie algemeen en vernielsugtig in die grasveldstreke.

Die groot orde wat plantluise, dopluise Hemiptera, insluit, is groot plae. 'n Aantal hiervan is nie inheems nie, maar is van oorsee af ingebring en kom nou wydverspreid voor en is goed ingegrawe; dit sluit in die Australiese kewer, Icerye purchasi, verskeie dopluise soos die rooi dopluis, Aonidiella aurantii, en bladluise. Die plantluis wat die land ingekom het, verskil van sy Europese maat in dié opsig dat geen mannetjies in Suid-Afrika aangetref word nie. Die meer geskikte klimaat hier stel die partenogenetiese wyfies in staat om onafgebroke dwarsdeur die jaar te broei. Sonbesies is algemeen en hulle skril geseis is sinoniem met die warm weer.

Onder die skoenlappers en motte, Lepidoptera, is daar baie treffende en pragtige spesies soos die silwerkol spookmot, Leto venus, van die Knysna-bosse, die pylstertmot en die pouoogmot, die swaelstertmot, die perlemoermot, ens. Uit 'n landbou-oogpunt is sommige van die kleiner soorte baie belangriker weens die skade wat hulle aanrig. Daar is byvoorbeeld die kommandowurm, 'n klein donkerkleurige wurm van sowat 'n duim lank wat soms in hulle duisendtalle verskyn en weiding oor groot gebiede verorber. Die mot wat uit die wurm ontwikkel, Laphygma exempta, is sowat 1.5 duim van vlerkpunt tot vlerkpunt met donkerbruin voorvlerke en ligte agtervlerke. Die wurms verskyn skielik in groot getalle en verdwyn dan. Die kodlingmot, Cydia pomonella, is een van die baie spesies wat die land ingebring is en ernstige plae geword het.

Dit sluit in motte (drie spesies), diamantrugmot, Plutella maculipennis, ('n pes in kool), die Mediterreense meelmot, Ephestia kuhniella, die wasmot, Galeria mellonella, die Amerikaanse bolwurm, Chloridea obsoleta, en baie ander. Die turksvymot, Cactoblastis cactorum, is 'n aantal jare gelede doelbewus ingebring om die turksvyplaag te beheer, maar parasiete, siektes en bobbejane het die werk gedoen. Sommige inheemse motte het hulle aandag gewend na tuinplante en 'n pes geword; dit sluit in die sakwurm Acanthopsyche junodi, die mieliekewer, Calamistis fusca, die vrugtemot soos die Achaea lienardi, en ander.

Onder skoenlappers is die treffendste verskynsel dit wat bekend staan as mimetisme. Sommige spesies soos die koningskoenlapper, Danaus chrysippus, se onwelriekende geur skrik voëls, akkedisse en paddas af. Ander spesies soos die mannetjie-swaelstertnabootser (Papilio dardanus), word nie op dié wyse beskerm nie, maar die wyfie lyk so baie na die onwelriekende spesie dat net 'n opgeleide insektekundige hulle kan onderskei.

Die ooreenkoms mislei blykbaar die insektevreters sodat hulle die eetbare spesies met rus laat. Daar is altesaam vyf soorte swaelstertnabootserwyfies, elkeen met dieselfde kleur, merke en grootte van 'n onsmaaklike spesie. Die mannetjies lyk almal eenders, swart en geel, en word nie op dieselfde wyse as die wyfies teen insektevreters beskerm nie.

Torre, Coleoptera, verteenwoordig 'n enorme groep van 'n paar duisend spesies waaronder daar besondere grotes en pragtiges is. Ons grootste houtkewers word tot 4 duim lank. Die Scarabaeidae, die familie wat die miskruier insluit, is goed verteenwoordig as gevolg van die groot troppe plantetende soogdiere wat vroeër deur die land geswerf het. Onder die talle plae is die houtkewers soos die Lyctus-spesie, die koringkalander, Sitophilus, die bladvretende torre, Lema, en baie ander.

Onder die vlieë, Diptera, is baie spesies van groot ekonomiese belang.

Die tsetsevlieg en malariamuskiete wat hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik is dat Afrika so lank die Donker Vasteland was, is nou onder beheer in Suid-Afrika. Die drie spesies tsetsevlieë wat vroeër in Zoeloeland en die Laeveld van Transvaal aangetref is, is nou feitlik heeltemal uitgeroei, en die twee strafste malariadraers, Anopheles funestus en A. gambiae, is nie meer die bedreiging wat hulle vroeër was nie.

Vlooie, Aphaniptera, is nie so volop as wat verwag kan word nie omdat ons klimaat te droog is vir hulle. Nietemin is pes wat deur rotvlooie gedra word endemies oor 'n groot deel van die land omdat knaagdiere so algemeen is en hulle vlooie in die beskutte gate kan uitbroei. Dié gevaarlike siekte is egter deesdae heeltemal onder beheer. Die sandvlooi, Tunga penetrans, word in subtropiese gebiede aangetref, maar is nie 'n ernstige plaag nie.

Miere, bye en perdebye, Vliesvlerkiges, is talryk. Ons het sowat 400 spesies miere in Suid-Afrika, meer as tien keer soveel as wat in Brittanje is. Die grootste plaag is egter nie die inheemse mier nie, maar die Argentynse mier, Iridomyrmex humilis, wat in die laat 1800's uit Suid-Amerika na die Kaap gebring is en nou wydversprei is langs ons suidkus.

Daar is geen hommelbye in Afrika suid van die Sahara nie; hulle plek word ingeneem deur die swart-en-geel hommelbye wat hulle woonplekke in houtstompe en boomtakke het. Ons heuningbye is van dieselfde rasse as die heuningbye wat elders aangetref word. Die twee algemeenste en belangrikste staan bekend as die Apis mellifica adansoni, 'n geelband-soort, en Apis mellifica unicolour, 'n swart soort, wat glo in dié opsig merkwaardig is dat die lêende werkers sowel koninginne as hommels kan voortbring. Sien ook Spinnekoppe.

Oorspronklik geskryf deur S.H. SKAIFE, D.SC., Kaapstad
Bron: Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Isandhlwana
Volgende onderwerp: Jabavu, John Tengo
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sun Dec 22 18:28:24 UTC 2024